Jou droom moet uitvoerbaar wees

As jy geld wil leen, sal jy die finansier moet oortuig dat jy uit jou klein onderneming genoeg geld sal kan verdien om die skuld terug te betaal. As die finansier kan sien dat jou voorbereiding deeglik is, sal hy weet jy is ernstig oor jou plan.

Gee alle belangrike inligting soos jou uitgawes en verwagte inkomste. Moenie jou verwagte inkomste oorskat en jou uitgawes onderskat nie. Jy moet presies uitvind hoeveel jy sal nodig hê en dan uiteensit hoe jy by daardie bedrag uitgekom het.

Baie maatskappye en banke soos Old Mutual en FNB het nuttige inligting op hul webtuistes oor hoe jy ’n eenvoudige sakeplan kan opstel.

Verstaan watter tipe lening jy benodig

Daar is ’n verskil tussen persoonlike en sakelenings.

Vir ’n klein onderneming hoef jy waarskynlik nie ’n perseel te huur nie, maar dit is moontlik dat jy toerusting moet koop om die ekstra inkomste te verdien.

  • Persoonlike lenings van tot R250 000 by banke is algemeen. Dié lenings is ongesekureerd (dit beteken jy neem nie die lening teen ’n bate soos eiendom as sekuriteit nie) en dus is rentekoerse gewoonlik hoog. Hoe langer die terugbetalingstydperk, hoe kleiner jou paaiemente. Dit kan jou egter duur kos omdat die rentekoers hoog is en dit oor byvoorbeeld 60 maande gerek word. Die meeste banke se webtuistes het leningsrekenaars waarop jy kan uitwerk hoeveel die lening jou oor verskillende tydperke sal kos.
  • Sakelenings is amper soos ’n persoonlike lening, behalwe dat die lening in die onderneming se naam aangegaan word. Dit kan vir heelwat hoër bedrae as ’n persoonlike lening wees. Gewoonlik is sekuriteit – soos ’n borg of persoonlike bate – ’n vereiste. Daar is ’n groot verskeidenheid van sakelenings: van direkte lenings tot oortrokke geriewe. ’n Klein tuisonderneming sal waarskynlik nog nie aan die vereistes vir ’n sakelening voldoen nie. Party finansiers sal vereis dat die onderneming as ’n maatskappy geregistreer moet wees en jy ’n omvattende sakeplan moet hê. Jou bank sal vir jou kan sê wat hul spesifieke vereistes is. Dit is moontlik dat hulle ’n lening met makliker bepalings het vir klein ondernemings.
  • Kyk ook na opsies soos regeringsfinansiering (www.gov.za/about-government/small-business-development) vir klein ondernemings.
  • Nog ’n opsie is om geld te leen by privaat individue wat spesifiek mense wil ondersteun wat ’n entrepreneursplan het. Maar wees versigtig om sommer enigiemand te vertrou wat kapitaal in jou onderneming wil belê. Kyk mooi na wat hulle wil terughê, byvoorbeeld maandelikse rente of ’n persentasie van jou inkomste. Vra ’n rekenmeester of prokureur se raad.
Wenk
Vergelyk altyd die terugbetalingsvoorwaardes en rentekoerse van verskillende finansiers se lenings vóór jy die lening uitneem.

Jou kredietrekord moet positief wees

Finansiers wil weet of jy die vermoë het om jou skuld terug te betaal. Jou kredietrekord sal hulle wys of jy jou rekeninge betyds en ten volle betaal.

Hulle kyk ook na die bron en volhoubaarheid van jou bestaande inkomste. Hulle sal dit by kredietburo’s nagaan en na jou bankstate kyk. Jy moet al jou inligting met stawende dokumentasie kan bevestig.

As jy reeds ’n positiewe kredietrekord het, hou dit so. Anders moet jy eers alle kredietrekordprobleme oplos voor jy vir ’n lening aansoek doen.

As jy nie weet hoe jou kredietrekord lyk nie, moet jy dadelik een aanvra. Ingevolge die Nasionale Kredietwet is jy geregtig om jaarliks een gratis by ’n kredietburo te trek. Dis egter jóú verantwoordelikheid om dit te doen.

Die Nasionale Kredietreguleerder (ncr.org.za) het op sy webtuiste ’n lys van geakkrediteerde kredietburo’s by wie jy dit kan kry.

Moenie onnodig lenings aanvra nie

Elke liewe keer doen die finansier navraag oor jou kredietrekord. Dit laat ’n papierspoor wat verklap hoe dikwels en waarom jy lenings aanvra. Te veel sulke navrae kan jou kredietrekord sleg laat lyk.

Hoe meer jy rondsoek na krediet, hoe meer lyk jy na ’n risikogeval – behalwe as jy op ’n spesifieke tyd navraag doen om te kyk waar jy die beste rentekoers en voorwaardes kan kry.

Jy moet professioneel wees Jou klere en houding tydens jou fisieke onderhoud sal wys of jy die finansier en die situasie respekteer. As jy wil hê die finansier moet jou professioneel hanteer en ernstig opneem, moet jy ook so lyk en optree.

Kry hier nog raad