In ’n nuwe wending het pensioentrekkers nou die geleentheid om teen einde September die vasgestelde onttrekkingskoers van hul lewende annuïteite tydelik te verhoog of te verlaag.

Die onttrekkingskoers is die persentasie van die opbrengs van jou annuïteit wat jy maandeliks uitkry. Hierdie toegewing deur die tesourie is om aan pensioentrekkers ’n mate van ­finansiële verligting en buigsaamheid te gee te midde van die coronakrisis. Maar dink eers mooi, want dit sal jou lang­ter­mynspaargeld beïnvloed.

Hier is agt dinge wat jy moet weet.

1. Hoe werk ­lewende ­annuïteite?

As jy onseker is oor watter soort annuïteit jy het, bestudeer jou kontrakinligting of vra ’n finansiële raadgewer.

Lewende annuïteite staan ook bekend as beleggingsgekoppelde annuïteite, want die inkomste (of annuïteitsbedrag) wat jy maandeliks kry, hang af van die prestasie van die gekoppelde beleggings (soos effektetrusts). Wanneer jy die annuïteit uitneem, kies jy die persentasie wat jy maandeliks wil uitkry – maar daardie bedrag sal afhang van hoe goed of sleg die beleggings vaar.

Wenk
Beleggingsmaatskappye het ­aftreerekenaars op hul webtuistes waarop jy kan uitwerk hoe lank jou annuïteit sal hou teen verskillende onttrekkingskoerse.

Weens die pandemie het die finansiële markte geval, en die opbrengs van lewende annuïteitsbeleggings het baie verswak. Die tesourie het besluit pensioentrekkers kan hul onttrekkings aanpas sodat hulle maandeliks meer geld kan uitkry as hulle dit benodig.

Of jy kan dit selfs verlaag as jy nie nou meer geld nodig het nie. Dus sal jou spaargeld langer hou.

2. Wat is die ­aangepaste maksi­mum en mini­mum persentasies?

Die onttrekkingskoers kan gewoonlik net op die verjaardatum van die annuïteitskontrak verander word. In die grasietydperk tot einde September kan jy:

  • die bestaande onttrekkingskoers tot ’n maksimum van 20% (die “ou” maksimum is 17,5%) verhoog of
  • dit verlaag tot ’n minimum van 0,5% (voorheen 2,5%).

3. Hoekom moet ek versigtig wees om die onttrekkingskoers te verhoog?

Lewende annuïteite gee jou nie ’n gewaarborgde inkomste tot jou sterfdag nie. Jou inkomste sal opdroog wanneer jou belegging uitgeput is.

Hoe meer jy maandeliks onttrek, hoe gouer kan dit gebeur. Dit kan ook gouer uitgeput raak as die opbrengs op die gekoppelde beleggings swak is of as jy dalk langer leef as waarvoor jy geldelik voorsiening gemaak het.

4. Watter uit­werking sal ’n ­aanpassing op langer termyn hê?

Hoe groter die bedrag wat jy uit die annuïteit onttrek, hoe gouer krimp jou totale belegging – veral as die beleggings swak presteer – en hoe minder volhoubaar is dit.

Aan die ander kant sal ’n kleiner onttrekkingskoers jou belegging langer laat hou, selfs al sukkel die markte.

5. Hoe kan klein aanpassings in die maandelikse onttrek­kings­koers die volhoubaarheid van ’n lewende annuïteit raak?

Kom ons neem drie lewende an­nuïteite wat ewe groot is en op dieselfde manier belê is, maar met verskillende onttrekkingskoerse:

  • Met die onttrekkingskoers so laag as 3,5% is die kans uitstekend (96,9%) dat jy 25 jaar lank ’n inkomste daaruit sal kry.
  • Met die onttrekkingskoers op tot 4% daal die kans dat dieselfde belegging 25 jaar sal hou tot 90,6%.
  • Verhoog jy die onttrekkingskoers verder tot 4,5%, val die kans dat dit 25 jaar gaan hou tot net 69,8%.

Die volhoubaarheid van dieselfde belegging is dus amper ’n derde minder as wanneer die onttrekkingskoers net 3,5% is.

(Bron: Allan Gray*).

6. Ek het my koers verhoog, maar dit was ’n fout. Wat nou?

Die verligting is net ­tydelik. Daar is geen beperking op die aantal kere wat jy dit gedurende die verligtingstydperk tot einde September kan aanpas nie.

En op 1 Oktober sal die onttrekkingskoers weer outomaties ­verander na wat dit voor die ver­lig­tingstydperk was: minimum 2,5% en maksimum 17,5%.

Enige veranderings wat jy daarna wil aanbring, sal jy – soos voor die verligtingstyd – op die jaarlikse verjaardatum van jou kontrak kan doen.

  • Maar onthou – kry altyd professionele raad oor sulke besluite.

7. Wat gebeur as ek ’n nuwe beleggingskon­trak in die ­verligtingstyd uitneem?

Indien jy ’n nuwe annuïteitsplan voor einde September uitneem, kan jy die tydelike maksimum of minimum onttrekkingskoerse kies wat tydens die verligtingstyd geld.

Maar jy sal ook ’n onttrekkingskoers moet kies op grond van die “gewone” limiete wat weer vanaf 1 Oktober sal geld, verduidelik Rosemary Lightbody van die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika (Asisa).

  • Dus, tussen 2,5% en 17,5%.

8. Het die eenmalige bedrag wat onttrek kan word ook verhoog?

Ja. Die bedrag wat uit ’n lewende annuïteit as ’n enkel­bedrag geneem kan word, is van R50 000 verhoog tot R125 000.

  • Dit is egter ’n permanente verhoging en sal nie begin Oktober weer tot hoogstens R50 000 verlaag word nie.
  • Dit beteken lewende annuïteits­beleggers wat ’n poliswaarde van R125 000 of minder het, kan die volle bedrag as ’n enkele kontantbedrag trek.

* Daar word aanvaar dat die batetoe­wysing lyk soos dié van die tipiese annuïtant, met 60% groeibates (plaaslike en globale aandele en genoteerde eiendom) en 40% in effekte en kontant, en dat die langtermynverwagting van reële opbrengste op ’n gebalanseerde vlak in die kombinasie van elke bateklas ooreenstem met die historiese gemiddelde van 5% per jaar.

Kry hier nog raad