Wanneer iemand sterf terwyl hy of sy aktief tot ’n aftreefonds bydra, word ’n sterftevoordeel gewoonlik uitbetaal, maar dis nie deel van die boedel nie. Hierdie sterftevoordeel is dus nie onderhewig aan die gewone boedelbelasting nie.

Dit is beskerm teen skuldeisers, en die eksekuteur van die boedel het geen seggenskap daaroor nie.

Dis die trustees van die aftreefonds se wetlike plig om te sorg dat die geld aan die oorledene se gesin of afhanklikes uitbetaal word. Maar hoe kan afhanklikes eis?

Hier is vyf dinge wat jy moet weet

1. Watter dokumentasie moet ek indien?

Elke aftreefonds het ’n eisvorm wat ingedien moet word; as die oorledene ’n lid van sy werkgewer se aftreefonds was, sal hulle dit verskaf en help invul. Die algemeenste rede vir vertragings met die betaling van ’n sterfte-eis is onvolledige of verkeerde dokumente. Om dit te verhoed, is dit noodsaaklik dat die aanvullende inligting reg is.

Die oorledene se werkgewer sal aan jou ’n lys kan verskaf, maar dit behels gewoonlik die volgende:

  • ’n gewaarmerkte afskrif van die doodsertifikaat;
  • die identiteitsdokument of paspoort van die oorlede aftreefondslid;
  • ’n afskrif van ’n pensioengesteunde huislening (indien van toepassing); en
  • bewyse van finansiële afhanklikheid (sien punt nommer 2).

2. Hoekom is die bewyse van finansiële afhanklikheid so belangrik?

Dit gaan nie hier oor wie die begunstigdes in die oorledene se testament is nie. Want die trustees van ’n aftreefonds besluit hoe die sterftevoordeelgeld verdeel word.

Die begunstigdes van die testament sal in ag geneem word, maar die trustees moet seker maak dis ’n regverdige verdeling. Hulle wil dus weet wie almal van die oorledene afhanklik was sodat dié mense versorg word.

Afhanklikes sluit in huweliksmaats, kinders en enigiemand wat kan bewys hulle was geldelik afhanklik van die oorledene.

Bewyse sluit in: bankstate, huwelik- en geboortesertifikate, bewyse van gesamentlike eienaarskap soos huisverbandstate en dokumentasie van voogdyskap.

Onthou, al was die oorledene in gemeenskap van goed getroud, is die aftreefonds se sterftevoordeel nie onderhewig aan die huweliksreg nie. Dit is dus ook nie deel van die gemeenskaplike boedel nie.

3. Hoe besluit die trustees oor die geldverdeling?

Die trustees moet alle afhanklikes en begunstigdes opspoor en besluit hoeveel elke afhanklike kry en hoe dit betaal sal word. Afhanklikes word gewoonlik soos volg gegroepeer:

  • Wettige afhanklikes soos ’n eggenoot en kinders.
  • De facto-afhanklikes is diegene wat hy nie wetlik verplig was om te ondersteun nie, maar wat tog van hom afhanklik was, soos ’n volwasse kind.
  • Toekomstige afhanklikes. Dis mense wat hy nie ten tyde van sy dood ondersteun het nie, maar wat hy in die toekoms wel sou moes ondersteun, soos die oorledene se bejaarde ouers.

Om ’n regverdige besluit te neem, sal die trustees onder meer die volgende faktore oorweeg:

  • ouderdom;
  • verhouding met die oorledene;
  • hul geldsake;
  • hul toekomspotensiaal en vooruitsigte; en
  • die totale bedrag van die aftreebesparing wat uitgedeel moet word.

4. Wat van die oorledene se begunstigdes?

Die trustees kan kies om ’n begunstigde geen uitbetaling te gee nie aangesien die wet nie sê dat elke begunstigde geld moet kry nie.

Hulle moet eerder kyk na die behoeftes van elke afhanklike en die bedrag wat vir verspreiding beskikbaar is. Maar dit kan die trustees baie tyd spaar as die oorledene se begunstigdevorm reg ingevul was en die afhanklikes benoem is.

Die trustees het volgens wet 12 maande om die afhanklikes op te spoor. As die aftreefondslid op die begunstigdevorm ook die betrokke persone se ID- en kontakbesonderhede verskaf, kan die proses vinniger afgehandel word.

5. Wat kan ek doen as ek oor die proses ongelukkig is?

Jy moet eers jou klagte skriftelik aan die aftreefonds voorlê. Die fonds moet dit dan oorweeg en binne 30 dae ná ontvangs jou skriftelik beantwoord.

WENK: Dis die aftreefondslid se plig om die begunstigdevorm gereeld by te werk. Elke keer as jy by ’n nuwe fonds aansluit, van werk verander of as jou familie-omstandighede verander, moet ’n nuwe vorm ingevul word.

As jy nie tevrede is met die antwoord nie of nie binne 30 dae geantwoord word nie, mag jy by die pensioenfondsberegter hulp soek. Jy moet bewys dat jy die klagte aan die fonds voorgelê het.

Kry hier nog raad