Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Met 2021 wat nog lank voor jou uitstrek, is dit nou die ideale tyd om na jou geldgewoontes en bestedingspatrone te kyk. En jouself af te vra: Hoe kan ek slimmer te werk gaan? Toets jouself aan hierdie sewe vrae.

WAAR GAAN MY GELD HEEN?

Dis belangrik om te weet hoeveel geld jy uitgee op dinge waarsonder jy kan klaarkom; en hoeveel jy aan noodsaaklike uitgawes bestee.

Kyk na jou bankstate van die afgelope drie maande. Het jy getrou al jou finansiële verpligtinge nagekom voor jy geld op ander dinge uitgegee het? Om jou motorpaaiement te betaal en die kinders se skoolklere te koop is belangriker as alledaagse vermaak of duur vakansies.

Betaal eers jou noodsaaklike uitgawes. Dan kan jy uit dit wat oorbly vir vermaak betaal.

BESTEE EK GELD AAN DINGE WAT REGTIG SAAK MAAK?

Jou bestedingsgewoontes moet waarde skep en vir jou iets beteken. Sommige maandelikse uitgawes is onaangenaam maar noodsaaklik, byvoorbeeld sekere versekeringspolisse. Daarbenewens moet jy sorg dat jy nie jou hele inkomste gebruik net om jou maandelikse uitgawes te dek nie. Dis belangrik dat jy ook geld opsysit om toekomstige welvaart te bou.

Vra jouself dus of jy nie met ’n goedkoper motor of woonplek oor die weg kan kom nie. Moenie sommer net die bank se maksimum leningsbedrag leen nie. So kan jy ekstra geld vir spaarplanne hê. Kyk of jou uitgawes met jou langtermyndoelwitte ooreenstem. As jy na finansiële sekuriteit op jou oudag hunker, maar nie genoeg geld daarvoor wegsit nie, moet jy kyk wat jy kan verander om dit wel te kan doen.

OOR WATTER ONLANGSE AANKOOP IS EK SPYT?

Almal skop hulself soms omdat hulle geld blaas op iets wat onnodig of te duur is. Vra jou hoekom jy dit gedoen het en hoe jy dieselfde slaggat kan vermy.

  • Was jy dalk depressief en besluit toe op koopterapie? Vermy dan liefs die winkels as jy terneergedruk voel.
  • Is jy dalk ’n impulsiewe koper? Vra jou vriende om jou daarmee te help. Bel of stuur vir hulle ’n boodskap voor jy iets koop wat onnodig of te duur is. Vermy vriende wat jou net in jou kwaad sal sterk. Dit kan ’n paar probeerslae verg, maar mettertyd sal jy jou slegte koopgewoontes kan verbreek.

HOE SOU MY GELDSAKE LYK SONDER KREDIETKAARTSKULD?

Gaan kyk hoeveel geld jy elke maand bestee met winkel- of kredietkaarte waarop die rentekoerse hoog is. En gaan kyk dan hoeveel ekstra geld jy sou hê as jy nie daardie kaarte so maklik uitgehaal het nie.

Vra jou af of jy ’n goeie voorbeeld vir jou kinders stel. Hulle moet by jou leer om slim te bestee, te begroot en te spaar. Dis nooit te vroeg om geldslim te word nie.

Kaartskuld is duur skuld. Dis geld wat belê of beter bestee kan word – veral as jy nie eens kan onthou wat jy als daarmee gekoop het nie.

Maak ’n plan om die hoë renteskuld so gou moontlik te betaal. Probeer om die kleinste skuldbedrag eerste te delg, en gebruik dan die kontant wat jy so losmaak om die volgende kaartrekening te betaal, en so aan.

HOE KAN EK MY INKOMSTE VERGROOT?

Probeer om nog geld te verdien. Die ekstra kontant kan jy spaar of gebruik om jou skuld vinniger te delg of uitgawes te dek sonder om nuwe skuld te maak.

  • As jy deeltyds werk, gesels met jou werkgewer oor die moontlikheid om meer ure in te sit.
  • Doen aansoek vir poste wat bevordering behels.
  • Jy kan dalk nauurs vryskutwerk doen.
  • Verbeter jou kwalifikasies sodat jy op langtermyn meer geld kan verdien. As iets jou terughou of keer om meer te doen, wees eerlik met jouself oor wat dit is en ondersoek maniere hoe om dit te oorkom.

WAAR WIL EK OOR DRIE JAAR WEES WAT GELD BETREF?

Stel vir jou spesifieke doelwitte wat meetbaar en haalbaar is, byvoorbeeld om geld te spaar vir ’n huisdeposito, studie of die afbetaling van skuld. En beraam dan planne om daardie doelwitte te bereik. Werk uit hoeveel jy elke maand ekstra moet wegsit en waar jy daardie ekstra geld kan afknyp of verdien.

LUISTER EK NA DIE REGTE MENSE?

Vra jou af of die mense met ’n invloed op jou leefstyl wel ook goeie finansiële gewoontes het en wat jy by hulle kan leer. Indien nie, moet jy dit oorweeg om na ander mense te luister.

Vra mense wat finansieel suksesvol is wat hulle doen om dit reg te kry. Hulle kan jou wenke gee en dalk na ’n goeie finansiële beplanner verwys. Maar vermy mense wat bo hul vermoëns leef en skuld maak om ’n sekere leefstyl te handhaaf. 

Kry hier nog raad

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.