Soos die polishouer wat glo nie kon verstaan waarom sy motorongelukeis afgewys is omdat hy kwansuis dan net so ’n knertsie oor die alkoholperk was nie.

Karabo Kopeka, hoof van eise by MiWay Insurance, beantwoord vyf van die algemeenste vrae waarmee dienssentrums oorval word.

1. Kan ek ’n kontant­uitbetaling vir my motor­ongelukeis kry?

Dis moontlik, maar gewoonlik net wanneer jy nie die bybetaling kan bekostig nie. Die eisbedrag minus die ­bybetaling word dan aan jou ­betaal. Jy moet ’n kontantbetalingsooreenkoms onderteken dat dit die finale uitbetaling vir jou eis is.

Jou versekeraar kan jou nie voorsê wat om met die geld te doen nie, maar die verwagting is dat jy dit gebruik om die motor te herstel, en hulle sal geen verdere eise weens hierdie skade oorweeg nie.

Die versekeraar kan selfs besluit om jou ongeluksdekking op te skort tot tyd en wyl ’n inspeksie wys dat jy die skade wel volkome laat herstel het.  

2. Moet ek ’n bybetaling doen as ’n ongeluk nie my skuld was nie?

Gewoonlik ja, selfs al het jy omvattende versekering. Dit word in jou kontrak uiteengesit wat jy met jou versekeraar het.

Gewoonlik is jou premies kleiner as jy ’n groter bybetaling het, en omgekeerd. Indien die ander party – wat die ongeluk veroorsaak het – verseker is, en afhangend van jou kontrak, kan jou versekeraar dalk jou bybetaling weer terugbetaal uit die ander party se eisbetaling.

Lees die fyn druk in jou eie polisdokument.

3. Kan ek eis as ek die blaaspypietoets dop?

Jou eis sal hoogs waarskynlik misluk wanneer jy die wettige alkoholperk of spoedgrens oorskry het. Enige oortreding van die wet word as roekelose gedrag beskou; dus het jou versekering alle reg om jou eis te verwerp.

4. Hoekom is my eis nie betaal nie?

Die algemeenste redes is kontrakbreuk; as jy nie polisbepalings nakom nie; gebrek aan openbaarmaking; en vals eise.

Kontrakbreuk

Dis wanneer jy nie die kontrakvereistes nakom nie, byvoorbeeld om nie jou premies te betaal nie. Jy kry gewoonlik ’n grasietydperk waarin die versekeraar jou sal kontak. Dan kan jy dalk ooreenkom om jou dekking aan te pas sodat jou premies meer bekostigbaar is. Kontak die versekeraar dadelik as jy sukkel; moenie net premies begin oorslaan nie.

Gebrek aan openbaarmaking

Jy gee jou ou motor aan jou kind, maar jy gee nie sy naam op jou polis aan as die nuwe “gewone bestuurder” nie. Maak hy dan ’n ongeluk met die motor, sal die eis waarskynlik geweier word. Dis omdat jou risikoprofiel as bestuurder verskil van jou kind s’n. Hou liewer jou versekeraar op die hoogte van sulke veranderings.

WENK: Mense jok soms oor die sekuriteitsmaatreëls van hul eiendom om hul premie laag te hou. As jy dan uitgevang word, gaan jou eis vir diefstal of inbraak nie betaal word nie.

Versuim om polisbepalings na te kom

Sekere polisse vereis dat voertuigopsporingstoestelle geïnstalleer word, of dat jou juwele in ’n kluis weggesluit word. Doen jy dit nie, voldoen jy nie aan die bepalings oftewel voorwaardes nie. As jou woonbuurt se misdaadrisikofaktor hoog is, sal jou versekeraar diefwering en alarms vereis. Installeer jy dit dan nie, sal jou eis misluk.

Swak instandhouding van ’n eiendom is ook ’n algemene rede vir eisverwerping. Mense eis dikwels vir stormskade, maar ’n inspeksie sal gou wys as jou dak weens swak instandhouding inmekaargeval het en nie weens stormskade nie.

5. Hoe verskil kansellasie van die nietigverklaring van poliskontrakte?

Kansellasies gebeur selde en is gewoonlik die gevolg van ’n vals eis, soos wanneer iemand ’n kaping of roof- tog naboots om versekering te eis. Die polis kan op grond van ’n vertrouensbreuk gekanselleer word.

Die kansellasie kom dan op die polishouer se gedeelde versekeringsprofiel, en dit beteken jy sal nie maklik elders versekering kry nie.

Nietigverklaring gebeur gewoonlik weens roekelose bestuursgewoontes; as jy versuim om vorige soortgelyke eise by ’n ander versekeraar openbaar te maak; of wanneer jy nie iets wat jou risikoprofiel sal verander openbaar maak nie. Mense maak nie vorige eise bekend wanneer hulle na ’n nuwe versekeraar skuif nie.

Jou risiko word deels op jou eisrekord gegrond

Hoe meer eise, hoe groter die risiko en jou premie. Mense bly soms tjoepstil oor groot eise by vorige versekeraars. Wees ten alle tye eerlik, anders sal jy probleme kry.

As jou kontrak eers nietig verklaar is, wil geloofwaar- dige versekeraars gewoonlik nie met ’n tang aan jou vat nie. 

Kry hier nog raad
  • Die ombud vir korttermynversekering by www.osti.co.za  of 0860-726-890. 
  • Lees weer ’n slag deur jou kontrak. Versekeraars doen moeite om die inligting deesdae maklik verstaanbaar te maak. 
  • Webtuistes van versekeraars vir wenke.