Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dis gewoonlik maklik en vinnig om te kry, en veral kleiner bedrae lyk op die oog af maklik om terug te betaal. Tog is daar ook risiko’s wat jy behoort te oorweeg. Hier is wat jy moet weet.

Wat is betaaldaglenings?

  • Dis korttermyn-ongesekureerde lenings wat op jou volgende betaaldag gedelg moet word. “Korttermyn” beteken dit moet gou terugbetaal word, byvoorbeeld binne die vasgestelde drie weke. “Ongesekureer” beteken jy leen nie die geld met ’n bate soos jou motor as sekuriteit nie. Die rentekoers is hoog.
  • Dis kleiner lenings, gewoonlik tot R5 000. In die geval van groter lenings, byvoorbeeld R10 000, sal die terugbetalingstydperk langer wees.

Hoe kry ek dit?

Die lener sal ’n selfoonnommer, ID, bankbesonderhede en bewys van inkomste verlang. Jou kredietrekord moet nagegaan word om te kyk of jy die terugbetaling kan bekostig. Word jou lening goedgekeur, moet jy ’n debietorder teken vir die volle leningsbedrag plus rente en fooie, wat op ’n bepaalde datum uit jou bankrekening verhaal sal word.

Wat kos dit?

Dis duur skuld, al verskil uitleners se fooie en rente. Gestel jy leen R1 000, met die vasgestelde terugbetalingsdatum 21 dae later. Die rentekoers is byvoorbeeld 0,16%. Dit klink laag, maar onthou, dit word per dag op jou uitstaande balans gehef. Daarby kom die aanvangsfooi van 16,5% en ’n diensfooi. Belasting van 15% word op al die fooie gehef. Dit sal jou ná 21 dae sowat R1 269 kos om jou lening te delg. Leen jy R2 000, sal jou skuld R2 430 wees.

Wat is die slaggate?

  • Gewetenlose geldskieters wat hulle nie aan regulasies steur nie en jou hoë rente en fooie vra. Wees lugtig vir lenings wat te maklik toegestaan word. Maak seker jy weet vooraf presies hoeveel jy sal moet terugbetaal.
  • Dis nie ’n kitskuur vir jou kontantvloeiprobleme nie. Sou jy die lening oor ’n langer terugbetalingstyd rek om dit af te betaal, sal jou uitgawes net weer styg omdat die rente en ander fooie bly ophoop.
  • As jy nie genoeg geld in jou rekening het om die leningskuld te betaal nie, sal jou debietorder, en dalk ook ander debietorders, nie deurgaan nie. Jy sal dan boeteheffings moet betaal, wat jou skuldpenarie sal verdiep en jou ’n swak kredietrekord kan gee.

Wat moet ek myself eers afvra?

  • Kan jy dit bekostig om die lening terug te betaal? Jy moet dit teen die terugbetalingsdatum kan delg, benewens ander skuld. Jy sal die daaropvolgende maand ook minder geld in jou bankrekening hê.
  • Is die aankoop waarvoor ek die lening wil aangaan regtig noodsaaklik? Dit kan jou duur kos om net ’n skielike behoefte te bevredig. Gaan slaap eers daaroor. Anders as wat baie verkopers sê, verdwyn ’n winskoop nie sommer nie: Oor drie maande kry jy dalk dieselfde item elders teen ’n selfs beter prys. Moet veral nie duur lenings vir luukshede aangaan nie.
  • Voldoen die lener aan die vereistes van die Nasionale Kredietwet? As die lener by die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) geregistreer is en onwettig optree, kan jy by die NKR hulp vra. Is die lener nie geregistreer nie, sal jy moeilik hulp kry.
  • Het jy verskillende leners se bepalings, fooie en rente met mekaar vergelyk om seker te maak watter een die beste opsie vir jou sal wees? Vra verkieslik heel eerste jou bank, asook ander banke, wat hulle jou kan bied voor jy na ander instansies gaan.
WENK: Moenie ’n ooreengekome terugbetaling misloop nie, anders is die kans goed dat ’n selfs hoër rentekoers op die uitstaande leningsbedrag gehef sal word. Dit sal jou skuld selfs duurder maak, en jy sal nog langer daaraan afbetaal.

Hoe kan ek sulke onvoorsiene lenings vermy?

  • Begin vir ’n noodfonds spaar. As jy nie spaargeld oorhet nie of sukkel om bestaande skuld te delg, kyk hoe jy jou inkomste deur ’n deeltydse of bykomende werk kan verhoog. Dit hoef net tydelik te wees. 
  • As jy in ’n gegewe maand ’n geldkrisis ervaar, moet jy jou persoonlike begroting hersien. Sny alle luukshede en onnodige besteding uit.
  • Gesels eerder met jou bank, ’n finansiële beplanner of ’n skuldraadgewer oor jou hele finansiële prentjie. Is daar beter opsies as duur lenings? Persoonlike lenings is dikwels billiker as betaaldaglenings.
Kry hier nog hulp