Weerstaan die versoeking om daardie welkome erfgeld, bonus of eenmalige polisuitbetaling te bestee. 

As jy dit spaar, kan die bedrag lekker groei, en dit sal jou vorentoe meer finansiële voordele of leefstylkeuses bied. 

Jy kan dus byvoorbeeld daardie R50 000-meevaller wegsit om rente te verdien vir jou droomvakansie oor twee jaar. 

Of jy kan dit vir tydperke van vyf of 10 jaar bêre, waarna jy selfs meer geld sal hê om te belê volgens jou behoeftes, doelwitte of voorkeure. 

Jac de Wet van PSG Wealth verduidelik aan ons wat die opsies behels. 

1. BELEGGINGSTYDPERK VAN VYF TOT TIEN JAAR

Vakansies of huisdeposito’s is tipiese korttermynspaardoelwitte. Jy wil jou R50 000-meevaller belê waar dit groei sal toon sonder die risiko van waardevermindering. 

Goeie opsies is kontantbeleggings soos geldmarkfondse of vaste deposito’s. 

Hoekom dit kies? 

Sulke beleggings groei oor die algemeen relatief stadig maar bestendig. 

Jou belegging sal nie so blootgestel wees aan skommelings op die aandelemark nie en groei sal in pas wees met die heersende rentekoerse, verduidelik Jac. 

Dit bied dus stabiliteit op kort termyn, en ’n negatiewe opbrengs is onwaarskynlik. 

Hierdie soort beleggings is ook op kort kennisgewing relatief maklik toeganklik. 

Onthou net dat jy wel boeteheffings kan betaal as jy geld vroeër uit ’n vaste deposito onttrek. 

Hoe dit werk: 

Jac sê die verwagte opbrengs op dié beleggings is gewoonlik tussen inflasie + 1% en inflasie + 2%. Kontanttipebeleggings in Suid-Afrika het in 2018 groei van 6,6%* behaal terwyl inflasie 4,5%* was.

Maak die som so
As jy twee jaar lank ’n opbrengs van 6,6% in ’n Suid-Afrikaanse kontanttipebelegging verdien het, sal jou aanvanklike R50 000- belegging ná twee jaar sowat R57 000 werd wees.

2. BELEGGINGSTYDPERK VAN VYF TOT TIEN JAAR

As jy jou R50 000 op lang termyn kan belê, kan jy van laerisiko-kontantbeleggings wegbeweeg na beleggings wat aandele en ander groeibates insluit. 

Hoekom dit kies? 

Die risiko is hoër dat jou geld op die kort duur negatiewe groei kan toon. 

Hoe langer jy jou geld los, hoe kleiner raak die kans dat jy negatiewe groei sien en hoe nader kom jou opbrengs aan die sterker gemiddelde groei wat op lang termyn behaal word. 

Hoe dit werk: 

Aandele, wat ’n groeibate is, presteer gewoonlik op lang termyn beter as ander bateklasse soos kontant en eiendom. 

’n Finansiële raadgewer kan jou help om die regte effektetrustfonds te kies wat blootstelling daaraan gee. 

’n Riglyn om jou vereiste aandeleblootstelling te beraam is deur jou ouderdom van 100 af te trek. 

As jy 40 is, kan jy 60% van jou totale bates in aandele belê. 

Dit beteken 60% van jou belegging in ’n effektetrust kan dan in aandele wees. 

As jou effektetrustfonds stewig in aandele belê, moet jy nie paniekerig raak as die aandelemark op kort termyn daal nie. 

Dit sal waarskynlik op die duur weer opswaai. 

Die Johannesburgse Effektebeurs het byvoorbeeld verlede jaar ’n negatiewe groeikoers van -8,5% gehad; tog was die opbrengs oor 10 jaar gemiddeld 12,6%** per jaar. 

Onthou: 

Praat met ’n finansiële beplanner of beleggingsbestuurder voor jy die geld onttrek.

Maak die som so

As jy 10 jaar lank die genoemde indeksopbrengs van 12,6% per jaar kon verdien, sou jou belegging tot sowat R175 000 kon groei.

OORWEEG OOK ’n Effektetrust soos ’n multibate-effektetrustfonds, wat blootstelling aan aandele kombineer met blootstelling aan meer stabiele bateklasse soos kontant.

Op kort termyn is dié opbrengste minder wisselvallig.

ONTHOU DIÉ BELEGINGSWAARHEDE
  • Hou altyd jou algehele welvaartplan in gedagte. Sal jy nie daarby baat vind om daardie meevaller in jou huislening te stort pleks van dit vir ’n vakansie te spaar nie?
  • Gesels met ’n finansiële beplanner as jy geld wil belê.
  • In die 12 maande tot einde September 2018 is 29% van beleggings in Suid-Afrikaanse effektetrusts regstreeks deur beleggers gedoen. Maar Sunette Mulder van die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika reken baie van dié beleggers het eers professionele raad gaan vra.

Wenk
Maak seker jy weet watter fooie op beleggings gehef word. Vra wat die uitwerking daarvan op jou belegging sal wees en stel verskillende diensverskaffers se fooie vas.
Kry hier nog raad

* Morningstar, Stats SA ** Soos op 31 Desember 2018, Morningstar, JSE-indeks, algehele opbrengs