Jy het dalk jou inkomste verloor weens die pandemie, maar jy het darem nog ’n bietjie spaargeld. As jy dit tog net drasties kan vermeerder . . . Wees ekstra versigtig as dié beskrywing jou pas, want jy is lokaas vir swendelaars.

Hulle weet maar alte goed: Desperate mense val makliker vir vals geldmaakstories. In hierdie moeilike ekonomiese tye weens die coronaviruskrisis gedy piramideskemas soos ’n virus.

Hier is vyf gevaarligte wat kan aandui jy het moontlik met ’n piramideskema te make.

Doen dan eers behoorlik jou navorsing.

1. ‘Hoe meer lede jy werf, hoe groter jou inkomste’

  • Die skema verkoop produkte, maar jy kan selde genoeg daaruit maak. Om meer te verdien, moet jy nuwe lede werf en ook kommissie verdien op wat húlle verkoop. Oor die algemeen moet jy byvoorbeeld R180 betaal om by ’n sekere beleggingskema aan te sluit en ’n produk of geskenk te ontvang. Dan moet jy vyf ander lede werf, en hulle elkeen nog vyf, ensovoorts. Daarvoor word jy as die oorspronklike werwer na “Vlak 2” opgeskuif en met meer produkte en ook kontant beloon. Styg jy hoër na Vlak 3, verdien jy nog meer kontant, en so aan.
  • Die skema verkoop nie produkte nie, maar jy moet byvoorbeeld R500 betaal om aan te sluit en dan nog lede werf sodat jy ’n persentasie van hul aansluitingsgelde kan kry. Hoe meer jy werf, hoe meer kry jy. Onthou: Die opbrengs op wettige beleggings hang nooit van die werwing van nuwe beleggers of hul verkope af nie.

2. ‘Wonderbaarlike verdienste’

Verwerp summier stories van kitsrykdom. Baie mense word gelok deur beloofde opbrengste veel hoër as wat wettige spaar- en beleggingsprodukte bied – ongeag of dit as kontant, rente of kapitaalwins uitbetaal word.

Vergelyk die beloofde opbrengs met die markgemiddelde. Sekere banke bied byvoor- beeld 8% rente op vaste beleggings. As iemand jou 20% of hoër belowe, moet jy pasop. As dit te goed klink om waar te wees, dan is dit.

3. Geskenke of vreemde fooie

Pasop as jy gevra word om vir duur kursusse, opleidingspakkette of bemarkingsmateriaal te betaal om aan die skema te kan deelneem.

Wettige beleggings het nie sulke vereistes nie. Gratis vakansies en ander geskenke is nie deel van wettige beleggingsaanbiedings nie.

4. Jy is in ’n kwesbare groep

Jy is lokaas vir swendelaars as jou pensioen karig is, jy baie skuld het of jou werk verloor het. Dan sluk jy kitsrykdomstories makliker. Wees veral agterdogtig as jy gedruk word om dadelik te onderteken “voor die waarde verlaag.”

Vat jou tyd en kry eers ’n tweede mening van ’n onafhanklike beleggingskenner. Enige wettige belegging sal oor weke of maande steeds beskikbaar wees.

5. Geen registrasie; onvoldoende dokumentasie

  • Gaan kyk of die “beleggingsmaatskappy” by die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) geregistreer is. Wees waaksaam as dit nie is nie. Registrasie is belangrik omdat dit jou toegang gee tot inligting oor die maatskappy se bestuur, produkte, dienste en finansies.
  • Vra om die state te sien wat deur ’n geoktrooieerde rekenmeester geoudit is. Bedrogskemas het dikwels nie dokumente soos belegging- en finansiële state beskikbaar nie, of daar is foute op. Wettige maatskappye verdien hul inkomste uit produkverkope, nie uit die werwing van beleggers nie.
  • Kyk ook vir ordentlike kontakinligting en ’n professionele webtuiste.
Wenk

Die verskil tussen piramide- en ponziskemas is dat lede van die laasgenoemde nie ander lede werf nie.

’n Piramideskema se beleggers weet dis tot hul voordeel om lede te werf. Maar ponzibeleggers dink winste word op ander maniere verdien en weet nie dat ander lede se geld hul enigste inkomstebron is nie. 

HOEKOM PIRAMIDESKEMAS VOU

Omdat alle beleggers van die volgende “laag” beleggers vir ’n opbrengs afhanklik is, stort alles ineen sodra nuwe beleggers opdroog en die bestaandes hul geld onttrek.

Voorbeeld: Jy betaal R100 om aan te sluit en werf ses lede wat jou elkeen R100 betaal. So kry jy R500 in ruil vir jou R100-belegging. Maar die ses wat jy werf, moet elkeen nog ses werf (36 in totaal) om hul R500 te kry. Die nuwer 36 lede moet op hul beurt 216 mense werf; en dié 216 weer altesaam nog 1 296.

Op die volgende vlak is 7 776 mense nodig, en dan weer 46 656 . . . ’n hele dorpie se bevolking. Dis onvolhoubaar. 

Kry hier nog raad
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe