Bouwer Bosch

Musikant

Bouwer Bosch
Bouwer Bosch Foto: Tumelo Leburu

Met Straatligkinders was ek nog baie jonk, en toe ons ná ses jaar van toer ’n break vat, besef ek dat ek niks betekenisvols met my inkomste daaruit gemaak het nie.

Dit was ’n duur les, want toe’s ek platsak. Dit het ’n rukkie geneem om te besef watter belegging musiek vir my is. Deesdae kom baie van jou inkomste met stroming op YouTube, Facebook en TikTok.

Elke liedjie is soos ’n klein eiendom: Wanneer mense daarna luister, betaal hulle huurgeld. Dié geld bou op, en jy kan besluit hoe dit uitbetaal, byvoorbeeld groot een- of tweejaarlikse bedrae.

Nog ’n belegging waarby ek baat vind, is ’n woonstel oorkant die Potchefstroomse universiteitskampus. Die studentehuurders betaal die eiendom af, maar dis soos ’n goeie spaarrekening vir my. 

Ek belê graag in jong kuns­tenaars, wat op langter­myn vir meevallers kan sorg. Onlangs – ná die lees van Manage Your Money Like a F#cking Grownup deur Sam Beckbessinger – het ek besef watter swak belegging dit is om met ’n kar met ’n maandelikse paaiement van R7 000 te ry terwyl die waarde deurgaans daal.

Ek verkoop dit toe en ry nou met ’n voertuig sonder enige paaiement. So spaar ek maandeliks R7 000.

Liesl Laurie

Model

Liesl Laurie
Liesl Laurie Foto: Instagram/Liesl Laurie

My gunsteling is ’n woonstel wat ek twee jaar gelede gekoop het. Hoofsaaklik omdat dit altyd my belegging sal wees, of ek nou trou of by my man gaan woon, of in ’n ander provinsie of land werk.

Wat ook al gebeur, ek het hierdie bate wat in waarde groei. Ek betaal nog ’n deel van die verband af, en ek beskou dit as ’n maandelikse belegging in ’n goeie bate.

Al verhuis ek, kan ek dit uitverhuur, en dan kan die huurinkomste die verband dek, wat beteken dat die woonstel homself afbetaal.

Dis in ’n goeie gebied, modern en goed toegerus, en dus maklik om te verhuur of as Airbnb te gebruik. Dit kan my lewenslank ’n inkomste gee.

Roeline Daneel

Aktrise

Roeline Daneel
Roeline Daneel Foto: Misha Jordaan

Gelukkig het my sakeman-­pa my en my broers van kleins af oor beleggings opgewonde gemaak. Hy het ons elkeen ’n bedraggie gegee om te belê en dan saam op die sakeblaaie gekyk hoe ons aandele vorder.

As jong volwassene het hy ’n aandeleportefeulje aan my oorhandig waaraan hy sedert my geboorte gebou het.

Danksy dit kon ek my eerste woonstel koop en later weer verkoop om ’n eerste huis te koop. Dit het my baie geleer en ek sal graag dieselfde vir my kind wil doen.

’n Ewe lekker belegging deur my pa was om destyds bottels goeie rooiwyn van my geboortejaar te koop. Ek het steeds daarvan en kan verklaar die 36-jaar-oud proe nog heerlik! 

Schalk Malan

Uitvoerende hoof van BrightRock

Schalk Malan
Schalk Malan Foto: Verskaf

My beste belegging ooit was om aktuariële wetenskap te studeer. Dit het my in staat gestel om my volgende beste belegging te doen: om BrightRock te begin.

Dit was die beste besluit om al my tyd en hulpbronne te belê in ’n onderneming wat ek verstaan en kan opbou.Ek sal altyd iemand aanmoedig om ’n eie onderneming te begin, maar met voorbehoud.

Maak seker jy kry eers die nodige ervaring, doen jou navorsing en leer om die beste in daardie bedryf te wees. Weet wat jou diens of produk in hierdie gespesialiseerde wêreld sal onderskei.

Die wêreld raak so gespe­sialiseerd en jy moet weet wat jou sal onderskei, of dit ’n produk, diens of kombinasie daarvan is. Moenie net jou geld in die onderneming belê nie, maar ook jou tyd.

En met tyd bedoel ek nie net kantoorure nie. Jy moet jou onderneming drink, eet en slaap.

Jaco Prinsloo

Geserti­fiseerde finansiële beplanner: Alexander Forbes

Jaco Prinsloo. Foto: Verskaf
Jaco Prinsloo. Foto: Verskaf

Ek was 23 toe my pa vir my sê: “Moet nooit jou aftreegeld onttrek as jy van werk verander nie. Belê dit vir jou ouer self.”

En ek het. As jy van werk verander, kan jy kies om jou aftreespaargeld weer te belê, hetsy in jou huidige aftree­fonds of ’n bewaringsfonds, of om dit as kontant te trek. ’n Hoop geld terwyl jy jonk is, klink aantrek­lik, maar dit gaan ’n geweldige uitwerking hê op jou aftreegeld.

Dis omdat jy die grootste deel van jou aftreegeld in die vorm van rente verdien, en nie uit die bydraes self nie. Danksy saamgestelde rente verdien jy oor tyd rente op rente.

My raad: Herbelê jou aftreegeld wanneer jy van werk verander. Jy sal eendag baie dankbaar wees. 

Kry hier nog raad