Die begin van jou loopbaan is ’n mylpaal in jou lewe. Maar dis ook dan wanneer die omvang van jou studieskuld jou soos ’n voorhamer kan tref. En jou eerste salaris is nie noodwendig groot nie . . .  

Gewoonlik betaal ’n borg, byvoorbeeld jou ouers, die rente en administrasiefooie van jou banklening terwyl jy nog studeer.

Maar sodra jy begin werk, sal jy heel moontlik self die grootste gros van die leningsbedrag moet delg. Volgens die Bankvereniging van Suid-Afrika word sowat R1 miljard jaarliks aan studente geleen.

Hier is raad om jou skuld baas te raak.

1. Stel vas wanneer jy begin betaal

Leners kry gewoonlik ’n grasie­tydperk waartydens hulle werk kan soek voor die terugbetalings begin. Na gelang van die finansierder kan dit ses tot 12 maande wees of tot jy enige internskap of gemeenskapsdiens voltooi het.

Rente op die lening moet steeds in die grasietyd betaal word, maar die volle maandelikse afbetaling begin sodra jy ’n inkomste het.

As jy nie werk in die grasietydperk kry nie, moet jy met die finansierder oor uitstel onderhandel.

2. Hoeveel moet jy afbetaal?

Lenings kan wissel van R10 000 tot R60 000 en selfs meer per jaar, na gelang van hoeveel jou studiekursus kos.

’n Mens moet gewoonlik elke jaar opnuut aansoek doen om die lening, maar die volle bedrag word ná jou studie terugbetaal.

Vind uit wat die maandelikse paaiement op die volle lenings­bedrag sal wees met rente en diensfooie ingesluit.
Dit sal afhang van jou skuld­bedrag, inkomste en terugbe­talingstydperk.

In die geval van studente­lenings hang dit af van die finansierder en hoe lank jy studeer het, maar gewoonlik sal dit van 12 tot 60 maande wissel.

3. Hoekom moet jy dit gou afbetaal?

As jy die kontrak geteken het om jou skuld te betaal, moet jy dit nakom. Raak jy agterstallig, kry jy ’n slegte kredietgradering.

Omdat verhuurders, werkgewers en finansierders jou kredietrekord (met jou toestemming) nagaan, kan jy sommer vroeg al as ’n swak skuldbestuurder beskou word.

Weens ’n slegte gradering sal jy byvoorbeeld sukkel om ’n eiendom te huur of ’n kar te koop.

4. Betaal meer as die maandelikse minimum

Een van die beste maniere om studieskuld vinniger te delg is om elke maand meer as die minimum te betaal.
So skud jy nie net vinniger jou skuldlas af nie; jy betaal ook minder rente daarop.

5. Beplan ekstra betalings

Probeer om gereeld ’n ekstra paaie­ment te betaal, byvoorbeeld elke vier maande. So doen jy 15 betalings per jaar, pleks van 12.

Nader die finansierder wanneer jy die bykomende betalings maak sodat hulle dit dadelik aftrek en nie bloot opsysit omdat hulle meen dis ’n vroegtydige betaling van die volgende gereelde paaiement nie.

6. Eenmalige bedrae

Die kans is goed dat jy aan die einde van jou werkjaar ’n 13de tjek of bonus sal kry. Oorweeg dit om ’n deel daarvan te gebruik om jou studieskuld vinniger te delg pleks van om net jouself te bederf.

7. Kan jy dit doen?

Aidan* het R60 000 se studie­skuld binne twee jaar afbetaal. Hy vertel sy eerste salaris was klein, maar hy het steeds die grootste deel daarvan gebruik om die skuld te delg. Om dit reg te kry, het hy:

  • verblyf gedeel met huismaats, want dit was baie goedkoper;
  • nie self ’n motor gekoop nie, maar ’n saamryklub en openbare vervoer gebruik; en
  • nie duur goed vir homself gekoop nie.

So het hy ook ’n goeie krediet­rekord opgebou en daarna ’n baie gunstige motorlening gekry. Hy meen ook dit het hom geleer om spaarsaam te wees; vandag nog is hy nie kwistig met sy geld nie.

* Skuilnaam.

WENK

Stel ’n balansstaat op om rekord te hou van die leningsaldo, maandelikse paaiemente en afbetalingsdatums. So kan jy darem sien jou skuld word minder.

Kontak ons

Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.

Kry hier nog raad 

  • Die nasionale kredietreguleerder (NCR)
  • Die krediet-ombudsman
  • Rekenaars om skuldafbetalings te bereken op banke se webtuistes.