Lewende annuïteite is ’n gewilde belegging met die oog op die aftreejare. Trou­ens, in 2016 het Suid-­Afrikaners R333,2 biljoen daarin belê, toon die syfers van die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika (Asisa).

As jy ’n lewende annuïteit het, sal jy jaarliks ’n gemiddelde onttrekkingskoers kan kies.

Dis die persentasie geld wat jy as afgetredene elke maand teen die belegging kan onttrek om jou uitgawes te dek.

48%
Dis hoeveel afgetredenes se uitgawes maandeliks hoër is as hul inkomste.

Baie mense maak egter die fout om maandeliks te veel geld te onttrek. Dit beteken dat hulle ná ’n paar jaar te min geld oorhet om hul uitgawes te dek.

Bestuur jou annuïteit verantwoordelik

Hoeveel kan jy onttrek?

Drie sleutelfaktore sal bepaal hoe lank daar genoeg geld in jou annuïteitsbelegging sal wees om aan jou ’n gereelde inkomste te voorsien:

  • die vlak van inkomste wat gekies word – hoeveel jy uit die belegging onttrek;
  • die prestasie van beleggings – hoe hoog of laag die opbrengs is wat jou belegging verdien; en
  • hoe lank jy leef, want jy sal oor die hele tydperk geld uit die ­annuïteit moet onttrek om jou lewenskoste te dek.

Volgens Patrick Sheehy van Sanlam Glacier het ’n 65-jarige Suid-Afrikaanse egpaar wat nog goeie gesondheid geniet vandag ’n 50%-kans dat minstens een lewens­maat tot 94 jaar oud kan word. Dit beteken ’n mens gaan dalk baie lank leef en vir ’n lang tyd geld uit jou aftreeneseier ­benodig.

37%
Soveel welgestelde afgetredenes het annuïteite en ’n aftreefonds.

Wetlik is die maksimum toelaatbare onttrekking 17,5%, maar tensy jy een van die min mense is wat ’n reusagtige aftreebelegging het, moet jy maandeliks veel minder onttrek.

Die beskikbare geld in die annuïteit verskil na gelang van hoeveel ’n mens gespaar en hoeveel die belegging gegroei het.

Maar Taryn Hirsch van Asisa sê bedryf­syfers wys die meeste pensioentrekkers loop gevaar om hul geld uit te put as hulle gemiddeld meer as 5% onttrek.

In 2016 was die gemiddelde onttrekkingskoers 6,62%.

Taryn sê sodra die persentasie inkomste wat onttrek word hoër is as die opbrengs wat die belegging verdien, word die kapitaalbasis uitgewis. Hoe hoër die bedrag wat jy onttrek, hoe vinniger krimp die belegging. 

* Die berekenings word daarop gegrond dat jou inkomste-onttrekkingsvlak oor tyd aan­gepas word om voorsiening te maak vir inflasie van 6% per jaar. Wanneer die getal jare in die tabel bereik word, sal die pensioentrekker se inkomste in die jare daarna vinnig krimp.

Doen dit reg

Navorsing deur Sanlam Glacier onder afgetredenes wat suksesvol met hul aftreegeld werk, wys dié pensioentrekkers het almal raad gevra by ’n finansiële adviseur oor hoe hul geld belê moet word – en hoeveel hulle eendag kan onttrek.

70%
Soveel afgetredenes gebruik nie adviseurs nie.

Hul pad met die raadgewer het ook nie opgehou ná die aanvank­like raad nie. Hulle spreek nog hul raadgewers gereeld om:

  • te gesels oor of hul ontrekkings nie te veel is nie, maar genoeg om hul lewenskoste te dek;
  • hul beleggingstrategie te hersien (basies om te sorg dat hul geld in die annuïteit nog reg belê word sodat dit die beste groei);
  • te kyk watter uitgawes nood­saaklik is (soos kos en gesondheidsorg) teenoor uitgawes soos stokperdjies wat nie regtig noodsaaklik is nie; en
  • nuwe planne te maak as hul behoeftes verander.

Wat kan jy doen as jy reeds te veel onttrek?

Jy kan dit oorweeg om ’n ekstra inkomste te verdien deur deeltyds te werk. Dit sal help dat jy minder van jou aftreegeld maandeliks hoef te trek om jou koste te dek.

Die belangrikste is dat jy goeie raad kry. Gesels met ’n finansiële raadgewer (FPI & FIA) vir raadgewers wat by die Raad op Finansiële Dienste geregistreer is).

Hulle behoort jou raad te gee oor:

  • jou leefstyl – jy sal waarskynlik nienoodsaaklike uitgawes moet prysgee sodat jy minder bestee (vra die adviseur om na jou uitgawes te kyk sodat jy genoeg ­inkomste kan trek om nood­saaklike koste te dek); en
  • die aanpas van jou belegging sodat die opbrengs beter word, soos deur meer van jou belegging in aandele te sit wat sterker groei oor ’n langer tydperk sal gee (dié besluit sal afhang van jou risikoprofiel).  

Waarvoor moet jy oppas?

Kitsrykwordplanne!

As iemand jou ’n opbrengs belowe wat uitsonderlik beter as die mark s’n is, is dit waarskynlik te goed om waar te wees. Swendelaars teiken mense wat kwesbaar is – soos afgetredenes wat bekommerd is oor hul spaargeld – met beloftes dat hul geld vinnig kan groei.

Kry hier raad
  • Die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika (Asisa)
  • Die Pensioenfondsberegter: telefoon: 012-346-1738; faks: 086-693-7472; e-pos: enquiries@pfa.org.za


Kontak ons
  • Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com 
  • E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.