Eintlik moet die eerste maand “Janu-worry” heet, want dis wanneer die koste van al daardie vakansiepret jou inhaal en jou salaris gou-gou insluk.

Maar dankie tog dis ook agter die rug en jou volgende salaristjek is reeds in die bank. Die lewe is terug na normaal, of hoe? Maar dink eers ’n slag mooi voor jy weer die winkels en restaurante invaar.

Met die pyn van Januarie tydelik verlig, is dit nou tyd om oor jou geldsake en leefstyl te besin. Die beste manier om toekomstige Janu-worries te besweer is om binne jou vermoë te leef.

En die goeie nuus is: As jy op ’n webskakel kan klik, kan jy geldslim wees. Deesdae is so baie webtuistes gemik op wenke vir ’n spaarsame lewe, die keuse kan jou oorweldig. Ons maak dit maklik.

GROOTKOOP VIR GESINNE

Family-survival-planning.com

Dit maak finansiële sin om items op te gaar wat julle dikwels gebruik, byvoorbeeld sjampoe, sekere blikkieskos of papierhanddoeke.

Koop dit in grootmaat wanneer dit op uitverkoping is – so sal jy jou rande rek. Dié webtuiste verdeel die opgaring in vier fases, wat dit makliker maak om by te hou met jou plan.

Vlak 1: Bêre 1-2 weke se voorraad.

Vlak 2: 3-6 maande se voorraad.

Vlak 3: 1-2 jaar se voorraad.

Vlak 4: 2+ jaar se voorraad.

Die nuttige webtuiste het ook ’n kosvoorraadberekenaar wat jy kan gebruik om te raam hoeveel kos julle nodig het, gegrond op die getal gesinslede en hul ouderdom.

Daar is ook gereelde inskrywings op die webtuiste met raad oor hoe om sonder elektrisiteit te kook, jou eie elektrisiteit op te wek of jou tuin self in stand te hou.

Koop slim

Savorandsavvy.com

’n Brood en melk elke dag, gesonde eetgoed vir die kinders se kosblikke elke tweede dag . . .

Kruideniersware kan ’n groot hap uit jou begroting vat, veral as jy nie baie tyd het om winskopies te soek nie. Dié webtuiste – wat deur Jazmin, oftewel Frugality Girl, bestuur word – deel heerlike sakpas resepte gemik op besige ouers.

Daar is ook weeklikse spyskaartbeplanners wat jy kan uitdruk, inkopielyste en maandelikse begrotings. Als om inkopies en besparing maklik te maak.

Leef kleiner

Centsandorder.com

As jy wil bespaar deur jou leefstyl ’n bietjie in te perk, is Cents + Order die perfekte aanlyn gids om jou aan die gang te kry.

Die blog word bestuur deur ’n enkelma van drie wat haar gesin onderhou deur as rekenmeester te werk.

Sy is dus al heel gekonfyt daarin om ’n veeleisende werk en gesinslewe te balanseer terwyl sy haar rande rek.

Haar raad sluit in hoe om geld op alles te bespaar, van mediese voorraad tot kinderklere en selfs sporttoerusting.

Topwenke oor hoe om jou geldsake te organiseer, drukbare begrotings, maaltyd- en geskenkbeplanners, slim spaaruitdagings – dis als beskikbaar om af te laai.

SPAAR IN SA

Frugalinsa.com

Dit is een van die min blogs uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt.

Die wenke is in pas met huidige vraagstukke in die land, soos die Kaap se waterkrisis en die heersende ekonomiese klimaat.

Nog ’n pluspunt is dat enige produk wat op die webtuiste bemark of aanbeveel word op eie bodem verkoop word.

Natalija Cameron, die vrou agter die blog, strewe na ’n skuldvrye leefstyl en skryf al sedert 2016 daaroor. Haar wenke is dus op haar persoonlike ervarings en lesse geskoei.

Sy bied ook goeie, praktiese wenke, soos hoe om daai laaste druppel opknapper uit die bottel te kry en wat om met jou ou tandeborsel te doen.

Leef goed; bestee minder

Livingwellspendingless.com

Hierdie blog is geskik vir almal – jonk of oud, enkellopend of getroud, ma of nie. Living Well Spending Less is propvol wenke wat wissel van goedkoop gesinsaktiwiteite en geskenkidees binne jou begroting, tot hoe om die volmaakte handsak te koop.

Nes met enige spaargerigte webtuiste word lesers gewys hoe om op eenvoudige maniere geld te bespaar.

En ook hoe om dit wat jy besit te versorg en in stand te hou sodat jy niks onnodig hoef te vervang weens die een of ander foutjie of nalatigheid nie.

Boonop is daar ’n afdeling oor hoe om jou huis en voorraad te organiseer sonder dat jy ’n klomp geld aan bergplek hoef te bestee.

Kontak ons
Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.