Millenniërs, die generasie wat tussen 1980 en 2000 gebore is, moet hul geldsake goed beplan. Hulle moet meer spaar, want hul lewensverwagting is langer as dié van vorige generasies.

En dit terwyl hulle die arbeidsmark betree terwyl daar wêreldwyd ’n ekonomiese afswaai is. Hier is finansiële slaggate wat hulle moet vermy.  

Duur troue

Baie werkende jong mense betaal deesdae self vir hul troue. Die gemiddelde koste van ’n troue in Suid-Afrika wissel tussen R70 000 en R150 000, sê die finansiële raadgewer Craig Torr van Crue Invest.

Dis nou benewens die gemiddelde wittebroodskoste van R30 000 en die paar duisend rand vir ringe. Gestel jy leen R70 000 vir die troukoste. Teen ’n rentekoers van 18% gaan jy oor vyf jaar R106 652 moet afbetaal.

Dit kan baie stremming op ’n paartjie plaas om hul huwelikslewe met soveel skuld te begin. Hou die koste laag en spaar daarvoor.

Skuldkultuur

Sodra jy ’n salaris verdien, is die versoeking groot om jouself met nuwe elektroniese toestelle of meubels te beloon. Omdat jy die beste wil hê, maak jy skuld. Pas op; dis moeilik om uit die siklus te breek wanneer jy eers begin om meer te bestee as wat jy kan bekostig.

Betaal eers meer aan jou studentelening af. Craig sê jong werkende mense wat verwag hul inkomste gaan betreklik vinnig toeneem, maak dikwels te veel huis- en voertuigskuld. Leef eerder binne jou vermoë en vermy die stres van te veel skuld. Dit sal beter gaan met jou.

Langtermynbeleggings

Millenniërs fouteer deur nie van jongs af met langtermynbeleggings te begin nie. Dit is nie veel moeite nie en kan begin met dit wat jy kan afknyp. Jy dra net iets by terwyl saamgestelde rente en die lang tydperk die res doen.

Wendy Monkley van bsmart gee die volgende voorbeelde:

  • Gestel Jane begin op 25 jaar ’n jaarlikse bedrag van R3 000 (R250 per maand) in ’n rentedraende rekening spaar. Sy doen dit 10 jaar lank. Op 65 sal haar belegging R338 000 wees, gegrond op ’n jaarlikse opbrengs van 7%.
  • Joe begin egter eers op 35 spaar. Hy sit 30 jaar lank R3 000 per jaar weg (altesaam R90 000). Op 65 het hy net R303 000, hoewel hy vir baie langer dieselfde bedrag weggesit het.

Aftreegeld en werkverandering

Die Millenniër-generasie verander die maklikste van werk. Dan is die versoeking groot om jou aftreegeld te onttrek eerder as om dit elders te belê. Millenniërs het egter ’n langer lewensverwagting as vorige generasies en omdat hulle langer leef, moet hulle meer spaar.

Volgens die Sanlam Benchmark-aftreenavorsing gee niks aftreefondslede se groei op spaargeld so ’n terugslag soos onttrekkings nie. Neem byvoorbeeld Tembi en Bibi*: Albei begin op 25 spaar, tree op 55 af en dra R496 317 tot hul aftreefonds by.

Tembi onttrek egter altesaam R261 972 tydens werkveranderings. Met aftrede het sy net R527 079 gespaar. Bibi onttrek niks, en haar aftreegeld het tot R1,514 miljoen gegroei.

Praat nie oor geldsake nie

Geld is een van die grootste twisappels in verhoudings. Elke mens in ’n vaste verhouding het sy unieke finansiële omstandighede: een studeer dalk nog en het finansiële steun nodig; die ander het dalk ’n eksman of kinders uit ’n vorige verhouding.

Op die een of ander manier moet jul gesamentlike geldsake vir albei werk. Dis belangrik om van die begin af oop kaarte te speel. Praat oor hoe julle oor skuld voel. Is ervarings soos buitelandse reise belangriker as ’n sportnutsvoertuig; en wat is jul spaarbehoeftes op lang termyn?

As een mens eendag ’n tuisblyouer wil wees, moet julle geldelik daarvoor beplan. ’n Goeie raadgewer kan julle ’n finansiële plan help opstel wat aan albei se verwagtings voldoen en toekomstige geldgeskille voorkom.

Vind by die Instituut vir Finansiële Beplanning (www. fpi.co.za) uit oor raadgewers.

* Teen 9% rente, ’n beginsalaris van R5 000 per maand en ’n jaarlikse salarisverhoging van 7,5%; en dra 8% van bruto salaris by. (Sanlam Benchmark-opname)

INTERESSANTE FEITE
43%
van Suid-Afrikaanse Millenniërs is finansieel geletterd.

40%
van Millenniërs glo huiseienaarskap is baie belangrik.

30
is die gemiddelde trou-ouderdom in die 2010’s, teenoor 23 in die 1970’s.

2
Hulle sal soveel keer eerder belê in ’n maatskappy met ’n duidelike maatskaplike en omgewingsdoelwit.

Kry hier nog raad:

Skryf aan ons
Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.