In tye soos dié moet ’n mens baie mooi met jou geld werk. Wees versigtig vir skuld en vermy kitsrykwordskemas soos die pes. Hier is vyf praktiese, uitvoerbare wenke om jou kontantvloei te beskerm en jou rande slimmer te gebruik.

1. HERBEKYK JOU UITGAWES

Kyk na jou bankstate en strokies om te sien hoe jou bestedingsgewoontes verander het nadat jou winkeluitstappies en sosiale lewe ingeperk is en jy van die huis af moes werk. Jy sal waarskynlik uitvind jy koop baie minder brandstof, maar bestee meer aan kruideniersware omdat jou hele gesin nou alle maaltye tuis eet.

  • Stel ’n nuwe persoonlike begroting op wat jou nuwe werklikheid weerspieël. Gebruik die begroting-apps wat jy op jou foon sal vind, soos 22seven en Good­budget. Sekere banke se apps groepeer outomaties jou uitgawes soort by soort, wat beplanning makliker maak.
  • Kanselleer uitgawes wat nie noodsaaklik is nie. Kyk na die debietorders op jou bankrekening en dinge soos intekengeld op aanlyn dienste wat outomaties hernu. Maak net eers seker of daar kansellasieboetes is.
  • Kyk waaraan jy nie meer geld bestee nie, soos restaurante en haarsalonne, en spaar daardie geld. Sit dit in ’n spaarrekening sodat jy dit nie onnodig op ander dinge uitgee nie.
  • Moenie jouself bederf omdat jy ingeperk is en duur aanlyn kopies doen wat jy nie normaalweg sou gedoen het nie. As jy dit nie nodig het of kan bekostig nie, moet jy dit nie koop nie.
  • Maak ’n lys van jou bates – van kontant in die bank tot aandele en pensioengeld. Moenie staatmaak op die raad van familie of vriende oor wat om met jou bates te doen nie. Vra ’n finansiële be­planner se raad voor jy iets verander.
Wenk
Jou lewensmaat en kinders moet verstaan dat julle uitgawes moet be­snoei en waarom. As jou kinders in die inperking tuis is, het hulle minder sakgeld nodig. Maak saam planne oor hoe julle minder kan bestee.

2. GEBRUIK AL DIE HULP WAT JY KAN KRY

Finansiële instellings het almal paaie­ment- en premieverligting ingestel vir mense wat nie hul skuldverpligtings kan nakom nie.

  • Dit geld vir motorpaaiemente, huisverbande en persoonlike lenings. Vind uit of jy vir ’n sekere tydperk minder kan betaal of met ’n afbetalingsvakansie kan gaan. Maak seker van die gevolge: Sal jou maandelikse terugbetalings meer word nadat jou betaalvakansie verby is of as die leningstydperk verleng word? Hoe langer die leningstydperk, hoe meer rente betaal jy en hoe duurder sal jou skuld eindelik wees.
  • Jy kan ook laer maandelikse premies of premievakansies op langtermynpolisse (soos lewens- en ongeskiktheidsversekering) reël. Vind uit of jy vir die ooreengekomde tydperk wel gedek sal wees en hoe dit uitbetalings­bedrae sal raak indien jy eis.
  • Sekere beleggingsbydraes, soos geld wat jy tot ’n uittree-annuïteit of effektetrust bydra, kan jy tydelik stop en dan hervat wanneer jou kontantvloei verbeter.
  • Vind uit of jy kredietversekering het. Dit betaal gewoonlik uit as jy as gevolg van aflegging by die werk nie jou lening verder kan betaal nie.

3. MOENIE HUIS- EN MOTORVERSEKERING KANSELLEER NIE

Praat eerder met jou makelaar of versekeringsmaatskappy oor hoe jy jou premies kan verlaag.

Motorversekering

Baie versekeraars het reeds tydens die inperking ’n persentasie van die motorpremie aan polishouers terugbetaal omdat hulle min ry. As jou motorgebruik steeds min gaan bly, is die risiko vir ongelukke ook minder. Vra hoe jy die versekering kan aanpas. Nog ’n manier is om jou bybetaling te verhoog. Dit is die bedrag wat jy bydra voor die versekeraar ’n eis uitbetaal. Hoe hoër jou bybetaling in geval van ’n ongeluk, hoe laer is die maandelikse premie gewoonlik.

Basiese huisinhoudversekering

As jou sekuriteit goed is, kan jy die diefstal- en inbraakdekking vir jou huisinhoud tydelik uitsluit. Dit kan jou premie verlaag. Jy het dan dekking teen skade weens storms, water en brande, maar nie weens diefstal nie.

Allerisikodekking

Kyk na jou lys van versekerde items. Jy betaal dalk nog maandeliks vir dinge soos selfone of rekenaars wat jy lankal nie meer het nie. Laat sulke items verwyder.

4. WEES VERSIGTIG VIR NUWE LENINGS

Soms is dit onvermydelik om nuwe skuld te maak, maar moenie lenings aangaan net om lekkerder te leef nie. As jy nuwe skuld moet aangaan, oorweeg die voorwaardes, fooie en rentekoerse van bekende leningsmaatskappye met mekaar en kies die bekostigbaarste opsie. Sommige banke bied byvoorbeeld nou persoonlike lenings sonder aanvangsfooie.

5. PRAAT MET KREDITEURE AS JY NIE KAN BETAAL NIE

As jy sukkel, prioritiseer jou skuld. Kyk watter rekenings jy kan betaal en watter nie. Kontak jou krediteure om jou terugbetalingsplan aan te pas. Al kan jy nou jou skuld delg, sal die pandemie dalk eers in September ’n hoogtepunt bereik.

Jou geldsituasie kan later versleg. As jy sal sukkel om skuld ná nog vier maande van inperking te betaal, kan jy nou al jou krediteure kontak en vra of jy jou terugbetalingsvoorwaardes kan verander.