Volgens divorcelaws.co.za, wat in familiereg spesialiseer, gebeur dit boonop gereeld dat een party in die egskeidingsaak bates vir die ander een probeer wegsteek – al soms maande voor ’n skeiaansoek ingedien word.

Kyk uit vir hierdie tekens dat als dalk nie op die tafel is soos dit hoort nie:

Is daar verdagte bank­rekenings of oorbetalings?

  • Iemand wat geld wil wegsteek, gebruik dikwels bankrekenings waaroor die ander party nie beheer het nie – byvoorbeeld ’n rekening in die naam van ’n vriend of familielid. Kyk uit vir versoeke dat geld in ’n onbekende rekening gedeponeer word of enige OTM-strokies vir ’n vreemde rekening.
  • Die ander party probeer dalk jul banksake totaal beheer sodat jy nie toegang tot enige bankinligting het nie. Selfs die kodewoorde is verander en jy weet nie wat dit is nie.
  • Wees op die uitkyk vir groot bedrae wat uit enige gesamentlike rekening oorgeplaas of onttrek word sonder dat jy weet waarvoor. 

Is alles pluis wat jul begroting en ­uitgawes ­betref?

  • Kyk of die waarde van uitgawes reg in jul huishoudelike begroting aangedui word. Het jou wederhelf R2 000 vir skoolklere aangedui – al kos dit net R1 000? As daar talle sulke gevalle is, kan dit aandui dat geld weggesteek word.
  • Dalk het julle nog altyd jul begroting saam uitgewerk, maar skielik word die hele program ­onverklaarbaar uitgevee. 
  • Jou wederhelf dring dalk aan dat julle ’n nuwe boekhoustelsel gebruik – een wat kwansuis meer doeltreffend is – maar die data daarop strook nie met jul vorige begrotings nie. 
  • As die persoon skielik begin kla oor die swak toestand van sy of haar finansies, soos ’n skielike ­daling in inkomste, is dit dalk ’n ­poging om die skikking tot hul voordeel te manipuleer.

Word jul waardevolle ­besittings ­weggegee? 

  • Een van die oudste truuks is wanneer die persoon duursame besittings aan ’n familielid of vriend skenk. Die plan is dan om dit ná die egskeiding weer terug te ontvang sonder dat dit deel van die bateverdeling was.
  • Julle stem dalk daartoe in om sekere ­bates te verkoop, en jou huidige wederhelf dring aan dat julle dit vinnig van die hand sit, al is die aanbodprys heelwat laer as die waarde van die item. As dit gebeur, maak seker die voornemende koper is nie dalk ’n vriend of ­familielid van jou eggenoot nie. Die plan kan wees dat hy of sy dit later goedkoop terugkry. 
  • Nog ’n manier is wanneer jou amper-eks baie duur dinge, wat moontlik ná die egskeiding weer verkoop kan word, op jul rekening aanskaf. 
  • As jy reeds in die proses is om te skei, maak seker dat al jul besittings en die waarde daarvan korrek aangegee word. Dit kan wees dat een party die bates se waarde as hoër of laer aangee om hulself te bevoordeel

44%: Die persentasie van Suid-­Afrikaanse egskeidings in 2016 wat voor die egpaar se 10de huweliksherdenking plaasgevind het. (Bron: Statistieke Suid-Afrika)

Steek so ’n stokkie daarvoor
  • As jy weet daar is ’n kans dat julle kan skei, hou goed rekord van jul gesin se geldsake: jul inkomste en wie vir wat betaal – als van huis- en motorpaaiemente tot opvoeding, kos en die huiswerker se salaris. Hou bewyse soos strokies en foto’s van uitgawes. Bêre kopieë van jul gesamentlike begroting sodat jy nie alles verloor as die rekenaar onverklaarbaar die gees gee of die dokument uitgevee word nie.
  • Hoe langer die rekord wat jy opbou, hoe beter. Dan kan jy meer inligting vir jou prokureur gee, wat ’n skikking makliker sal maak. 
  • Die inligting kan vergelyk word met dié wat jou wederhelf deurgee oor jul uitgawes en in-komste. Jy en jou prokureur sal gou kan sien as die somme nie klop nie.
  • Kry ’n prokureur of mediator wat in egskeiding en familiereg spesialiseer.
  • Maak seker dat alles wat op jou naam oorgedra moet word, of dit eiendom, aftreegeld of polisbegunstiging is, so gou moontlik afgehandel word. 

Wenk:

Moet geen dokumente teken  – maak nie saak hoe baie druk daar is om dit af te handel nie  – sonder dat jy dit eers volledig deurgegaan het nie. As jy dit nie verstaan nie, kry regshulp. 

Kry hier nog raad: 

www.famac.co.za
www.divorce-directory.co.za
www.legalaid.co.za