Voorbeelde is ’n langer leningstermyn met laer maandelikse betalings – of selfs geen betalings vir ’n vasgestelde tyd nie. Dit is bekend as ’n betaalvakansie.

Die aard en voorwaardes van banke se verligtingspakkette kan egter verskil. Maak dus seker jy weet waarvoor jy jou inlaat voor jy ’n nuwe ooreenkoms met jou bank aangaan. Stel eers dié ses vrae.

1. WAT IS DIE BEPALINGS EN VOORWAARDES?

Soms gebeur die verligting outomaties. Byvoorbeeld, wanneer die bank sonder om jou toestemming te vra die rentekoers op jou studentelening verander na 0%  oor die volgende drie maande.

Wenk
As jy onder skuldhersiening is, moet jy jou skuldberader kontak. Hulle sal dan ’n nuwe terugbetalingsvoorstel aan die bank motiveer.

Maar gewoonlik moet jy aansoek doen om ’n betaalvakansie of verlengde leningstermyn. Die bank wil verseker dat jy eindelik wel jou skuldverpligtings sal nakom; daarom sal vereistes, bepalings en voorwaardes geld. Dit moet behoorlik in ’n kontrak aan jou uitgestippel word.

  • Vereistes kan wees dat die verligting net beskikbaar is vir mense wat minder as ’n sekere bedrag, byvoorbeeld R7 500 per maand, verdien, en nie vir nuwe lenings nie.
  • Uitsluitings kan byvoorbeeld wees dat kliënte met agterstallige betalings nie kan aansoek doen vir verligting nie.
  • Voorwaardes kan wees dat fooie en rente tydens die verligting steeds by die skuldbedrag gevoeg word, maar dit werk nie noodwendig so by elke bank nie.

2. WAT IS ’N GOEIE KREDIETSTATUS?

Betaalverligting word gewoonlik net aangebied vir kliënte wat ’n goeie kredietstatus het.
In die algemeen behels dit dat jy op datum is met jou skuldverpligtings én in die verlede bewys het jy betaal skuld getrou. Jy moet ook in staat wees om jou skuldverpligtings na te kom wanneer die betalingsvakansie verby is.

Maar vir sommige banke beteken ’n goeie kredietstatus dat jy nooit jou kredietkaart se maandelikse limiet oorskry nie. Ander banke gee weer nie om dat jy die limiet oorskry nie – solank jy elke maand getrou die minimum afbetalings op jou kredietkaart doen.

Vra dus eers jou bank.

3. SAL MY MAANDELIKSE BETALINGS VERANDER?

Maak seker by jou bank of hulle die maandelikse paaiemente ná jou betaalvakansie sal verhoog of nie.

Dié moontlikhede hou verskillende gevolge in:

  • As jou maandelikse betaalbedrag en rentekoers ná jou betaalvakansie dieselfde bly: Dit beteken jy sal langer aan jou lening terugbetaal en dat jy weens die opgehoopte rente dus eindelik ook meer sal betaal. Jou lening gaan dus duurder wees.
  • As jou maandelikse betaalbedrag (maar nie jou rentekoers nie) ná jou betaalvakansie verhoog: Dit beteken jy sal die oorgeslaande paaiemente, rente en administratiewe fooie vinniger afbetaal en gevolglik ook jou totale skuld.

Jou lening sal dus nie soveel duurder wees as toe jy dit oorspronklik aangegaan het nie.

4. HOEVEEL MEER SAL EK SKULD?

Die betalings wat jy misloop, word nie van jou algehele skuld afgetrek nie. Jy betaal dit net later, en dit het ’n prys in die gedaante van opgehoopte rente en administratiewe fooie.

Die voorbeeld hieronder wys die impak van ’n driemaandebetaalvakansie op ’n huislening (langtermyn) teenoor die impak op ’n persoonlike lening (korttermyn).

Bron: FNB
Bron: FNB

* Mense dink soms jy slaan net drie maande se betalings oor en moet daarom net drie maande ekstra terugbetaal. Maar omdat die koste van skuld (soos die rente en fooie) ophoop, word die getal afbetalings ook meer.

5. HOE RAAK DIT MY KREDIETREKORD?

Dit behoort nie negatief op jou kredietrekord te wys nie, want dis nie wanbetalings nie. Dit kan wel jou vermoë raak om nuwe lenings te kry.

As jy ’n betaalvakansie neem, sal die uitstaande balans op jou lening hoër wees as voorheen, en jy sal dalk langer neem om die skuld te delg.

Dié hoër skuldbedrag kan beteken dat jy nie so maklik die nuwe lening kry nie of dat jy dalk net vir ’n kleiner nuwe lening in aanmerking sal kom.

6. WAT VAN ADMINISTRASIEFOOIE?

Die verligting is gratis; jy hoef dus nie iets ekstra te betaal nie. In die meeste gevalle word die lening se oorspronklike rente en fooie tydens die betaalvakansie voortgesit.

Daar is egter uitsonderings met sekere soorte lenings, soos studentelenings, waar geen fooie tydens die betaalvakansie gehef word nie. Maak dus seker by jou bank.

Kry hier nog raad