Dit is onwaar dat depressielyers nie lewensversekering kan kry nie.

’n Mens gaan ook nie sommer hoër premies betaal nie. Die algemeenste uitwerking van depressie op langtermynversekeringspolisse is uitsluitings.

Maar wat beteken dit, en hoe werk dit?

Versekeraars wil dít weet

Op die aansoekvorm vir jou polis sal gevra word of jy ’n geskiedenis het van depressie, angs of ander geestesgesondheidsprobleme.

Depressie kom in verskillende vorme by mense voor en die versekeringsmaatskappy moet kan bepaal hoe erg jou toestand is.

Jy is regtens verplig om so ’n toestand aan die versekeraar te openbaar; dit kan die risiko-ontleding en voorwaardes van jou dekking beïnvloed, sê Henk Meintjes van Liberty Life.

Vrae wat jy kan verwag
  • Wat is jou simptome?
  • Watter behandeling ontvang jy en het jy al voorheen ontvang?
  • Wat is jou dokter se besonderhede?

Indien dit van toepassing is, kan jy ook besonderhede gevra word oor: 

  • hospitalisering;
  • gevalle toe jy weens die toestand nie kon werk nie; en
  • selfdoodpogings.  

Uitsluitings

Jou antwoorde help die versekeraar om te bepaal hoe groot die risiko is dat jy in die toekoms byvoorbeeld weens depressie nie sal kan werk nie.

Dave Ruiter van Venn-Sure Consulting sê as depressie ’n risiko is, sal versekeraars dit meestal ’n uitsluiting maak, maar nie jou premies verhoog nie.

Uitsluitings is voorvalle wat nie deur jou polis gedek word nie. Dit is gewoonlik vir toestande wat reeds ’n probleem is en ’n groot risiko vir toekomstige versekering inhou.  

Ongeskiktheidsdekking

Gewoonlik is depressie ’n uitsluiting op ongeskiktheidsdekking. Dave verduidelik daar is twee soorte ongeskiktheidsdekking: enkelbedragongeskiktheid en inkomstebeskerming.

Enkelbedragongeskiktheidsdekking

  • Met enkelbedragongeskiktheidsdekking word ’n kontantbedrag betaal as jy permanent ongeskik raak en gevolglik nie kan werk nie.

Inkomstebeskermingsdekking

  • Inkomstebeskermingsdekking betaal ’n maandelikse inkomste uit as jy tydelik of permanent ongeskik raak. Omdat depressie daartoe kan lei dat iemand vir lang tye nie kan werk nie, is dit gewoonlik ’n uitsluiting op albei soorte polisse.
  • Dit beteken jy kan vir enige ander rede vir ongeskiktheidsdekking eis, soos as jy in ’n ongeluk verlam word en nie meer jou werk kan doen nie, maar nie as jy weens depressie nie kan werk nie.

Dit kan hersien word

As daar weens depressie ’n uitsluiting op jou polis is, kan dit in sommige gevalle hersien word. Dit is wanneer die toestand tydelik van aard of in reaksie op ’n situasie was, byvoorbeeld stresvolle werkomstandighede, ’n sterfte of nageboortelike depressie, sê Dave.

Hoe lank dit ’n uitsluiting is, hang van die polishouer se toestand en die versekeringsmaatskappy se reëls af.

Dit kan dan gebeur dat jy depressief is en daarvoor behandel word, maar dat dit nie ’n voortdurende toestand is nie. Sou jy in dié tyd vir ’n polis aansoek doen, kan versekeraars die depressie ’n uitsluiting maak.

Hoe lank dit ’n uitsluiting is, hang van die polishouer se toestand en die versekeringsmaatskappy se reëls af.

Soms sal die uitsluitingsklousule sê dit is oor een of twee jaar hersienbaar, maar as daar geen so ’n bepaling is nie, kan jy die versekeraar enige tyd weer nader om die uitsluiting te hersien. Dan kan dit verwyder word.

Beplan vir uitsluitings

As een versekeraar depressie uitgesluit het, sal ander versekeraars waarskynlik dieselfde doen.

As jy geldelik wil beplan vir ’n tyd wanneer jy weens depressie dalk nie sal kan werk nie, moet jy ’n finansiële raadgewer spreek. Dié kan jou ’n spaarplan help saamstel sodat jy in sulke tye geld het vir uitgawes. Jy kan dalk ook by jou werk betaalde siekteverlof neem.  

Lewensdekking

Depressie is gewoonlik nie ’n uitsluiting op lewensdekking nie. Dit sal waarskynlik net ’n uitsluiting wees as iemand homself as gevolg daarvan al ernstig beseer of sy lewe probeer neem het.

Selfdood is oor die algemeen ’n tweejaar-uitsluiting op lewenspolisse.

Wanneer die risiko te groot is dat die depressielyer hulself om die lewe kan bring, kan lewensdekking geweier word.

Selfdood is oor die algemeen ’n tweejaar-uitsluiting op lewenspolisse. Dit beteken as die polishouer binne twee jaar nadat hy ’n lewensversekeringspolis uitgeneem het homself om die lewe bring, sal sy begunstigdes geen geld ontvang nie.

Belangrik!

Wees tydens jou aansoek om lewensdekking baie eerlik daaroor as jy dalk aan depressie gely het of steeds ly.

As die versekering jou mediese geskiedenis nagaan en agterkom jy het dié inligting weerhou, word dit beskou as nie-openbaarmaking, al hou dit nie regstreeks met jou eis verband nie. ’n Kans bestaan dat die versekering dan nie uitbetaal nie, al eis jy ook vir iets anders.

Dave sê versekeringsmaatskappye betaal verreweg die meeste eise uit, maar as hulle die eiser se mediese geskiedenis nagaan en agterkom hulle het nie die volle waarheid vertel nie, sal dit lol. 

WENK

Versekeraars se produkte en voorwaardes verskil. Vra ’n finansiële raadgewer om die opsies vir jou te vergelyk.

Kry hulp hier
322 miljoen
  • Soveel mense ly wêreldwyd aan depressie.
  • Depressie is die grootste oorsaak van ongeskiktheid vir werk.

80%
Dis hoeveel depressielyers danksy antidepressante ’n sinvolle en gelukkige lewe kan lei.

KONTAK ONS
Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie

Bronne: Wêreldgesondheidsorganisasie, Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep