Weens die inperking het ál meer mense verlede jaar aanlyn aankope en digitale banksake gedoen. En dit sal nie sommer verander nie.

Alle aanduidings wys e-handel sal aanhou groei, en banke wil ál meer hul tradisionele takdienste na apps skuif. Die toename in aanlyn transaksies beteken banke moet gedurig hul sekuriteitsmaatreëls verbeter.

Tradisionele metodes soos jou wagwoord of PIN-kode is nie meer genoeg om kuberdiewe te fnuik nie.

Hier vroeg in die nuwe jaar is dit die ideale tyd om te kyk na die nuwer sekuriteitsmaatreëls waarmee jy te doen sal kry.

1. BIOMETRIESE BEVESTIGING

Dis wanneer jou bank jou stem, gelaatstrekke of jou oog se retina of iris gebruik om jou identiteit te bevestig. Elke mens se biologiese eienskappe is uniek en moeilik om te vervals.

Jou rekenaar, slimfoon of tablet het kameras, mikrofone en vingerafdrukskandeerders, wat biometriese identifikasie vergemaklik.

Vingerafdrukke

Jy het dit dalk al binne ’n banktak teëgekom om te bevestig dat jy die rekeninghouer is. Dit word nou gewilder vir aanlyn transaksies met jou debiet- of kredietkaart.

Stemherkenning

Nes jou gesig en vingerafdruk het jou stem unieke biometriese patrone. Dit word nog nie algemeen vir aanlyn transaksies gebruik nie, maar party banke gebruik dit wanneer hulle telefonies met jou as kliënt kommunikeer.

Gesigherkenning

Op jou bank se slimfoon- of rekenaar-app is “herkenningstegnologie” wat jou gesig se unieke eienskappe lees en bevestig dis jy.

Hoe begin ek?
  • Jy sal eerstens ’n slimfoon of rekenaar met die nodige sagteware benodig. Op jou bank se app sal jy gevra word om ’n selfie te neem, jou stem op te neem of jou vingerafdruk te gee.
  • Die app sal aandui wanneer die opname suksesvol is. Jy kan dit eers doen nadat jou identiteit reeds bevestig is deur byvoorbeeld jou geheime kode, wagwoord en sekuriteitsvrae.
  • Dis om te keer dat ’n skelm voorgee hy is jy en sy eie biometriese eienskappe in jou naam registreer.

2. VIRTUELE BANKKAARTE

Die meeste banke het dit en moedig kliënte aan om dit vir aanlyn transaksies te gebruik. Dis elektroniese kaarte wat aan jou rekening gekoppel is, maar met ander syfers as jou fisieke debiet- of kredietkaart.

Dit kan nie gesteel of gekloon word nie en kan baie vinnig op die bank-apps geblokkeer, gekanselleer en vervang word.

Virtuele kaarte is gewoonlik gratis en jy kan dit op jou foon-app aktiveer.

3. GOEDKEURINGS VIR INKOPIES OP JOU APP

Jy is dalk al daaraan gewoond dat jou bank vir jou per e-pos of SMS ’n OTP-kode stuur vir transaksies op aanlyn winkels se webtuistes. Maar party banke het onlangs hierdie goedkeuringsproses verander.

Pleks van ’n OTP te stuur, vra hulle jou om na jou bank-app te gaan vir goedkeuring. Dis omdat SMS’e en e-pos deur kuberkrakers onderskep kan word met slenters soos sim-omruilings en uitvissing.

Dis veiliger om jou transaksie op jou bank-app te laat goedkeur. Volgens die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum het digitale bankbedrog in 2019 met 20% gestyg.

Tog het verliese op bank-apps met net 1% gestyg, al het transaksies baie toegeneem. Beheer die hoeveelheid geld wat jy kan bestee deur jou bestedingsperke op jou app te stel. Jy kan dit verhoog en verlaag soos dit jou pas.

4. SLUIT TYDELIK KAARTE EN TRANSAKSIES

Party banke laat toe dat jy self op jou bank-app sekere kaarte of tipes transaksies sluit en weer ontsluit wanneer jy gemaklik is. Jy kan byvoorbeeld vir ’n bepaalde tyd jou kredietkaart sluit sodat geen transaksies daarmee gedoen kan word nie; of sodat geen aanlyn inkopies of OTM-onttrekkings via jou rekening gebeur nie.

Wat kan ek doen om myself te beskerm?
  • Wees verantwoordelik Jy moet ook self verantwoordelikheid vir jou aanlyn veiligheid aanvaar. Laksheid kan jou duur te staan kom.
  • Pas jou inligting op Vir aanlyn inkopies verskaf jy gewoonlik jou kaartnommer (voor op jou kaart), die vervaldatum en die CVV-nommer (die laaste 3 syfers agterop). Jou PIN-kode of wagwoord word nie in aanlyn transaksies gevra nie.
  • Gebruik rekeningverifikasie Rekeningverifikasie (AVS) is op die meeste aanlyn bankdienste beskikbaar. Dit help jou om te kyk wie ’n bankrekening besit sodat jy kan seker maak jy betaal die regte persoon. Jou bank kan dalk ’n fooi daarvoor hef, maar dis veiliger.
  • Skanderingsbetalings Jy kan jou slimfoon gebruik vir betaalfunksies soos SnapScan en Zapper wat met ’n QR-kode werk. Jou foon lees die kode, dis baie vinnig en jy kan by baie winkels daarmee betaal sonder om jou bankkaart te gebruik.
  • Waarborg Stel vas of jou bank ’n digitalebedrogwaarborg het en wat dit als dek. Daar is gewoonlik nie ’n perk op die bedrag wat dit dek nie. Die vereiste is dat jy verantwoordelik was met jou bankinligting deur nie jou PIN-kode, aanmeldbesonderhede en wagwoorde, CVV of OTP aan iemand anders te gee nie. En dat jy ook nie transaksies goedgekeur het wat jy nie aangegaan het nie.
Kry hier nog raad
  • Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (www.sabric.co.za) vir inligting oor bedrogslenters