Dit lyk aanloklik, want die maandelikse premies is laer as dié van meer tradisionele motorbetaalplanne. Dit berus basies daarop dat jy elke drie of vier jaar ’n motor koop. Maar is dit geldslim?

Hier’s wat jy in gedagte moet hou.

1. Dit klink kostedoeltreffend, maar voorwaardes geld

Onthou

Die waarde van jou nuwe motor begin afneem sodra jy by die handelaar wegry. Met GFV-­finansiering word beraam wat jou kar se geldwaarde oor byvoorbeeld drie jaar gaan wees. En daardie toekomstige, laer waarde is dan waarvolgens jou maandelikse paaiement bereken word.

WENK: Die kontraktydperk van jou GFV-plan moenie langer as die kar se instandhoudingsplan duur nie, want dan is jy verantwoordelik vir herstelkoste op ’n voertuig wat jy eintlik net huur.

Aan die einde van die kontrak­tydperk moet jy dit aan dieselfde handelaar teruggee. Dus is dit eintlik soos ’n huurtransaksie.

En onthou, jy moet verskeie voorwaardes nakom terwyl jy die motor gebruik, naamlik:

  • ’n Kontraktydperk, gewoonlik tussen 36 en 48 maande.
  • Instandhoudingsvoorwaardes, byvoorbeeld dat die motor ná ’n sekere tydperk of getal kilometer by ’n goedgekeurde sentrum versien word.
  • ’n Maksimum getal kilometer, byvoorbeeld 30 000 km, wat jy mag ry. Dit sal deur die betrokke handelaar, kontrak­tydperk en soort voertuig bepaal word.
  • Jy moet die motor onbeskadig teruggee.

Sorg dat jou kontrak met die handelaar al hierdie voorwaardes duidelik uitstippel, asook teen watter toekomstige waarde jy die motor aan die einde van die kontrak sal terugbesorg of vir ’n nuwe een inruil.

2. Wat gebeur as ek nie die voorwaardes nakom nie?

Die finansier maak nie juis geld uit dié finansiering nie en wil dus wins maak wanneer die kar verkoop word. Dis hoekom die termyn en kilometers beperk word.

As jy meer kilometers gery het as wat die kontrak uitstippel, sal jy ’n boete moet betaal, byvoorbeeld R3 vir elke ekstra kilometer.

Die boete sal afhang van die kar se waarde en die kontraktyd soos dit in die kontrak vasgestel is. As die kar se sitplekke verniel is of die bakwerk het skrape, moet jy self die herstelkoste betaal. Verwag dus dat jy streng by die voorwaardes gehou sal word.

Maar terselfdertyd bied dié finansieringsopsie goeie instandhoudingsplanne juis om te verseker die motor word getrou en behoorlik versien.

3. Wat gebeur wanneer jou kontrak verstryk?

Jy het gewoonlik drie opsies wanneer jou kontrak verstryk:

  • Ruil die kar in en kry ’n nuwe een met GFV-finansiering.
  • Jy kan die kar behou, maar dan moet jy dit ten volle afbetaal of herfinansier; laasgenoemde is dikwels deur ’n tradisionele afbetaalplan.
  • Gee die kar terug sonder om ’n nuwe motor by dieselfde handelaar te koop. As jy al die kontrakvoorwaardes nagekom het, behoort jy nie nog koste te hê nie.

4. Voordele en nadele

Voordele

  • Die maandelikse afbetalings behoort laer te wees as ’n tradisionele afbetaalplan of ballonopsie.
  • Die kar word gewoonlik deur die handelaar teruggeneem wanneer die kontrak verby is; jy hoef jou nie oor die verkoop te kwel nie.

Nadele

  • Jou afstande word beperk.Boonop sal ’n boete gehef word as jy die kilometers oorskry en die kontrak vroeg beëindig.
  • Eintlik betaal jy vir die gebruik van die motor en doen jy nie afbetalings op jou eie kar nie.

5. Hoe verskil dit van ’n afbetaalverkoop- en ballon-ooreenkoms?

Tradisionele afbetaalverkoopooreenkoms

Met ’n tradisionele afbetaalverkoopooreenkoms betaal jy die volle waarde van die motor oor ’n spesifieke tydperk. Jy kies dié kontraktydperk.

Die finansier soos die bank is die titelhouer van die kar en jy, die koper, word as die eienaar geregistreer. Omdat jy die volle waarde afbetaal, is die maandelikse paaiemente hoër as met GFV-finansiering.

Ballonfinansiering

Ballonfinansiering werk dieselfde, behalwe dat ’n deel van die koopprys opsygesit word sodat die terugbetalings op ’n laer bedrag bereken word.

Aan die einde van die afbetaal­tydperk is jy verantwoordelik vir die bedrag wat opsygesit is (die ballon) en moet dit dan betaal. Maar die paaiemente kan steeds meer wees as met GFV-finansiering.

6. Wat het jy nodig om vir GFV aansoek te doen?

Drie maande se salarisstrokies en bankstate, jou ID, ’n bewys van jou woonadres en jou bestuurslisensie.

Kom neem deel aan die gesprek

Kry hier nog raad
  • Sakrekenaars op banke, motorhandelaars en -vervaardigers se webtuistes
  • Wheels24.co.za