MOET my nie verkeerd verstaan nie – ek praat dit nie in die minste goed dat jy jou skuldverantwoordelikhede nie nakom nie. Die punt is egter dat daar wel skuld is wat jy volgens wet nie meer hoef te betaal nie.

En verskoon my as ek plesier hieruit put, maar dis vir my fantasties as daar een rekening minder is om te betaal nadat ek moes al klaar opdok vir winter-skooluniforms, nuwe skryfbehoeftes (opgeëet deur die skryfbehoeftevraat by die skool) en al die vitamiene en ander goed wat ’n mens hier voor die winter moet aanskaf.

Die goeie nuus is dat daar so iets soos verjaarde skuld bestaan en dít hoef jy glad nie te betaal nie.

Wat presies is verjaarde skuld? Volgens Wet 68 op Verjaarde Skuld van 1969, artikel 10 (1), word skuld as verjaard beskou as:

  • Jy nie die skuld in die laaste opeenvolgende drie jaar erken het nie, skriftelik of verbaal.
  • Jy nog nie begin het om die skuld af te betaal nie, of enige beloftes gemaak het om dit te betaal nie.
  • Die krediteur jou drie agtereenvolgende jare lank nog nie vir hierdie skuld gedagvaar het nie.

In baie gevalle word die skuld deur die oorspronklike kredietverskaffer afgeskryf en dan koop skuldinvorderaars dit vir ’n appel en ’n ei by hulle. Dis glad nie onwettig dat ’n skuldeiser daarna aan jou deur kom klop nie. Die onus rus dan op jou om te weet wat jou regte is. En nou weet jy!

Verjaarde skuld word gewoonlik eers opgevolg ’n hele paar jaar nadat die oorspronklike skuld aangegaan is. Die versoek om betaling word dikwels vergesel van ’n dreigement dat die verbruiker op die swartlys sal beland as hy of sy nie die skuld betaal nie. Hierdie dreigement is egter nie geldig nie omdat verjaarde skuld dikwels nie op jou kredietprofiel by ’n kredietburo verskyn nie.

Hier volg ’n tipiese voorbeeld: In 2005 het jy ’n kredietverskaffer R2 000 geskuld. In 2013 bel ’n skuldeiser jou en deel jou mee dat jy tans – saam met rente en administratiewe koste – R10 000 skuld.

Die eerste ding wat jy moet doen is om vas te stel wanneer die laaste betaling in die rekening plaasgevind het. Vind daarna uit of ’n dagvaarding vir hierdie skuld uitgereik is.

Indien geen betaling vir drie jaar in die rekening gemaak is nie en geen dagvaarding uitgereik is nie, dan het die skuld verjaar en is jy nie wettig verplig om dit te delg nie.

Wanneer jy die skuldeiser in kennis gestel het dat jy weet dat jou skuld verjaar het en dat jy weet jy het geen wettige verpligting daarteenoor nie, behoort hy jou in vrede te laat. As die skuldeiser egter op jou spoor bly, vra hom vir ’n staat van die afgelope drie jaar as bewys dat daar in dié tydperk betalings gedoen is. As verbruiker is dit jou reg om ’n volledige staat aan te vra.

Wat jy ook al doen, moet in geen omstandige instem om die ou skuld af te betaal nie. As jy dit doen, is die verjaardheid na die maan en moet jy hoes – selfs al stem jy net woordeliks in!

Die volgende kan egter nooit verjaarde skuld word nie:

  • ’n huisverband
  • -munisipale rekeninge
  • belastinggeld
  • jou TV-lisensie

Verjaarde skuld geld wel vir:

  •  winkelrekeninge
  •  kredietkaarte
  • Telkom-rekeninge
  • persoonlike lenings
  • gim-lidmaatskapgeld
  • selfoonrekeninge
  • geld wat jy skuld op motorfinansiering

Al dié skuld verjaar outomaties as daar drie jaar lank geen betaling of dagvaarding was nie.

Wanneer iemand jou dus bel oor verjaarde skuld, laat hulle goed verstaan dat hulle jou nie weer moet pla nie. Soms is ou skuld geen skuld!

20130512_115155(1) Deur Moeshfieka Botha van Credit Matters Debt Counselling 

Geldfoto: Becky McCray, flickr.com