Maak net seker jy kry die beste aanbod vir jou voertuig, want dit kan verskil van handelaar tot handelaar.

En kies ’n nuwe motor waarvan die herverkoop- en inruilwaarde in die lang duur goed sal wees. Hier is vyf dinge om te weet voor jy begin onderhandel.

1. WAT BEÏNVLOED DIE INRUILWAARDE?

Die ouderdom/jaarmodel van jou motor, algemene toestand, kilometerlesing, herstel- en onderhoudsgeskiedenis is alles bepalend. Hoe laer die kilometers en hoe beter die toestand, hoe beter die inruilwaarde.

Jou voertuig se fabrikaat en klas is ook belangrik. Die aanlyn waardeerder True Price se jongste statistieke wys die topvyfvoertuie met die beste herverkoopwaarde is die Volkswagen Tiguan, Kia Picanto, Volkswagen Polo Vivo, Volkswagen Golf en die Kia Rio Top. Ander handelsname in die toptien is Toyota, Hyundai, Renault en Isuzu.

2. HOE WEET EK WAT DIE WARE INRUILWAARDE IS?

Verstaan die vaktaal.

Verkoopprys

Die prys wat jy kan verwag om te betaal as jy ’n voertuig wil koop. Handelaars het uitgawes om motors te bemark, te onderhou en te verkoop, en reken ’n mate van wins by die voertuigpryse in. Dit is meer as die handelsprys.

Handel- of markprys

Wat jy gaan kry as jy jou motor wil inruil of verkoop. Dis gewoonlik laer as die verkoopswaarde, en die gemiddelde prys vir ’n voertuig in goeie toestand.

Boekiewaarde

Dieselfde as die handelsprys. Dit verwys na die gemiddelde prys wat betaal word vir sekere gebruikte voertuie deur groothandelaars. TransUnion se digitale Autodealer’s Guide het die waardes van sowat 200 voertuighandelsname en 3 000 modelreekse.

Handelaars raadpleeg dit vir gemiddelde waardes. As jy self wil uitvind wat jou motor se moontlike verkoopprys is, kan jy op TransUnion se webtuiste teen R25 ’n motorwaardeverslag aanvra.

Die beste is om self jou motor na ’n paar handelaars te neem. Hulle sal jou voertuig besigtig en ’n aanbod maak. Handelaars beveel aan dat jy eers jou voertuig laat skoonmaak, sodat dit op sy beste vertoon.

3. WAT IS DIE BESTE INRUILTYD?

Die beste tyd om ’n voertuig te ruil is wanneer jy die gelykbreekpunt bereik, sê WesBank. Dus, wanneer die inruilwaarde omtrent dieselfde is as die bedrag wat jy nog op die motor skuld. Motorlenings word meestal vir 72 maande aangegaan, en dan word die gelykbreekpunt dikwels tussen 24 en 36 maande bereik.

Dit hang egter af van dinge soos die grootte van die deposito: Hoe groter jou deposito, hoe gouer is jy by die gelykbreekpunt.

As jy ballonfinansiering het, sal die gelykbreekpunt later bereik word, want met dié finansiering is daar ’n groot bedrag wat aan die einde van die kontrak betaal moet word.

Wat help jou motorwaarde?
Onder meer lae kilometers, ’n volledige diensrekord, ’n ongelukvrye rekord en alle herstelwerk deur geakkrediteerde diensverskaffers gedoen. 

As jy ’n splinternuwe motor gekoop het wat jy nou wil inruil, sal jy die gelykbreekpunt waarskynlik nie binne 18 maande bereik nie, omdat die waarde van ’n nuwe motor gewoonlik in die eerste 18 maande teen ’n vinniger koers daal as wat jy die lening afbetaal.

Indien dit nog lank is voor jy by die gelykbreekpunt kom, kan jy dit gouer bereik deur ekstra inbetalings te doen. So verkort jy die leningstydperk.

4. WATTER DOKUMENTE HET EK NODIG?

Bewys van eienaarskap

As jou motor afbetaal is, moet jy die bewys van eienaarskap en ’n brief by die finansier kry wat aandui daar is geen uitstaande skuld nie.

Uitstaande finansies

Vra ’n skikkingsbrief van die finansier wat wys wat jy daarop skuld, en lig hulle in jy wil die motor verkoop.

Padwaardigheidsertifikaat

Geldig vir 21 dae en by voertuigtoetsstasies beskikbaar.

’n Kennisgewing van verandering van eienaarskap (Notification of Change of Ownership form) moet by die departement van vervoer ingedien word om hulle in kennis te stel dat die voertuig ’n nuwe eienaar gaan kry.

Diensgeskiedenis

Neem jou oorspronklike vervaardigersdiensboek saam na die handelaar, asook die kwitansies vir onderhoud- of herstelwerk wat gedoen is. Jy moet bewys dat jy nuwe finansiering vir ’n nuwe voertuig kan bekostig. Dus, jou ID, bewyse van inkomste en woonadres, en ’n wettige bestuurslisensie.

5. SAL DIE HANDELAAR DIE VERSEKERING REËL?

Die versekering is altyd jou as koper, se verantwoordelikheid, sê die versekeringsmaatskappy Santam. Selfs al bied die handelaar aan om dit te reël, is dit jou verantwoordelikheid om seker te maak jou nuwe motor is verseker sodra jy agter die stuur inklim.

As jy motorfinansiering het, is dit in elke geval ’n vereiste om versekering te hê. Kry vooraf ’n kwotasie by die versekering sodat jy weet wat om te verwag oor hoeveel dit gaan kos.

Bel hulle op die dag van die inruiling om jou besonderhede by te werk sodat die nuwe dekking onmiddellik sal inskop.