Mettertyd was tuisversorging onvoldoende. Omdat demensielyers se behoeftes verskil van ander verswakte bejaardes s’n, moes hy opgeneem word in ’n aftreeoord wat geskikte versorging bied. Ondanks haar mediese fonds en ander aftreespaargeld het die koste daarvan Lynne geldelik geknak.

Ons kyk vandeesweek in watter mate mediese fondse voorsiening maak vir demensie.

Ons vra ook die kenners oor maniere om jou dekking teen demensie aan te vul.

Wat moet mediese fondse dek?

Demensie is die versamelnaam vir toestande wat jou brein se kognitiewe funksies – en gevolglik jou geheue, denke, gedrag en emosies – aantas. Deon Heydenrych, ’n mediese makelaar van SecureMyFuture, verduidelik mediese fondse onderskei tussen omkeerbare en behandelbare demensie.

Behandelbare demensie is ongeneeslik, maar pasiënte kan by behandeling baat vind.

Omkeerbare demensie is geneesbaar mits dit vroeg gediagnoseer en behandel word.

Wenk
Gehoorsaam jou mediese fonds se reëls - anders sal jy dalk self moet opdok.

Kragtens die wet is mediese fondse verplig om voorgeskrewe minimum voordele (VMV’s) vir die behandeling van sekere siektetoestande te betaal. Slegs die behandeling van “behandelbare demensie” word vir die betaling van dié VMV’s gelys.

Fondse moet vir minstens een week se hospitaalopname betaal waartydens die diagnose en bestuur van akute simptome gedoen word. Baie fondse het ’n voorgeskrewe lys van hospitale en psigiaters waarvoor hulle sal betaal.

Onthou: Die dekking is net vir die diagnose en die week se hospitaalbehandeling. Volgehoue behandeling en medikasie word nie deur VMV’s gedek nie.

Hoe word volgehoue medikasie dan gedek?

Dit sal afhang van jou voordeelopsie.

  • Omvattende planne dek heelwat dokterskonsultasies en medisyne, so die lid se doktersbesoeke (vir enige toestand) en medikasie word grotendeels gedek. Daar is gewoonlik ’n vasgestelde perk vir dekking.
  • Beperkte planne bied minder voordele. As jy byvoorbeeld op ’n hospitaalplan met ’n spaardeel is, kom jou doktersbesoeke en medikasie (dus alles behalwe die hospitaalverblyf) gewoonlik uit die spaardeel. As jy nie ’n spaardeel het nie of dit raak uitgeput, betaal jy self vir byvoorbeeld medikasie.

Wat van die koste van versorging?

Fondse dek nie gewoonlik die tuisversorging van demensielyers nie. Sommige fondse bied ’n mate van tuisversorging vir terminale siektes soos kanker, maar demensie word nie as terminaal beskou nie.

Sal gapingsdekking met uitgawes help?

Gapingsdekking is ’n afsonderlike versekeringsproduk. As jou hospitaalrekening jou gewone mediesefondsvoordeel oorskry, sal gapingsdekking die res betaal.

Let wel: Gapingsdekking het nie spesifieke voordele vir demensie nie. Dit kan slegs hospitaalkoste help betaal.

Watter siektes verwant aan demensie moet fondse dek?

Die enigste demensieverwante toestand wat wetlik deur mediese fondse gedek moet word, is parkinsonsiekte, sê Deon.

Dekking vir alzheimersiekte, die algemeenste toestand verwant aan demensie, is nie verpligtend nie.

Fondse moet die konsultasies, toetse en medikasie vir parkinsonsiekte dek, maar betaal net vir goedgekeurde medikasie en ’n beperkte aantal doktersbesoeke.

Wat jy moet onthou:

  • Fondse het gewoonlik vasgestelde behandelingsprogramme vir siektetoestande waarvoor hulle betaal, soos twee konsultasies per jaar plus bloedtoetse en goedgekeurde medikasie.
  • Dié program, met goedgekeurde voordele en prosedurekodes, sal skriftelik aan jou bevestig word. Die kodes is belangrik. Dit is die tariefkodes vir verskillende behandelings. Skryf jou dokter die verkeerde kode op die rekening, kan die fonds betaling weerhou.
  • Fondse dek gewoonlik net generiese medikasie. Lede kan aansoek doen vir betaling van oorspronklike medikasie, maar dit kan afgekeur word. 
  • Maak seker of jy ingevolge jou behandelingsplan ook jou medikasie by goedgekeurde apteke moet koop.
  • Konsultasies moet gewoonlik gedoen word deur ’n spesialis of dokter wat op die fonds se netwerkplan gelys is. Anders kan die fonds weier om te betaal.
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images

Watter ander voorsorg kan jy tref?

Voltydse tuisversorgers vir demensielyers kan tussen R7 500 en R9 000 per maand vra.

En geskikte versorgingsoorde kos minstens R20 500 per maand, sê dr. Marion Morkel, Sanlam se mediese hoof.

Wat kan jy nog doen om dit te bekostig?

  • Sekere ongeskiktheids- of gevreesdesiektepolisse kan uitbetaal en dan vir versorging gebruik word. Maar dit verskil van versekeraar tot versekeraar.
  • As deel van jou aftreeplan moet jy ook vir moontlike mediese uitgawes spaar. Oorweeg aanvullende beleggings soos effektetrusts, uitreeannuïteite of belastingvrye spaarplanne.
  • As jy dit kan bekostig, spaar afsonderlik vir spesifiek mediese uitgawes – dus bo en behalwe jou aftreefonds, ander beleggings en noodfonds. Vra ’n finansiële beplanner se raad oor beleggings wat vinnig kan uitbetaal as jy die geld nodig het. S

KRY HIER NOG RAAD

* ’n Skuilnaam.