Troeteldiere is ’n beste maat vir baie Suid-Afrikaners. En vir al die onvoorwaardelike liefde wat hulle ons gee, verdien hulle goeie sorg.

Maar dit kan duur raak. Sterilisasie kan tot R2 500 kos en ’n gebreekte been of katarakverwydering tussen R15 000 en R20 000. Word jou hond of kat deur ’n motor getref, kan dit maklik R40 000 kos om hulle te red. Dus koop ál meer mense mediese versekering vir hul huisdiere.

Afhangend van die plan wat jy uitneem en hoeveel jy betaal, sal die versekering dan ’n deel of selfs die volle koste van gespesifiseerde behandelings betaal. Sodoende word jy ’n skielike en allemintige hap uit jou beursie gespaar terwyl jy jou geliefde dieremaat gesond laat dokter. 

Watter troeteldiere kan verseker word?

Honde en katte is die gewildste troeteldiere; daarom is mediese versekering vir hulle algemeen beskikbaar. 

Dieselfde geld vir perde. Tans bied net een versekeraar, dotsure.co.za, dekking spesifiek vir sogenaamde eksotiese troeteldiere soos reptiele, knaag­diere en voëls.

Uit watter planne kan jy kies?

Dit wissel van ongeluksdekking tot basiese en omvattende versekering. Gewoonlik het enige plan ’n jaarlikse maksimum-uitbetaalperk soos R25 000 of R40 000 per troeteldier per jaar.

Basiese en omvattende mediese dekking

Dit dek gewoonlik enigiets van oog- en oorinfeksies tot heupvervangings, gebreekte bene en operasies tot siektetoestande soos kanker. 

Dit dek selfs behandelings soos waterterapie, kruie- of homeopatiese medisyne, fisioterapie en akupunktuur as dit deur ’n goedgekeurde praktisyn soos jou veearts gedoen word. 

Die verskil tussen die basiese en omvattende opsies is dat laasgenoemde ekstra voordele soos tandesorg, voorskrifkos en genadedood kan voorsien.

Die jaarlikse uitbetaalbedrag vir omvattende dekking is gewoonlik groter as vir basiese versekeringsplanne. 

Ongeluksdekking

Dit dek beserings weens onder meer slangbyte, bysteke of as ’n motor die dier tref. Gewoonlik geld geen ouderdomsbeperking vir ’n dier om dié soort dekking te kry nie.

Is daar beperkings?

Diere moet tussen agt weke en agt jaar oud wees om te kwalifiseer. Hulle kry dan vir hul hele lewe dekking. Party planne beperk wel dekking vir ouer diere.

Waarvoor betaal versekeraars nie uit nie?

Party uitsluitings geld soos hulp met swangerskap, die verwydering van ’n ekstra toon, kos, pelsversorging, gedragsprobleme, bestaande en oorerflike toestande soos heupdisplasie. Soms word sulke toestande net uitgesluit vir die eerste jaar van lidmaat­skap, maar dit verskil tussen versekeraars.

Chroniese toestande wat ontstaan wanneer die dier reeds ’n lid is, behoort nie uitgesluit te word nie. Kenners beveel aan dat jy sou gou moontlik dekking kry sodat toekomstige en chroniese toestande gedek word.

Wat kos die maandelikse premies? 

Dit wissel volgens die versekeraar en die hoeveelheid dekking, maar voorbeelde per dier is van R37 per maand vir net ongeluksdekking en R230 per maand vir ’n hond en R205 per maand vir ’n kat vir basiese mediese dekking. Maak vooraf seker wat die premie alles dek.

Premies wat dalk duurder is se dekking kan baie meer wees. Moet dus nie net in die goedkoopste premie vaskyk nie; vergelyk die beperkings, wat alles ingesluit word en of daar bybetalings is. Jy kan gewoonlik afslag kry as meer as een troeteldier aansluit.

Hoe werk mediese eise?

Jy het nie voorafmagtiging nodig soos vir mense se mediese eise nie. Ná die besoek of prosedure betaal jy die veearts en eis dan die betaling by die versekeraar. 

Die meeste het eisvorms op hul webtuiste. Jy stuur ’n voltooide eisvorm, bewys van betaling en die veearts se faktuur aan die versekering.

Dit kan gewoonlik elektronies gedoen word. Die eis moet binne ’n vasgestelde tyd­perk, byvoorbeeld 60 dae, ingedien word. Betaling is meestal in jou bank­rekening binne sewe tot 14 dae ná die indiening van die eis. 

Maar eise kan sloer as die inligting onvolledig is. As jy nuut aansluit, geld ’n wag­periode van byvoorbeeld 30 dae dikwels voor die eerste eis uitbetaal. Maar party planne dek dadelik enige noodtoestande. 

Mees versekerde diere
85% van medies versekerde diere is honde – meestal Jack Russell-terriërs. Onder eksotiese diere geniet African Gray-papegaaie die meeste dekking.

Wenk
Party versekeringsplanne vereis dat diere ’n mikroskyfie het. Daar kan ook voorgeskrewe veeartse wees. 

Ekstra bron: dotsure.co.za

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.