Op motorveilings kry jy lekker winskopies. 

Dis gewoonlik voertuie wat deur banke en ander instellings teruggeneem is omdat die koper nie die paaiemente kon betaal nie. 

Dit word dan opgeveil sodat die finansiers hul uitstaande geld kan terugkry. 

Die SA Instituut vir Afslaers (Saia) reguleer die veilingsbedryf. Maak seker die afslaer is as lid by Saia geregistreer. 

1. BESLUIT - VOORAF OP WATTER MOTOR JY WIL BIE

Kyk op Saia, banke en afslaers se webtuistes vir veilingskennisgewings. 

Dit word dikwels ver­gesel deur aanlyn katalogusse van beskikbare motors. 

So kan jy vroegtydig kyk waarin jy belangstel.

Jy kan ook op vasgestelde dae voor die veiling die motors fisiek op die perseel inspekteer. Hulle word gewoonlik volgens prysklas of soort gegroepeer.

Elke voertuig se inligting – ­kilometerlesing, model, vervaardigingsjaar en spesifikasies – moet aangedui word. 

As jy ’n goeie afslaer gebruik, behoort die inligting korrek te wees. 

Jy kan die voertuig nie toetsbestuur nie, maar gewoonlik kan jy die enjin aanskakel om daarna te luister. 

Voornemende kopers mag hul eie werktuigkundige bring om die enjin te fynkam.

Arrive Alive beveel aan jy gaan die VIN (voertuigidentifikasienommer) op die enjin, elders aan die voertuig en op die registrasiedokumente na. 

As die VIN nie oral ooreenstem nie, kan dit beteken groot dele van die voertuig is weens ’n groot ongeluk vervang. 

2. OP ’N VEILING KOOP JY VOETSTOOTS  

Dit beteken die voertuig word sonder enige waarborg verkoop. 

Sorg dus dat jy dit vooraf so goed moontlik inspekteer vir moontlike foute. 

Saia waarsku ook jy sal nie die voertuig later kan teruggee as jy ontevrede is daarmee nie. 

As koper het jy geen wetlike verbruikersbeskerming vir motors wat jy op ’n veiling gekoop het nie.

Die wet vereis wel dat die af slaer enige foute waarvan hy ­bewus is skriftelik uitstippel – van enjinprobleme tot duike – voor jy dit koop. Maak dus seker daarvan. 

3. JY MOET ’N REGISTRASIE-FOOI BETAAL OM TE MAG BIE

As jy nie suksesvol bie nie, sal die registrasiefooi aan jou terugbetaal word. 

As jy ’n voertuig op ’n veiling koop, sal die registrasiegeld eindelik van die koopsom afgetrek word. 

As jy net veiling toe gaan as ’n waarnemer en nie om te bie nie, hoef jy gewoonlik nie die registrasiefooi te betaal nie. 

4. SO BIE ’N MENS

Jy kan slegs tydens die veiling ’n aanbod op die voertuig maak. 

Besluit vooraf watter voertuig jy wil koop en wat jou begroting is, anders kan jy meegevoer raak en meer bie as wat jy kan bekostig.

  • Gewoonlik stel die afslaer ’n prys voor, byvoorbeeld R10 000, en dan weer R10 500.

Al wat jy as bieër moet doen, is om jou hand te lig om te wys jy stel belang.

As die prys te hoog begin raak, laat sak jou hand. Iemand anders kan namens jou bie, maar jy moet daar wees om die oordragdokumente te onderteken.

Anders word die mens wat gebie het as die koper beskou en vir alle koste en voorwaardes verantwoordelik gehou. 

  • Deesdae raak aanlyn veilingsplatforms ál gewilder.

Sommige van die veilings word op ’n spesifieke tyd regstreeks gestroom.

Ander aanlyn veilings sal byvoorbeeld ’n week lank aanbiedings aanvaar voor dit op ’n bepaalde tyd sluit.

Eers dan oorweeg die verkoper die aanbiedings wat in die loop van die vasgestelde week geplaas is.

Sulke web­tuistes het gewoonlik inligting oor hoe die proses werk.

5. HOE BETAAL EK, EN IS DAAR ENIGE ANDER KOSTE? 

Jy moet voorsiening maak vir BTW op die verkoopsom. 

En vra vooraf of jy afslaerskommissie moet betaal en hoeveel dit is. Sommige afslaers vra nie kommissie van jou as koper nie.

Jy sal moontlik ook ’n dokumentasiefooi vir die motor se ­registrasiedokumente aan die afslaer moet betaal. Vra vooraf hoeveel dit sal wees. 

Daar word gewoonlik van die koper verwag om die motor dieselfde dag nog ten volle te betaal en weg te neem. 

Betaling kan gewoonlik met behulp van ’n elektroniese oordrag of gewaarborgde tjek gedoen word. 

Wenk
Neem dokumente soos jou ID en bewys van woonadres saam vir Fica-doeleindes.