’n Bybetaling is ’n bedrag wat jy as polishouer bydra wanneer die versekeringsmaatskappy jou eis betaal. Was daar nie bybetalings nie, sou versekeraars hoë volumes klein eise moes verwerk. Gevolglik sou kliënte hoër maandelikse premies moes betaal, sê Ernest North van die versekeringsverskaffer Naked.

Bybetalings help dus om premies oor die algemeen bekostigbaarder te hou.

Basiese bybetalings

Eise het gewoonlik ’n basiese bybetalingsbedrag. Dit word in ’n mens se polisskedule uiteengesit. Dis belangrik dat polishouers dit verstaan om onwelkome verrassings met eise te voorkom, sê Lizette Erasmus van IntegriSure.

Basiese bybetalings werk byvoorbeeld so: Gestel jou basiese bybetaling is R5 000. As jy ’n goedgekeurde eis van R50 000 het, sal jy die R5 000 bybetaal en die versekeraar sal R45 000 betaal. Maar as die herstelkoste aan jou motor minder as R5 000 (byvoorbeeld R3 000) is, sal jy die volle bedrag (R3 000) betaal.

As jy onseker is oor hoeveel jou bybetaling is, bel jou makelaar of die versekeringsmaatskappy en vra tot jy seker is jy verstaan presies wat dit behels. Dit is immers jy wat die betaling moet doen.

Wenk
Stel vas wat die bybetaling sal wees as jou kind met ’n leerlingrybewys bestuur of as iemand anders jou voertuig bestuur.

Jy kan dit aanpas

Versekeringsmaatskappye se reëls en opsies verskil, maar gewoonlik kan polishouers ’n vrywillige bybetaling kies of die bybetaling afkoop, sê Lizette.

Vrywillige bybetalings: Die polishouer kies om ’n verhoogde bybetalingsbedrag te betaal benewens die basiese bybetaling wat deur die versekering vereis word. In ruil daarvoor kry hulle ’n premie-afslag. Dit beteken hul maandelikse premie is laer, maar hul bybetaling heelwat hoër as die basiese bybetalingsbedrag wanneer hulle eis.

Afhangend van jou versekeraar se polisreëls kan jy self besluit hoeveel jou vrywillige bybetaling sal wees. Dit kan wissel van byvoorbeeld R1 000 tot R30 000, sê Lizette.

Afkoop van bybetaling: Dit beteken jy betaal maandeliks ’n hoër premie, maar dan het jy geen bybetaling wanneer jy eis nie.

Wat is die beste?

Dit hang af van jou finansies en risikoprofiel. Iemand wat nie dikwels rondry nie, kan voordeel trek uit ’n laer maandelikse premie deur hul bybetaling te verhoog. Maar dan moet jy sorg dat jy die bybetaling kan bekostig wanneer jy wel moet eis.

Mense wat aan groter risiko’s blootgestel is, as jy byvoorbeeld dikwels in spitstye of langpad reis, oorweeg dikwels die afkoop van bybetalings. Die premie is wel hoër, maar jy het geen bybetaling nie. Vra ’n makelaar om raad.

Kan jy die bybetaling terugeis?

As jy die onskuldige party in ’n botsing was en jy dien jou eis in, sal jou versekeraar nadat die eis afgehandel is die skade se koste van die derde party (skuldige party) verhaal. As dié verhaling suksesvol is en jy wel ’n bybetaling betaal het, sal jou versekeraar dit aan jou terugbetaal, sê Lizette.

Dus moet jy soveel moontlik inligting van ’n derde party kry wanneer jy in ’n ongeluk is. Die kans is dan beter dat die eis vinnig en suksesvol verwerk word. Sy beveel aan dat jy foto’s neem van die voertuig se lisensie, registrasienommer, die ongelukstoneel en die derde party se rybewys.

Ander inligting soos sy kontakbesonderhede en versekering is ook nodig.

Dit is nie altyd moontlik vir versekeraars om die koste te verhaal as die ander voertuig nie verseker is nie. Dan is die kans goed dat die polishouer nie die bybetaling terugkry nie, selfs al is die ongeluk nie sy skuld nie.

Lees die fyn druk

Sommige versekeringsmaatskappye vra bykomende bybetalings in sekere gevalle, sê Ernest.

Byvoorbeeld as:

  • Die bestuurder jonger as 25 is.
  • Iemand anders as die gereelde bestuurder tydens die ongeluk bestuur het.
  • Die ongeluk tussen tienuur die aand en vyfuur die oggend plaasgevind het.
  • Die verlies of skade binne die eerste ses maande van die polis is.
  • ’n Ander voertuig nie in die ongeluk betrokke was nie. Aan die positiewe kant vra sommige versekeraars lae of geen bybetalings vir sekere eise soos haelskade of voorruitvervanging.
In getalle

11 miljoen: Die getal geregistreerde voertuie in Suid-Afrika, woon- en sleepwaens uitgesluit.

60-70%: Die getal voertuie op ons paaie wat na raming nie verseker is nie.

Bron: AA

Kry hier nog raad