Dit was altyd makliker vir dié wat ’n maandelikse salaris ontvang om ’n lening te kry omdat banke permanente werkers as ’n laer risiko beskou. Maar die wêreld verander.

Ál meer mense verdien hul inkomste sonder ’n permanente werk en dié inkomste is dikwels wisselvallig. Die goeie nuus is banke hou tred met veranderende werklikhede. En danksy beter dataverwerkingskapasiteit kan hulle ingeligte besluite neem oor leningsaansoeke deur mense wat nie maandeliks besoldig word nie.

Wat moet jy doen om ’n suksesvolle leningsaansoek te verseker as jy vir jouself werk of jou inkomste nie elke maand dieselfde is nie? Corné Jordaan van FNB se leningsafdeling beantwoord ons vrae.

1. Waarna kyk die bank? 

Volgens die Nasionale Kredietwet mag ’n finansiële instelling nie vir jou ’n lening gee wat jy nie kan bekostig nie.

Daarom sal die bank na jou inkomste en uitgawes kyk om ’n bekostigbaarheidsontleding te doen, en na jou kredietrekord om te kyk of jy in die verlede jou skuld getrou betaal het.

Dis nie hoeveel dokumente jy indien nie; dis wat hulle vertel. Jou bankstate kan byvoorbeeld genoeg wees om te bevestig of jy ’n bestendige inkomste verdien – al is dit uit verskillende bronne – en wat jou uitgawes is.

Verskaf ook die volgende:

  • Jou ID-dokument.
  • Inkomstebewys: drie tot ses maande se bankstate, ’n brief van jou rekenmeester wat jou maandelikse inkomste bevestig of ’n finansiële jaarstaat opgetrek deur ’n ouditeur of rekenmeester as jy jou eie onderneming het.
  • Bewys van woonadres, byvoorbeeld munisipale rekenings met jou naam en adres. Deesdae hoef jy nie meer self ’n banktak te besoek vir leningsaansoeke nie. Jy kan dit elektronies doen en die dokumente per e-pos stuur of op die leningsinstansie se webtuiste laai. Maak net seker die dokumente is duidelik en leesbaar.

2. Hoe word die grootte van die lening bepaal?

Dit hang van elke persoon se inkomste en uitgawes af.

Benewens jou bankstate kan jy gevra word om ’n dokument in te vul wat al jou inkomstes en uitgawes uitstippel: van enige ekstra geld wat jy verdien tot jou kinders se skoolgeld.

Die bank ontleed dit deeglik om te sorg dat die leningskuld jou nie in ’n negatiewe finansiële posisie sal laat beland nie. As die bank al jou inligting het, kan hulle jou gemiddelde inkomste oor ’n tydperk (byvoorbeeld ses maande of ’n jaar) bereken.

Daarvolgens kan hulle dan uitwerk of jy jou maandelikse terugbetalings op die lening sal kan bekostig. As jou inkomste uit byvoorbeeld deeltydse, kommissie- of vryskutwerk wisselvallig is, sal jy dalk net vir ’n kleiner lening kwalifiseer as waarvoor jy gevra het.

Dis om te verseker jy kan die lening terugbetaal sonder om jou ander finansiële verpligtings af te skeep of jou lewenstandaard beduidend te laat afneem.

3. Maak my kredietrekord ’n verskil?

Beslis. Dit is ’n bewys van hoe jy jou krediet in die verlede bestuur het en help die bank om jou risikoprofiel te bepaal.

As jy ’n goeie krediettelling het, behoort dit te wys dat jy gedissiplineerd jou lening kan afbetaal. Maar dis nie noodwendig in jou guns as jy nog nooit skuld gemaak het nie. Want dan is daar geen rekord van jou finansiële gedrag nie.

As jy geen krediet het nie, gaan maak ’n klein rekening oop, soos ’n selfoonkontrak, by ’n instansie met ’n goeie rekord. Betaal dit betyds en volledig om ’n positiewe kredietprofiel te bou.

4. Help dit as ek ’n deposito neersit?

Persoonlike lenings vereis gewoonlik nie sekuriteit nie, maar ’n deposito kan beslis help as jy om ’n huis- of motorlening aansoek doen. Dit verminder jou terugbetalingsbedrag, wat outomaties die risiko van die lenings- verskaffer verminder.

Dit wys ook jy het die finansiële dissipline om vir ’n deposito te spaar en is bereid om jou eie geld in jou huis of motor te belê. ’n Deposito kan jou ’n beter rentekoers laat beding.

5. Wat kan teen my tel?

  • As daar nie bewyse van jou inkomste is nie soos wanneer jy nie jou inkomste by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verklaar nie of nie werkkontrakte aangaan nie.
  • Moenie jok nie. Moenie sê jy verdien meer as wat jy by die SAID verklaar het nie. En as jy jok oor jou uitgawes om ’n groter lening te kry, benadeel jy jouself. Onthou, jy deel ook in die verantwoordelikheid om betroubare inligting te verskaf sodat die regte kredietbedrag aan jou toegestaan word.
  • Pasop vir onwettige geldleners. Maklike leningsgoedkeurings en lae rentekoerse is gevaarligte. Maak seker die instansie is by die Nasionale Kredietreguleerder geregistreer.
Kry hier nog raad
  • Banke se webtuistes het apps waarop jy kan uitwerk watter lening jy sal kan bekostig.
  • Die Nasionale Kredietreguleerder: www.ncr.org.za of 0860-627-627