Jy moet jou sente blou knyp om die maandelikse huur te betaal vir die woonstel of huis waarvan jy so baie hou. Al is dit duur, is dit darem so gerieflik naby jou werk, en die buurt is so mooi.

76,8%
  • Dit is die aantal huurders wat teen die einde van vanjaar se eerste kwartaal hul maandelikse huur ten volle betaal het.
  • Maar die persentasie huurders wat agterstallig was, het van 18,5% in April 2017 tot 23,2% in Maart 2018 gestyg.

Bron: PayProp Rental Index, eerste kwartaal 2018

Maar o wee, die gedurige gesukkel om die eienaar te kry om ’n stukkende waterpyp of elektriese fout te laat herstel dryf jou teen die mure uit. Jy voel dis sý plig, maar hy weier volstrek . . .

Die sewe mites

Hier is sewe mites wat eienaars moontlik verkondig om hul kontraktuele verpligtings teenoor huurders te ontduik – en die onweerlegbare feite.

Mite: Die huurder sorg vir alle instandhouding

Feit

Huurkontrakte het gewoonlik bepalings en voorwaardes wat uitstippel vir watter herstelwerk en instandhouding die huurder en verhuurder verantwoordelik is.

Kragtens die Wet op Huisverhuring is dit die verhuurder se plig om die huureiendom in ’n geskikte toestand te hou. Die verhuurder moet dus instandhoudingswerk doen wat nodig is om die eiendom leefbaar te hou, soos stukkende dakteëls en klammigheid in mure herstel.

Hulle is gewoonlik ook verantwoordelik vir elektriese bedrading en loodgieterswerk, soos aan die geiser en toiletpype.

Terselfdertyd moet die huurder mooi na die eiendom kyk. As die huurder dus ’n venster breek, moet hy daarvoor betaal.

In geval van onsekerheid oor wie waarvoor verantwoordelik is of pligversuim, kan julle aanklop by die Huurbehuisingstribunaal.

Mite: Die verhuurder kan die eiendom sonder toestemming besoek

Feit

Al het die verhuurder die reg om die eiendom te besoek om byvoorbeeld te kyk of herstelwerk nodig is, moet hy die huurder vooraf inlig en sy besoek reël op ’n geleë tyd vir die huurder.

Aan die ander kant mag die huurder nie die verhuurder toegang weier nie.

Mite: Die verhuurder kan weier om die deposito terug te gee

Feit

Die huurder moet die deposito terugkry met rente (ingevolge die Wet op Huisverhuring moet die deposito altyd in ’n rentedraende rekening belê word) – mits hy nie skade aan die eiendom aangerig het nie.

Onthou, huurders moet die eiendom in dieselfde toestand laat as waarin dit gekry is; as die huurder dus skade veroorsaak het, byvoorbeeld deur die badkamerspieël te breek of die mat met sigarette te brand, kan die verhuurder die deposito aanwend om dit te herstel.

As die huurder die mure beskadig het, kan die deposito die oorverf dek.

Die huurder en die verhuurder moet saam inspeksie hou voor die huurder uittrek.

Wat van die deposito oorbly, kan aan die huurder uitbetaal word. As daar geen skade is nie, moet die deposito gewoonlik binne sewe dae nadat albei saam inspeksie gedoen het, terugbetaal word.

Die verhuurder mag nie die deposito gebruik om verbeterings aan te bring nadat die kontrak verstryk het nie, byvoorbeeld om die mure te laat oorverf om dit mooi te maak nie.

Die deposito kan wel gebruik word vir enige skuld, soos ’n uitstaande elektrisiteitsrekening.

Mite: Die deposito kan as huurgeld dien wanneer die huurder kennis gee

Feit

Die verhuurder mag dit nie as huurgeld gebruik terwyl die huurder nog in die eiendom is nie. Die huurder mag ook nie vra dat dit daarvoor gebruik word nie. Dit moet uitgehou word om enige skade te dek of skuld te delg.

Mite: Die verhuurder hoef nie kwitansies te gee nie

Feit

Dis die huurder se reg om kwitansies vir alle betalings te eis as die verhuurder dit nie vanself gee nie.

Kwitansies moet inligting bevat soos die datum van uitreiking, die adres van die eiendom en die rede vir die betaling. As die verhuurder weier om ’n kwitansie te gee, kan die huurder by die Huurbehuisings-tribunaal kla.

Wenk

Hou inligting soos jou ID-nommer, die betrokke huurooreenkoms, kontaknommers, bewyse van betalings en van woonadresse byderhand as jy ’n klagte by die tribunaal wil indien.

Mite: Die verhuurder kan jou meubels verkoop as die huur agterstallig is

Feit

Die verhuurder mag dit doen, maar hy moet ’n hofbevel kry. Dan sal die balju beslag lê op besittings wat nagenoeg ewe veel werd is as die geld wat geskuld word.

As die verhuurder die huurder se besittings sonder ’n hofbevel vat, is dit diefstal.

Mite: Die huurder moet dadelik trek as die eiendom verkoop word

Feit

Selfs al verkoop die eienaar die eiendom, kry die huurkontrak voorrang ingevolge die beginsel “huur gaan voor koop”. Dit is die huurder se reg om aan te bly tot sy huurkontrak verstryk.

Voorstelle en hulp
  • Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com.
  • E-pos sal ?sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.
  • Gaan na huisgenoot.com vir nog raad en wenke.

Kry hier nog raad