Versekeringsmaatskappye laat ’n mens toe om jou studentekind se besittings in jou eie polisse te dek. Dit is mos gewoonlik jy wat jou kind se beskadigde of gesteelde besittings moet vervang.

Voertuie, skootrekenaars, slimfone, peperduur klere en sporttoerusting kan so verseker word, sê Lizette Erasmus van IntegriSure. Sy vertel hoe dit werk.

Motors

Voertuie van studente met geldige rybewyse kan onder hul ouers se motorversekering gedek word. Wees altyd eerlik met die inligting wat jy in jou polis verskaf, want versekeringsmaatskappye kan eise verwerp op grond van nieopenbaarmaking.

Faktore wat jou maandelikse premiebedrag sal bepaal, is onder meer:

Die bestuurder se ouderdom: Premies vir jong mense is gewoonlik hoër as ouer mense s’n. Bedryfsnavorsing toon jong mense besoek meer dikwels snags plekke met onveilige parkeerplek en bestuur gereelder onder die invloed van drank. Dus is die risiko hoër.

Waar die motor gehou word: As jou kind se motor snags in ’n onveilige buurt of koshuisparkeerterrein geberg word, sê dit. Moenie jok en die toesluitgarage in jou eie erf aangee nie. Die premie gaan dalk hoër wees omdat die risiko groter is, maar jou kans op ’n suksesvolle eis is beter.

Goeie veiligheidsmaatreëls: ’n Opsporingstoestel, immobiliseerder of ratslot verlaag die diefstalrisiko en kan die premie verlaag.

Ander faktore: Hoe lank jou kind al wettig bestuur, die gehalte van die voertuig, die model en enjingrootte kan alles die premie verhoog of verlaag.

Het jy geweet?
’n Eis moet gewoonlik binne 30 dae ná die skade by die versekeringsmaatskappy aangemeld word. Gebeure waarby diefstal betrokke is, moet onmiddellik by die polisie aangemeld word.

Elektroniese toestelle

Jou huisinhoudsversekering dek gewoonlik besittings wat altyd binne jou huis is, maar nie die elektroniese toerusting wat jou studentekind oral rondneem nie. Die meeste versekeraars vereis dat selfone, skootrekenaars, tablette en GPS-toestelle gespesifiseer word onder die polishouer se alle-risiko-dekking.

Elke item en die waarde daarvan moet afsonderlik genoem word. Gestel jy spesifiseer ’n tablet van R5 000 en slimfoon van R3 000. Die premies is dan apart R15 (tablet) en R10 (selfoon). Die item se waarde is gewoonlik die grootste prysfaktor wat die premie bepaal.

Gespesifiseerde items se dekking is gewoonlik wêreldwyd, selfs wanneer die student dit met vakansie saamneem. Elektroniese toestelle moet teen die huidige vervangingswaarde, oftewel “nuut vir oud”, verseker word.

Jy kan dus die ou, gesteelde item met ’n nuwe vervang.

Gespesifiseerde dekking gebeur nie outomaties nie; dit is jou verantwoordelikheid om dit te laat doen.

Klerasie

Huisinhoudpolisse het gewoonlik beperkte, ongespesifiseerde alle-risiko-dekking vir wanneer klere buite jou huis gesteel word. Ongespesifiseerd beteken dit is nie spesifieke items wat afsonderlik vir hul waarde verseker is nie.

Die uitbetalings het dan ’n perk wat ’n maksimum dekkingslimiet per item genoem word. Dit beteken die uitbetaling word beperk tot ’n vasgestelde bedrag per item, soos R1 000. As ’n sonbril van R2 000 en ’n baadjie van R1 500 gesteel word, sal jy dus net R1 000 per item uitbetaal word.

Vind by die versekeraar of makelaar uit wat jou dekkingslimiet is. Kledingstukke wat meer werd is as wat jou ongespesifiseerde dekking sal uitbetaal, moet liewer op die ouer se polis onder alle-risiko-dekking gespesifiseer word.

Wenke
  • Laat jou kind jou versekeraar se noodnommer op hul foon berg sodat hulp dadelik ontbied kan word in geval van byvoorbeeld ’n pap band of meganiese probleme op die langpad.
  • Vind uit of jou versekeraar ’n diens het wat kinders ná ’n partytjie huis toe sal neem eerder as dat hulle onder die invloed van alkohol bestuur. IntegriSure bied byvoorbeeld aan hul kliënte ses ritte per jaar binne ’n 50 km-radius van die versekerde se woonadres.
  • Waarsku jou studentekind om die polisvereistes na te kom, soos om nie hul vriende hul motor te laat bestuur as hulle nie as bestuurder gelys word nie.
  • Skryf die reeks- en IMEI-nommers van al jou elektroniese toestelle neer, want versekeraars vra dit wanneer jy eis.
Kry hier nog raad