Dié wat reken konvensionele banke se dae is getel, is dalk in die kol. Dit kan nog 'n rukkie duur tot dan, maar hier’s intussen 'n paar voorbeelde van apps en aanlyn dienste wat jou finansiële lewe aansienlik kan vergemaklik:

walletdoc


'n Slim en gerieflike manier om meer as 400 van Suid-Afrika se grootste diensverskaffers, insluitend selfoonmaatskappye, munisipaliteite en verkeersafdelings, in 'n japtrap te betaal deur bloot jou selfoon of rekenaar te gebruik.

Dié betalingsoplossing sê jou wanneer rekenings opdaag, herinner jou wanneer jy moet betaal en laat jou toe om deur enige MasterCard, Visa-, American Express- of Diners Club-kaart te betaal.

Jy kan ook verskeie rekenings gelyktydig betaal, terwyl walletdoc jou rekenings en betalingsgeskiedenis digitaal bewaar.

Hul vennootskap met Absa beteken sekuriteitsvlakke is soortgelyk aan groot banke s’n. Maar enigeen kan die app benut, hetsy jy 'n Absa-kliënt is of nie. Dit is beskikbaar by Google Play en die App Store, of loer in by www.walletdoc.com.

Slide

Met die plaaslik ontwikkelde Slide-app kan jy betalings na e-pos-adresse of foonnommers stuur; betalings is letterlik so eenvoudig soos om 'n boodskap met jou selfoon te stuur.

Dit maak ook nie saak watter bank of selfoonnetwerk die stuurder of ontvanger gebruik nie.

Slide sal byvoorbeeld ouers wat geld aan hul kinders wil stuur, of mense wat koste deel (byvoorbeeld huurgeld, konsertkaartjies of restaurantrekenings) goed te pas kom. Werkers wat geld aan hul familie in Suid-Afrika wil stuur, kan dit ook nou so gratis doen.

Slide lyk boonop soos die sosiale media – soos 'n WhatsApp of Facebook Messenger-boodskap – en jy kan glad emoji's saam met betalings stuur. www.getslideapp.com of besoek Google Play of die App Store.

Mama Money

Dié finteg-onderneming het dit sedert hul ontstaan in 2015 aansienlik goedkoper gemaak vir Zimbabwiërs wat in Suid-Afrika werk om geld aan hul mense tuis te stuur. Intussen is die oordragdiens na Mosambiek, Malawi, Kenia, Tanzanië, Ghana, Nigerië en Indië uitgebrei. 

Die maksimum diensfooi is 5%. Gebruikers hoef ook nie 'n Suid-Afrikaanse bankrekening of ID-dokument te hê om vir Mama Money te registreer nie.

Boonop is 'n slimfoon of die internet nie 'n vereiste nie – dié platform is toeganklik sonder lugtyd. www.mamamoney.co.za of laai die app by Google Play af.

MyTreasury

Verdien jy die hoogste moontlike rente op daardie swaar verdiende rande wat jy in 'n geldmarkrekening gesteek het?

Die onafhanklike opbrengsvergelyking-webtuiste MyTreasury.co.za help jou met 'n paar klikslae van die doeltreffendste spaarrekenings vind.

Jy voer net enkele antwoorde in oor jou spaardoelwitte (byvoorbeeld maandelikse bedrag, tydperk) en hul algoritme sif deur 670 rentekoerse by agt finansiële instellings om jou die beste keuse te help maak.

Luno

Jy het al gehoor van digitale geldeenhede, maar waar begin ouens wat jeuk om self te sien waaroor die bohaai gaan?

Een bekende kriptogeld-platform in Suid-Afrika is Luno, wat jou toelaat om in drie stappe byvoorbeeld Bitcoin of Ethereum te koop of verkoop, stuur of ontvang en bewaar.

Jy teken vir 'n gratis Luno Wallet in – op die web of deur Android of iOS – en volg die verifiëringsproses. Dan kan jy bloot deur aanlyn banktransaksies bedrae in jou Luno Wallet deponeer en met 'n paar klikslae Ethereum of Bitcoin koop.

Jou kriptogeld word dan ook deur Luno bewaar, en jy kan so ook aan jou familie of vriende daarvan stuur deur bloot hul e-pos-adres of selfoonnommer te gebruik. www.luno.com

Fincheck

Deur Fincheck.co.za, 'n gratis onafhanklike finansiële vergelykingsplatform, kan jy 'n groot verskeidenheid Suid-Afrikaanse finansiële produkte teen mekaar opweeg.

Jy vul een aansoek in, waarna die webdiens deur banke en ander geakkrediteerde uitleners sif op soek na een wat in jou bepaalde behoeftes kan voorsien – en die waarskynlikste een wat jou aansoek sal aanvaar.

SnapScan


Die een Suid-Afrikaanse finteg-app waarvan selfs die agterosse al bewus is.

Die selfoon-app maak dit baie maklik en vinnig om nou al vir omtrent alle alledaagse dinge te betaal, hetsy jy byvoorbeeld jou maandelikse rekenings van die rusbank sit en betaal of by jou plaaslike naweekmark rondsnuffel.

Sulke betalings word reeds deur 40 000 ondernemings landwyd aanvaar. SnapScan maak dit onnodig om 'n beursie en kaarte saam te piekel. Jy betaal deur bloot die app op jou foon oop te maak, 'n pryskode op jou rekening of in 'n winkel met jou foonkamera te skandeer, en die transaksie te bevestig deur op jou raakskerm te tik.

Met die bekendstelling van 'n nuwe app-ontwerp vanjaar is die betalingsmetodes ook uitgebrei en alles van krag- tot DStv-rekeningbetalings is meer vaartbelyn gemaak. www.snapscan.co.za.