Dis helaas ’n baie algemene penarie: Jy het daardie motor, slimfoon of grootskerm-TV op krediet gekoop, maar gou besef die maandelikse betalings is buite jou bereik.

Die laaste ding wat jy moet doen, is agterstallig raak. Jou probleem sal nie weggaan as jy dit ignoreer nie. Inteendeel, dit sal vererger. Een manier uit jou verknorsing is vrywillige teruggawe.

As verbruiker het jy die reg om sulke goedere aan die kredietverskaffer terug te gee. Laasgenoemde sal dit dan verkoop om die uitstaande koopsom in te vorder. Dit is nie beslaglegging nie, want jy gee self die goedere uit eie keuse terug.

Wanneer kan jy dit doen?

Slegs wanneer jy ’n paaiementooreenkoms met die verkoper het. Daarkragtens het jy die reg om die produk te gebruik terwyl jy dit maandeliks afbetaal. Maar dis eers jou eiendom wanneer jy ten volle betaal het.

Dis gewoonlik van toepassing op items soos meubels, elektriese toebehore en voertuie.

Hoe werk dit?

  • Ingevolge artikel 127 van die Nasionale Kredietwet, wet 34 van 2005, kan jy skriftelik aan die kredietverskaffer (byvoorbeeld die winkel waar jy die TV gekoop het) kennis gee dat jy die item wil terugbesorg. Jy moet dit dan binne vyf dae ná jou kennisgewing terugbesorg by die plek waar die kredietverskaffer sake doen of ’n ooreengekome ander plek.
  • Die kredietverskaffer moet jou binne 10 werkdae van ontvangs van die item laat weet wat die geraamde waarde daarvan is. Onthou, dis nou tweedehands en dus minder waardevol as die splinternuwe produk.
  • As jy tevrede met die geraamde waarde is, kan jy die kredietverskaffer laat weet hy kan dit teen die beste moontlike prys verkoop.
  • Jy kan egter jou “kennisgewing van teruggawe” kanselleer binne 10 dae nadat die kredietverskaffer die huidige waarde van die item aan jou deurgegee het. Dan is dit weer in jou besit en moet jy die oorspronklike paaiemente verder betaal.
  • Onthou, daar is geen waarborg dat hulle dit kan verkoop vir die bedrag wat jy nog skuld nie. As hulle dit verkoop vir minder as wat jy skuld, moet jy die res betaal. Maar as hulle dit verkoop vir meer as wat jy skuld, moet die verskil aan jou oorbetaal word, sê Carla Oberholzer van die skuldraadgewersgroep Zeeva.
  • Sodra dit verkoop is, moet die kredietverskaffer jou laat weet vir hoeveel en ook wat die netto opbrengs is. Die netto opbrengs is die geld wat hulle op die ou end vir die produk gekry het – nadat enige onkoste met die verkoop daarvan afgetrek is.

Slaggate

  • As ’n skuldeiser ’n vorm of dokument aan jou gee en dit is nie ’n hofbevel nie, is dit heel waarskynlik ’n ooreenkoms om die bate vrywillig oor te gee, waarsku Carla. Sommige kredietverskaffers mislei verbruikers om te dink dat dit ’n beslagleggingsituasie is, maar dit is net ’n vorm wat die skuldeisers wil hê jy moet onderteken om vrywillige oorgawe te bevestig.
  • Moenie jou aan dreigemente steur nie. As jou betalings op datum is wanneer jy so ’n vorm onderteken het – en jy vrywillig die item oorhandig het – kan jy die kennisgewing wat jy onderteken het onvoorwaardelik terugtrek. 

Voorbeeld van vrywillige teruggawe

Elizca koop ’n yskas vir R5 000 (hierdie bedrag sluit rente en koste in) en kom met die winkel ooreen om dit oor ’n tydperk van 10 maande (1 Februarie tot 1 November) af te betaal teen R500 per maand.

Die yskas word afgelewer op 1 Februarie, maar op 1 Julie, nadat sy die sesde paaiement betaal het, besluit Elizca om dit terug te gee. Sy neem die yskas terug op 2 Julie en stel die winkel in kennis dat sy dit vrywillig teruggee.

Die winkel lig haar teen 12 Julie in dat die yskas vir R3 000 verkoop kan word, en Elizca stem daartoe in.

Sodra die winkel die yskas dan verkoop, stuur hulle ’n verklaring aan haar. Daarop word aangedui:

1. Skikkingsbedrag: R2 000 (R500 per maand x 4; uitstaande van 1 Augustus tot 1 November)

2. Verkoop van yskas = + R3 000

3. Redelike koste om dit te verkoop = R500

4. Bedrag verskuldig aan verbruiker = + R500 Elizca kry dus die R500 terug omdat dit vir ’n hoër bedrag verkoop is as wat sy geskuld het.

Maar as die yskas vir net R1 500 verkoop is, sou Elizca die winkel nog R1 000 moes terugbetaal: die R500 wat sy nog daarop geskuld het, plus die winkel se R500 onkoste om die yskas te verkoop.

  • Bron van voorbeeld: Legalwise

In die derde kwartaal van 2017 is soveel Krediet toegestaan

R52,24 biljoen
Soveel krediet is aan verbruikers in Gauteng toegestaan (die meeste van enige provinsie in Suid-Afrika). 
R21,35 biljoen
Soveel is aan Wes-Kapenaars toegestaan (naasmeeste in Suid-Afrika).
R16,83 biljoen
Soveel is aan KwaZulu-Natallers toegestaan (derde meeste in Suid-Afrika).
R33,21 biljoen
Soveel krediet is in al die ander provinsies tesame toegestaan.

 Bron: VerbruikerskredietmarkverslagL Derde kwartaal 2017

Kry hier nog raad
Kontak ons
Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse 
sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.