Volgens sielkundiges is geld een van die grootste oorsake van wrywing in verhoudings. En Sanlam se Benchmark-navorsing wys 7 uit 10 Suid-Afrikaners is onder finansiële stres.

Ons kyk hoe jy hierdie netelige saak saam met ’n ge­liefde kan aanpak – en hoe julle dit kan bestuur.

Maak seker jy verstaan die implikasies van jou maat se skuld

As julle dit oorweeg om te trou, moet julle liewer uit die staanspoor openlik wees oor jul geldgewoontes, maan Kenosi Magosha van Sanlam Persoonlike Finansies.

As jou aanstaande alewig vra dat jy help met sy skuld, moet jy jou afvra wie nou eintlik by die verhouding baat vind.

As jy steeds ernstig is, kan julle saam ’n finansiële beplanner raadpleeg om ’n praktiese skuldplan vir jou aanstaande op te stel.

Onthou, wanneer julle getroud is, sal die aard van jul huwelikskon­trak bepaal of jy dalk vir jou wederhelf se skuld sal moet pa staan.

Trou julle binne gemeenskap van goedere, sal julle gewoonlik verantwoordelik wees vir mekaar se skuld.

Prakties kan ’n skuldinvorderaar dus jou maat se persoonlike skuld van jou eis as dié dit nie self kan betaal nie.

WENK: Moenie borg staan vir iemand nie. Jy sal die skuld moet delg as die persoon dit nie doen nie – selfs al is julle reeds uitmekaar. Jou naam is op die kontrak . . .

Maar dis baie belangrik om ook te weet dat alle eggenote, of hulle nou binne of buite gemeen­skap van goedere getroud is, ingevolge ons wetgewing gesamentlik aanspreeklik is vir huishoudelike skuld.

Skuld soos huurgeld, die aankoop van klere en kos en mediese uitgawes vir kinders kan dus deur die skuldeisers van enigeen van die eggenote verhaal word, al het die eggenote huweliksvoorwaardes aangegaan.

Opper so die kwessie van skuld met jou maat

Dis belangrik om redelik en be­redeneerd hieroor te praat.

  • Moet daarom nie geldsake bespreek wanneer julle moeg of baie emo­sioneel is nie.
  • Praat eerlik oor julle ­albei se geldsituasie sodat een nie soos die swartskaap voel nie.
  • As julle heeltyd vassit, betrek ’n derde mens of ’n finan­siële adviseur as bemiddelaar sodat julle praktiese planne kan maak eerder as om in woede te verval.

Hoeveel skuld is daar?

Julle kan nie skuld bestuur as die volle omvang daarvan nie bekend is nie. Kenosi sê korttermynskuld – met ander woorde kredietkaartaankope in klere- en ander winkels – is dikwels die groot probleem.

Maak ’n lys van alle winkel- en ander skuld. Kyk op jul bankstate hoeveel geld aan wat bestee word. Julle kan ook ’n kredietrekord kry.

25%
Soveel van hul maandelikse kontantsalaris ná aftrekkings bestee Suid-Afrika se middelinkomste-verbruikers slegs aan die rente op hul skuld.
 
Bron: FNB-studie oor geldbestuursgedrag van handels-bankkliënte (inkomstegroep R7 000 tot R60 000 per maand), April 2019

Praktiese maniere om skuld te verminder

Julle weet nou wat die omvang van die skuld is. Maak saam planne om die “skuldenaar” se besteding te verminder. Skrap onnodige uit­gawes en kyk hoe hy of sy slimmer kan koop.

Skuld op kos en leefstylitems kan beteken dat iemand bo hul vermoëns leef. Moedig jou maat aan om binne sy of haar inkomste te leef. Gebruik enige geld wat so gespaar word om skuld vinniger af te betaal.

  • Betaal meer as die minimum maandelikse bedrag op skuld wanneer jy kan.
  • Gee dinge soos daardie te duur selfoon of meubels wat jy ingevolge ’n maandelikse betaalooreenkoms gekoop het terug. Die kredietverskaffer kan dit dan verkoop om die uitstaande bedrag te vereffen.
  • Verkoop onnodige luukshede en besittings.

Wie kan jou help om skuld te bestuur?

Kry professionele raad as julle verlore voel. Finansiële beplanners soos die FPI of FIA kan ’n plan gegrond op jou maat se inkomste uitwerk wat hom help om sy skuld te delg – maar steeds sy noodsaaklike lewenskoste dek. Hulle kan ook langtermynplanne opstel sodat jou maat kan spaar en belê.

Skuldraadgewers kan gratis skuldontledings doen en aanbevelings gee. Hulle mag jou eers ’n tarief vra wanneer jy amptelik onder skuldhersiening is, sê Matthys Potgieter van DebtSafe.

Jy kan ook jou bank om raad vra.

Kom neem deel aan die gesprek