Watter foute moet ’n mens alles verklaar wanneer jy jou huis wil verkoop? vra ’n leser.

Geen huis is immers volmaak nie en elke tuiste het maar sy krake en foute. 

As jy sekere probleme nie met die verkoopslag verklaar nie, sal jy dalk later jou sak daarvoor moet skud. 

Ons verduidelik vandeesweek wat die verskil tussen latente en patente defekte is, wat die term “voet­stoots” beteken en hoekom jy probleme moet verklaar waarvan jy bewus is.

Wie verklaar wat?

Wanneer jy jou eiendom verkoop, moet jy die eiendomsagent inlig van enige probleme of foute waarvan jy bewus is. Dié foute kan verdeel word in latente en patente defekte. 

Die agent moet dan enige voornemende koper ­inlig oor enige gebreke aan die ­eiendom, sê ­Steve van Wyk van Seeff Centu­rion.

As jy die huis privaat verkoop, moet jy ook die koper van al die foute sê waarvan jy bewus is.

Soorte foute

Patente defekte is ooglopende foute – jy kan dit nie sommer miskyk nie – terwyl latente defekte minder maklik raakgesien kan word. Dit is gewoonlik strukturele foute en ernstiger as patente defekte.

Vyf voorbeelde van patente defekte

  • Stukkende vensters.
  • Krake in die muur.
  • Stukkende geute.
  • Stukkende kaste.
  • Brandmerke op matte.

Vyf voorbeelde van latente defekte

  • Lekkende dakke.
  • Foutiewe geisers.
  • Strukturele kwessies soos ’n swakheid van die dak.
  • Foutiewe swembadpompe.
  • Lekplekke wat eers met reënweer sigbaar word.

Hoekom moet jy dit verklaar?

Ingevolge die gemenereg is die verkoper drie jaar lank vanaf die verkoopdatum aanspreeklik vir enige latente gebreke, tensy die verkoper dit aan die koper verklaar het en dit uitdruklik so in in die kontrak staan.

So nie kan jy vir dié tydperk daarvoor verantwoordelik gehou word om die foute op jou onkoste te laat regmaak. Die term “voetstoots” kom hier ter sprake, want dis een van die kon­traktuele maniere om latente gebreke uit te sluit.

Die woord “voetstoots” beteken om iets te koop soos dit is, in watter toestand ook al, met foute en al.

As jy iets voetstoots verkoop, behoort jy nie aanspreeklik gehou te word vir die koste van enige latente gebreke wat binne die volgende drie jaar opduik nie. Hierdie term kom dan ook algemeen in alle koop- en verkoopkontrakte tussen verbruikers voor.

Die voetstootsklousule is nie meer soos vroeër van toepassing op verkope deur eiendomsontwikkelaars of ander ondernemings wat sake doen deur eiendomme te verkoop nie.

Die Verbruikerswet verplig ontwikkelaars en sulke verkopers om kopers volledig in te lig oor die toestand van die eiendom wat hulle verkoop.

Die voetstootsklousule mag wel by koopooreenkomste tussen gewone verkopers en kopers ingesluit word.

Dié klousule beskerm dan verkopers teen alle gebreke, ook latente gebreke, waarvan hulle onbewus is.

Wees eerlik

Die doel van “voetstoots” in ’n kontrak is egter nie om verkopers te beskerm wat kopers oor latente foute probeer bedrieg nie, sê Chrissie Johnson van Seeff Ballito.

Selfs al is daardie klousule in die kontrak, moet verkopers steeds alle defekte waarvan hulle bewus is aan die kopers verklaar.

As jy iets voetstoots verkoop, maar nie al die gebreke verklaar waarvan jy weet nie, kan jy wel aanspreeklik gehou word vir die herstelkoste.

As ’n verkoper werklik nie van ’n fout geweet het nie, behoort dit nie vir hulle probleme op te lewer nie, sê Steve.

As die huis wat jy pas gekoop het se dak begin lek en die eienaar sê hy het nie daarvan geweet nie, sal ’n bouer of huisinspekteur jou gou kan sê of dit ’n stokou of ’n nuwe fout is. 

As latente foute opduik wat so ernstig is dat die koper nie die eiendom sou gekoop het as hy of sy daarvan geweet het nie, kan die koper die kontrak kanselleer en regstappe teen die verkoper doen. 

Verkopers kan dan vergoeding eis as hulle geldelik benadeel is, maar die koper sal gewoonlik moet bewys dat die verkoper wel van die gebrek bewus was, maar dit weggesteek het.

As dit ’n strukturele fout is, sal die koper ’n kenner, soos ’n argitek of bouer, se raad kan inwin om te bewys die fout bestaan lankal en om te sê watter probleme dit kan op­lewer.

Kry vooraf hulp

Voornemende kopers kan daarop aandring dat ’n huisinspekteur, wat opgelei is om patente en latente defekte raak te sien, eers die huis inspekteer.

Die inspekteur sal foute kan vind waarvan die verkoper dalk self nie eens bewus is nie.

Eiendomsagente kan huisinspekteurs aanbeveel, maar jy kan by ’n organisasie soos die Suid-Afrikaanse Genootskap van Huisinspekteurs navraag doen.

Die koper moet gewoonlik die inspeksiekoste betaal as hulle op die inspeksie aangedring het.

Dit kan tussen R4 000 en R8 000 beloop, sê Steve.

As kopers foute raaksien wat vir hulle onaanvaarbaar is, kan hulle wanneer hulle ’n aanbod maak dit as voorwaarde stel dat die verkoper eers die probleem herstel

KRY HIER NOG RAAD

Kontak ons
Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.