Geldsake
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images.

Die Suid-Afrikaanse lewensversekeringsbedryf het verlede jaar 434 216 sterfte-eise ontvang teenoor 317 442 in 2019.

Meer as die helfte van sterfte-eise in 2020 was vir begrafnispolisse (266 321); en die res vir onder meer kredietlewensversekering en lewensversekering.

In hierdie onseker tyd kan dit baie ontstellend wees as jou eis dalk verwerp sou word omdat jy dit nie behoorlik ingedien het nie.

Hier is vyf dinge wat jy moet weet.

Meld dit aan

Wanneer ’n persoon sterf, moet ’n gesinslid, of iemand wat by die dood aanwesig was, dit by die registrateur van geboortes en sterftes aanmeld. 

Eerstens moet jy die sterfte rapporteer aan een van die volgende:

  • spesifieke binnelandsesakebeamptes;
  • polisielede, veral in gebiede waar binnelandse sake nie kantore het nie;
  • ’n Suid-Afrikaanse sendingstasie, ambassade of konsulaat in die geval van ’n buitelandse sterfte; of
  • ’n geregistreerde begrafnisondernemer. 

Die amptelike sterftekennisvorm (DHA-1663 of BI-1663) word gewoonlik deur die mediese praktisyn of begrafnisondernemer aan jou gegee, of jy kan dit van die versekeraar se webtuiste aflaai. 

Die doodsverslag (vorm DHA-2680 of BI-1680) word dan uitgereik deur gemagtigde persone (byvoorbeeld polisielede, tradisionele leiers of ’n begrafnisondernemer), asook ’n verkorte doodsertifikaat. 

Hierdie mense kan ook begrafnisbevele uitreik, waarsonder geen begrafnis wetlik mag plaasvind nie. 

Maak seker die oorledene se besonderhede op die doodsertifikaat is korrek: ID-nommer; spelling van voorname en van; en huwelikstatus. Enige foute sal by binnelandse sake reggestel moet word.

Wenk
As jy ’n begrafnispolis wil uitneem, moet jy nie net in die premie vaskyk nie, jy moet ook uitvind wat die verskaffer se reputasie én vermoë is om eise te betaal.

Maak seker jy kan wel eis

Daar is gevalle wanneer polisse nie gaan uitbetaal nie, en dit is meestal weens wanbetalings, wagtydperke en nieopenbaarmaking.

Begrafnispolisse het gewoonlik maandelikse premies, maar as die polishouer ophou om te betaal, sal die polis naderhand verval.

Vra jou versekeraar wat jy kan doen as jy ’n rukkie nie die betalings kan bekostig nie. Kan die dekking byvoorbeeld verminder word sodat die maandelikse premie laer sal wees?

Polisse het ook soms wagtydperke voor dit uitbetaal. Dekking vir toevallige dood (soos in ’n motorongeluk) begin gewoonlik onmiddellik, maar vir natuurlike oorsake (siekte) is die wagtydperk gewoonlik ses maande. Vir selfdood kan dit tot twee jaar wees.

Versekeraars mag weier om ’n eis te betaal en jou polis ongeldig verklaar as jy belangrike inligting – soos chroniese siektetoestande wat jou dood kan veroorsaak – weerhou het tydens jou aanvanklike polisaansoek.

Dis oneerlik.

Daarenteen beteken ’n chroniese toestand nie noodwendig dat die eis nie uitbetaal sal word nie, maar daar kan wel ’n wagtydperk geld. Vra dus uit die staanspoor die versekeringsmaatskappy se agent of ’n finansiële beplanner om duidelikheid hieroor.

Kry die dokumente bymekaar

Jy kan ’n eisvorm aflaai van die verskaffer se webtuiste of dit by ’n tak kry. Daarby moet jy die volgende indien:

  • ’n Gewaarmerkte afskrif van die doodsertifikaat.
  • ’n Afskrif van die oorledene se ID of ’n afskrif van die geboortesertifikaat indien die oorledene jonger as 18 was.
  • ’n Afskrif van die eiser se ID.
  • ’n Bewys van die bankrekening waarin die eisgeld betaal sal word, soos ’n bankstaat deur die bank gestempel. Jy kan dit deesdae op jou bank se app aanvra.
  • ’n Afskrif van die sterftekennisgewing of die doodsverslag. 

Wanneer jy die versekeraar se eis- en die begunstigde-vorm ingevul het, dien jy dit in saam met al die ander dokumente. Jy kan dit elektronies of fisiek doen.

Wanneer kry ek die uitbetaling?

Dit hang van die onderskeie versekeraars af, maar gewoonlik tussen 24 en 48 uur nadat al die nodige dokumente ontvang is. Die geld sal dan in die rekening betaal word waarvan jy die besonderhede verskaf het.

As jy ongelukkig is oor die uitbetaling of die proses?

Neem eers die probleem met jou makelaar of die versekeringsmaatskappy op. As jy nie tevrede is met die manier hoe hulle dit oplos nie, kan jy by die ombudsman vir langtermynversekering kla. Die klagte moet verkieslik op skrif wees en elektronies ingedien word.

Dís nodig: polisnommers; die versekeringsmaatskappy se inligting; jou kontakinligting; en ’n feitlike opsomming van jou klagte.

Kry hier nog raad
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe