Werksoek kan moeilik en stresvol wees – selfs wanneer dit goed gaan met die ekonomie, wat tans beslis nie die geval is nie.

Die coronaviruspandemie en die inperking het die ekonomie op sy knieë gedwing en dit het gelei tot ernstige werkverliese met maatskappye wat óf sink óf hul begrotings besnoei om te probeer oorleef.

Dis nou uitdagender as ooit tevore om werk te soek. Dalk wonder jy of dit enigsins die moeite werd is om aansoek te doen te midde van die swartgalligheid wat heers. Maar moenie moed verloor nie, sê Simon Royston, besturende direkteur by The Recruitment Lab.

“Die belangrikste ding is om geduldig te wees,” sê Simon. “Die huidige inperking beteken tydlyne vir werksoekers is onbepaald. Wat voorheen dalk twee weke van werksoek was, het in ses weke ontaard.”

Baie maatskappye heroorweeg hul werkstruktuur en verwag nou dat kandidate toegerus sal wees vir afstandswerk.

Tye is aan die verander, sê Margot van Graan, bestuurslid by MVG Recruitment. En dis belangrik dat jou benadering tot werksoek daarmee saam verander. Hier is wat jy oor werksoek tydens ’n wêreldwye pandemie moet weet.

WAAR OM TE BEGIN

Die beste benadering tot werksoek is ’n kombinasie van jou eie pogings en werk saam met ’n werwingsagentskap, is Margot se raad. Agentskappe verkry personeel gegrond op die werkaanvrae wat hulle ontvang, maar weens die afswaai in die ekonomie het hulle minder poste beskikbaar.

“Om deur ’n werwingsagentskap te werk het die voordeel dat die agentskap ’n gevestigde verhouding met die kliënt het,” sê Margot.

“Daarom sal hulle weet waarna ’n onderneming soek en kan hulle jou leiding gee met jou aansoek.” Maar moenie net op werwingsagentskappe staatmaak nie; gaan voort om deur loopbaanportale soos Career Junction, Careers24 en PNet na geadverteerde geleenthede te soek.

Die meeste betroubare agentskappe teken in by loopbaanportale om aktiewe kandidate op die webtuistes op te spoor. “Sorg dus dat jy ’n aanlyn teenwoordigheid het. Gebruik die loopbaanportale,” benadruk Margot.

“In hierdie tye sou ek sê dat jy nie net een manier kan gebruik nie; ’n gesamentlike benadering sal veel voordeliger wees.”

DIE MAG VAN DIE SOSIALE MEDIA

Simon moedig hoopvolles aan om die sosiale media tot hul voordeel te gebruik. “Soek in verskillende Facebook-gemeenskappe. Jy sal verbaas wees hoeveel klein ondernemings poste op hierdie platforms plaas,” sê hy.

“Dis veel bekostigbaarder vir adverteerders.” Steek ook na familie en vriende voelers uit.

“Dalk weet hulle van iemand wat hulp benodig en kan ’n goeie woord insit. Of dalk kan hulle jou in verbinding plaas met ’n potensiële werkgewer.”

Maak ook seker jou LinkedIn-profiel is op datum. LinkedIn help jou om met mense in jou beroep te skakel en kan as instrument vir werksoek ingespan word.

Dis ook waar werwers en indiensnemingsbestuurders na kandidate soek; daarom is ’n teenwoordigheid op die blad belangrik.

werksoek
Gebruik ’n werwingsagentskap, maar kyk ook self rond. Gebruik ook sosiale media en die internet. Foto: Gallo Images/Getty Images

KAN JY VRYSKUT?

Vryskutwerk is geensins ’n maklike opsie nie. Dit verg tyd en moeite; nie net om aan te gang te kom nie, maar ook om dit vol te hou. Dis ook nie ’n opsie met alle soorte werk nie.

As dit egter moontlik is in jou beroepsveld, is dit ’n wonderlike manier om jou vaardighede te ontwikkel en op ’n manier jou eie baas te wees.

“Maar moenie verwag dat geld uit die lug gaan val as jy hierdie leefstyl kies nie,” sê Cristian Barin van 99designs, ’n Australiese vryskutplatform.

“Vryskutwerk het ook baie spesifieke vereistes, soos uitstekende tydbestuur, om met kliënte te netwerk en finansiële beplanning.”

Die beste plek om vir vryskutwerk te begin soek is binne jou onmiddellike beroepskring, sê Benek Lisefski, ’n rekenaarprogrammeerder wat al byna 20 jaar lank as vryskut werk.

“Vra jou vorige werkgewers of kollegas of hulle weet van enigeen wat jou dienste benodig,” sê hy. “Hoor ook by familie, vriende en skoolkontakte.”

As jy sukkel om ’n vaste werk te kry, kan vryskutwerk in die tussentyd vir jou ’n idee gee van wat dit vereis om jou eie baas te wees, en jy sal ook kan bepaal of voltydse vryskutwerk op die lange duur vir jou uitvoerbaar is.

Gaan loer na hierdie webtuistes: nichemarket.co.za, upwork.com/l/za, nosweat.work

KAN JY ’N STOKPERDJIE IN ’N ONDERNEMING OMSKEP?

Die idee om betaal te word vir iets waarvan jy hou, klink dalk soos ’n droom, maar dis geen maklike taak om ’n passieprojek in ’n sakeonderneming te omskep nie.

Dit verg beplanning, toewyding en die regte ingesteldheid. Maar as jy bereid en in staat is om die sprong te waag, kan dit ongelooflik lonend wees, sê Evadne Cupido, wat haar liefde vir kos maak in ’n onderneming omskep het.

werksoek
Evadne Cupido het haar passieprojek, kos maak, in ’n lonende onderneming omskep. Foto: Verskaf

Sy is in 2015, ná byna 20 jaar in die mediabedryf, uit diens gestel. Sy was toe ’n nuwe ma en het begin vryskutwerk doen om geld te verdien. Maar ’n jaar later het sy ’n geleentheid raakgesien om van koers te verander.

“Ek was nog altyd lief vir kos, en ’n vriend het voorgestel ek maak kerrie-en-rys en versprei die nuus deur ’n paar mense,” sê sy. “Ek het die eerste keer 50 bestellings gekry – en ek het nie geweet hoe om vir 50 mense te kook nie!”

Vandag besit Evadne ’n maatskappy genaamd Made With Love by Evadne. “Ek doen tuisgekookte etes in die week, asook privaat spyseniering vir klein geleenthede.”

Jy moet realisties wees oor die tyd en moeite wat dit verg om ’n stokperdjie te omskep in iets waaruit jy geld maak. “Jy werk ekstra hard, want dis iets wat jy bou, en daar is die konstante vrees vir mislukking,” sê Evadne.

werksoek
Foto: Verskaf

As jy mense in diens neem, is daar ook die druk en verantwoordelikheid van jou werknemers wat betaal moet word. Bemarking is ook belangrik – jou sake-idee is dalk wonderlik, maar beteken niks sonder kliënte nie.

Vra jouself af of jy steeds jou stokperdjie sal geniet wanneer jy spertye moet haal en teikens moet bereik. Vir Evadne het dit nie verander nie.

“Ek is werklik mal oor wat ek doen. Ek was nog altyd iemand wat strawwe spertye geniet – dit is wat my opgewonde maak. “Maar dit is ’n ander soort opwinding dié. Ek het geen berou nie.” 

Laat jou CV uitstaan

Jou CV moet getik word in ’n lettertipe wat maklik is om te lees, met goeie spasiëring en geen spelfoute nie.

Hoewel dit omvattend moet wees en alle relevante besonderhede moet bevat, moet dit bondig wees en tot die punt kom.

Enige prestasies by vorige werke moet gelys word.

“Beklemtoon dit op jou CV, want dit is ’n voordeel,” sê Margot.

En as daar enige gapings tussen werkperiodes is, verduidelik wat in daardie tydperk gebeur het.

Let op die bewoording

As jy aansoek doen vir ’n pos in ’n gespesialiseerde veld wat nie ooreenstem met jou vorige posbeskrywing nie, maar vol vertroue is dat jy die rol kan vervul, pas jou CV aan om soortgelyke sleutelwoorde te gebruik, stel Margot voor.

“As jy byvoorbeeld ’n kliëntskakelkonsultant is, maar ’n onderneming is op soek na ’n kliëntedienskonsultant, maak seker dat jy die kliëntedienspligte wat jy gedoen het, beskryf,” sê sy.

“ ’n Onderneming ontvang baie aansoeke en sal dit wat nie ooreenstem nie, weggooi. Baie van die aanvanklike keuring gaan oor ooreenstemming.”

Skryf ’n goeie dekbrief. Verduidelik eerstens die redes vir jou aansoek.

Noem dan hoe jou ervaring aan die posvereistes voldoen en hoe jy ’n verskil by die onderneming kan maak.

Beskryf waarom jy glo jy moet oorweeg word op grond van die vereistes wat in die posadvertensie beskryf word.

As jy vertroud is met die ondernemingskultuur, motiveer waarom jy goed sal inpas.

Moenie jou laat afskrik as die posvereistes verskil van jou vorige posbeskrywing nie.

Gebruik die dekbrief om oor oordraagbare vaardighede uit te brei.

“Byvoorbeeld, iemand wat in die gasvryheidsbedryf werk, wat nog nie oopgestel is nie, kan in ’n restaurant werk,” sê Margot.

“Jy werk dalk in ’n ander sektor, maar verrig ’n soortgelyke funksie.” Beëindig die brief deur te sê wanneer jy beskikbaar is.

“Kan jy onmiddellik begin of moet jy ’n kennisgewingstydperk uitdien? Dit is inligting wat voornemende werkgewers nodig het.”

Na gelang van die aard van die werk is dit ook die moeite werd om te noem of jy die nodige geriewe vir afstandswerk het. 

EKSTRA BRONNE: FORTUNE.COM, WIRED.COM, 99DESIGNS.COM, MEDIUM.COM, CAREERFOUNDRY.COM