Baie van ons het nie middele om groot veranderings aan ons geldsake te maak nie. Moenie ontmoedig voel nie. Begin klein en stel realistiese, haalbare doelwitte.

Elke ekstra sent wat jy spaar of slimmer bestee, sal mettertyd vir jou groter finansiële welvaart besorg. Hoe gouer jy begin, hoe groter die beloning. Hier is ’n paar praktiese wenke.

Jy moet begroot

Almal moet ’n persoonlike begrotingsplan hê en dit moet gereeld aangepas word. Jou begroting is ’n basiese plan waarin jy al jou inkomstebronne, finansiële verpligtings en skuld lys. Die repokoers is in November 2018 met 0,25% verhoog.

Dit beteken al jou skuld, soos jou huis- en motorlening, sal duurder wees. Jou uitgawes moet volgens die hoër rentekoers aangepas word sodat jy kan sien hoeveel jy oorhet nadat noodsaak­like betalings afgetrek is.

Jy moet ook beplan vir uitgawes wat jaarliks styg, soos skoolgeld. Wanneer jy alles in ag geneem het, kan jy jou maandelikse besteding prioritiseer. Jy mag nie meer bestee as wat jy verdien nie.

Stel ’n skuldplan op

Delg skuld gouer deur maandeliks meer as die minimum bedrag te betaal, al is dit net 10%. En vermy terselfdertyd nuwe skuld.

Die geld wat loskom wanneer jy ’n rekening gedelg het, kan jy dan gebruik om ander skuld te delg. Terwyl die momentum opbou, kwyn jou skuldlas.

As jy skuldkonsolidasie oorweeg (wanneer jy ’n lening uitneem om al jou skuld gelyktydig te delg), moet dit ’n laer rentekoers hê as jou bestaande skuld. Anders gaan jy meer rente betaal as wat jy sou.

Die afbetalingstydperk moet ook nie so lank gerek word dat jy eindelik meer afbetaal weens rente nie.

Stel ’n testament op

As jy nie een het nie, beteken dit jy sterf intestaat. Dan besluit die staat, nie jy nie, hoe jou besittings verdeel word.

Jy moet gereeld jou testament aanpas na gelang van omstandighede, soos wanneer jy ’n huis koop of ’n kind ryker word.

Begin so vroeg moontlik jou neseier bou

Moenie uitstel om ’n nes­eier vir jou oudag te bou net omdat jy nog? in jou 20’s is nie.

Belinda Carbutt van Allan Gray verduidelik waarom met die volgende voorbeeld van Henry en Adam, wat albei 25 is en elke maand R1 000 besteebare kon­tant het nadat hul noodsaaklike uitgawes betaal is.

  • Henry begin dadelik vir sy oudag spaar en belê 40 jaar lank R1 000 elke maand. Met ’n beleggingsopbrengs van 10% sal sy beleggingsaldo R6,3 miljoen wees wanneer hy 65 is.
  • Adam bestee sy R1 000 aan ander dinge. Eers op 45 jaar begin hy maandeliks R2 000 wegsit vir sy oudag. Op 65 is sy belegging­saldo net R1,5 miljoen.

Deur 20 jaar vroeër te begin spaar het Henry ’n balans wat 4,2 keer so groot is as Adam s’n ondanks die feit dat hulle omtrent dieselfde bedrag belê het.

Wenk
Moenie betaal vir dinge wat jy nie gebruik nie. Kyk of daar aftrekkings op jou bankrekening is vir lidmaatskapsfooie wat jy nie nodig het nie.

Vra altyd die kenners

Vra ’n finan­siële beplanner of jou beleggings nog die beste opbrengs gee. Moet jy dalk eerder jou effektetrustfonds na een met ’n laer fooi en ’n beter opbrengs skuif?

Onthou jou beleggings moet altyd meer as die inflasiekoers groei sodat jou geld koopkrag kan hou.

Beplanners kan ook oor jou langtermynversekering raad gee. Byvoorbeeld, is jou lewensdekking voldoende om vir jou gesin te sorg as jy skielik sterf? Het jy genoeg inkomstebeskerming indien jy jou werk sou verloor?

Jy kan beplanners vir konsul­tasiesessies spreek sonder om ’n spaar- of versekeringsproduk uit te neem.

Beplan nou vir die volgende feestyd

Baie van ons besef eers in Januarie hoe die vakansie en feestyd ons sakke geruk het. Voorkom onnodige  besteding deur vooruit te beplan en te spaar.

  • Oortuig ’n vriend om saam met jou te begin spaar. Besluit hoeveel julle maandeliks gaan wegsit en motiveer mekaar.
  • Jy kan ook by ’n beleggingsklub met vriende aansluit, basies ’n stokvel waar almal maandeliks ’n spesifieke bedrag spaar en julle mekaar daarby hou.

Werk jou kortter­mynversekering by

  • Haal jou huis- en motor­versekeringsdokumente uit en kyk of jou voertuigwaarde en huisinhoud nog korrek is.
  • Verwyder items van jou ver­sekeringspolisse wat jy nie meer het nie, soos ’n vorige selfoon of skootrekenaar.
  • Doen navraag by verskillende maatskappye oor goedkoper premies. Vergelyk hul totale dekking, vereistes en uitsluitings met mekaar.
48%
  • Soveel stedelike Suid-Afrikaners stel begrotings saam met hul lewensmaats op vir hul huishouding.
  • Dis heelwat meer as die 40% in 2017 en 36% in 2016.

Bron: Old Mutual-Spaar-en-Beleggingsmonitor 2018

Kry hier nog raad


Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.