Suid-Afrikaners kry nou geldelik bitter swaar. Meer as 50% het reeds van hul spaargeld begin gebruik, en 37% is agterstallig met die betaling van huishoudelike rekeninge, wys die jongste peiling van die Old Mutual-­spaar-en-beleggingsmonitor.

Ons kyk na vyf maniere waarop jy noodsaaklike uitgawes kan besnoei – veral ook as jy weens die inperking nou voltyds van die huis af werk.  

1. Hersien jou versekeringspremies

As jy korttermynversekering het, vind uit of jy elders goedkoper dekking kan kry. Jy kan aanlyn of telefonies kwotasies kry. Voor jy besluit om te skuif moet jy egter alles opweeg: premiekostes, voordele, voorwaardes en uitsluitings. Want dalk is jy tog beter daaraan toe waar jy is.

Onthou ook die volgende:

  • Die meeste versekeraars gee jou afslag op premies as al jou polisse – byvoorbeeld huis-, geboue- en allerisikodekking – by hulle is.
  • Jou motor se waarde daal jaarliks. Jou versekeraar betaal nie meer as die huidige vervangingswaarde van die motor nie; dus moet jou premie dienooreenkomstig verlaag word. Maar die meeste versekeraars doen dit nie outomaties nie – jy moet hulle kontak en vra dat dit verlaag word. Jy kan ook jou premie laat verminder as jy weens die inperking nou jou motor min gebruik.
  • Jy kan ook jou bybetaling op motorversekering herstruktureer sodat dit by jou omstandighede pas. Byvoorbeeld, as jy nie jou kar baie gebruik nie, is dit die moeite werd om die bybetaling te vermeerder ten einde die maandelikse premie te verlaag. Dit beteken jy sal meer moet betaal as jy in ’n ongeluk beland, maar op lang termyn kan dit die moeite werd wees.
  • Kyk ook na jou langtermynversekering. Vergelyk die dekking, premies, voorwaardes en uitsluitings vir inkomstebeskermings-, begrafnis- en ongeskiktheidspolisse wat verskillende maatskappye bied, en kies die beste opsies vir jou.
  • As jy voel jy kan nie meer jou lewenspolis se premies bekostig nie, vind uit of ’n familielid die polis kan oorneem. Dit sal beteken dat daardie persoon dan die maandelikse premies betaal, maar ook die begunstigde sal wees as jy sterf.

2. Kyk na jou dienstekoste

Vergelyk die kwotasies van verskillende diensverskaffers vir tuinwerk, enige instandhoudingskoste aan jou huis, sekuriteitsdienste en jou internetverskaffer.

Jy hoef nie noodwendig te skuif nie:

As jy byvoorbeeld vir jou sekuriteitsverskaffer ’n vergelykende kwotasie wys, sal hulle dalk die prys ewenaar. Onthou om jou bank in te lig as jy dienskontrakte beëindig sodat hulle nie enige foutiewe debietorders laat afgaan nie.

3. Maak seker jou selfoonkontrak is die beste vir jou

Vergelyk die opsies en pryse van die verskillende verskaffers vir die beste aanbod na gelang van jou spesifieke behoeftes.

  • Jou netwerk het waarskynlik ’n app waarop jou persoonlike inligting is en wat wys wat jy maandeliks die meeste gebruik. Jou foon- rekening of jou bankstaat sal dit ook wys as jy daardeur jou lugtyd of data koop.
  • As jy op ’n kontrak is en van een selfoonverskaffer na ’n ander wil skuif, moet jy volgens die Wet op Verbruikersbeskerming 20 werkdae kennis gee. Jy sal moontlik ’n kansellasiefooi moet betaal. Dis gewoonlik goedkoper hoe nader jy aan die einde van die kontrakdatum is.
  • As jy wil bly waar jy is, vra of jy tydens jou kontraktydperk kan op- of afgradeer. Dit beteken dat jy na ’n ander dataplan by dieselfde diensverskaffer kan verander, byvoorbeeld as jy agterkom jy gaan voortaan meer lugtyd of data benodig omdat jy nou tuis werk. Daar is gewoonlik nie ’n fooi om na ’n duurder plan te skuif nie. As jy na ’n goedkoper plan skuif, kan daar ’n eenmalige fooi wees omdat jou foon nie op die goedkoper plan beskikbaar is nie.

4. Oorweeg ’n goedkoper motor

Buiten hul huisverbande is motors onder Suid-Afrikaners se grootste maandelikse uitgawes.

As jy na ’n goedkoper model afgradeer – al is dit net tot dit geldelik weer beter gaan met jou – sal jou maandelikse motorbetalings sowel as jou versekeringspremies en onderhoudskostes minder wees.

As julle twee motors het, kyk of julle met een oor die weg kan kom – veral as een van julle weens die inperking nou voltyds van die huis af werk.

5. Sny jou verblyfuitgawes

As jy ’n woonplek huur, oorweeg dit om na ’n billiker plek te skuif of selfs nog ’n huurder in te neem. Maak net seker jou huurkontrak laat wel onderverhuring toe.

Dit is moeiliker om na ’n billiker blyplek te skuif as jy ’n verband het. Maar selfs dit is moontlik as jy jou huis verkoop en ’n meer bekostigbare eiendom koop. Jy sal op die maandelikse verbandpaaiement en eiendomsbelasting spaar.

Kyk voorts hoe jy enige ander uitgawes tuis kan sny, byvoorbeeld elektrisiteit. Jou rekening dra die swaarste aan jou warmwatertoestel en enige ander verhitters soos elektriese verwarmers.

Kyk vir kragbesparingswenke op webtuistes soos www.eskom.co.za.

Kry hier nog raad

  • www.fscaconsumered.co.za
  • Foon-apps wat jou kan help om uitgawes te bestuur, soos Buddy the Household Expense Tracker en Goodbudget.
  • Finansiële beplanners: die Finansiële Beplanningsinstituut (www.fpi.co.za) en die Suider-Afrikaanse Finansiële Tussengangervereniging (www.fia.org.za)