Capitec s’n is pas bekendgestel, en FNB kom in 2021 uit die wegspringblokke. Hier is wat jy moet weet.

1. WAT IS ’n VIRTUELE KAART?

Dis nie ’n fisieke kaart nie en ook nie ’n digitale kopie van jou bestaande tasbare bankkaart nie. Elke virtuele bankkaart word elektronies geskep, met ’n unieke 16-syfer-kaartnommer en sy eie Card Verification Value-nommer (CVV).

Die CVV is die drie syfers agterop jou Visa- of Mastercard-bankkaart wat jy tydens aanlyn transaksies vir ekstra sekuriteit verskaf. Banke se aanbiedings verskil effens, maar basies is daar drie soorte virtuele kaarte:

  • ’n virtuele kredietkaart gekoppel aan jou kredietkaartrekening; 
  • ’n virtuele debietkaart gekoppel aan jou spaar- of tjekrekening; en
  • ’n “top-up”-kaart, waarop jy geld uit jou bankrekening laai. As jy verskillende rekeninge by een bank het, kan jy gewoonlik ’n virtuele kaart vir elke rekening skep. Jy kies dan uit watter rekening jy vir jou virtuele transaksie wil betaal. Party kaarte verdien lojaliteitspunte, of jy kry afslag as jy dit gebruik.

2. HOEKOM SAL EK EEN WIL GEBRUIK?

Dit is gerieflik omdat jy nie ’n fisieke kaart hoef rond te dra wat jy dalk kan verloor nie. Mense wat versigtig is om aanlyn inkopies te doen verkies ook virtuele bankkaarte omdat hulle vinnig die kaart kan stop as hulle vrees hul inligting het uitgelek.

3. HOE KRY EK ’N VIRTUELE KAART?

Jy hoef nie persoonlik bank toe te gaan om ’n virtuele bankkaart te kry nie, maar jy moet jou bank se selfoon-app hê. Meld aan en kies die “virtuele kaart”-opsie. Die app sal die stappe wys wat jy moet volg om die kaart te aktiveer.

Nuwe bankkliënte kan deesdae ’n virtuele kaart kry om te gebruik terwyl hulle nog op hul fisieke kaart wag. Virtuele kaarte is gewoonlik gratis, en daar is ook geen gebruikersfooie nie.

WENK: As jy jou fisieke kaart verloor of dit word gesteel, kan jy dit met jou bank-app blokkeer, maar jou virtuele kaart aanhou gebruik.

4. HOE GEBRUIK EK DIT?

Die kaart se besonderhede is op jou bank-app. Om te betaal, tik die kaartbesonderhede, vervaldatum en sekuriteitskode in soos jy gewoonlik met aanlyn aankope sou doen. Jy kan die kaartbesonderhede elke keer self insit, of jy kan die inligting op veilige aanlyn winkels se apps of webtuistes laai en berg.

Takealot, Uber, Netflix en Mr D maak byvoorbeeld voorsiening daarvoor. Jy kan die virtuele kaart op jou foon laat skandeer in winkels soos Checkers, Shoprite en Pick n Pay.

Jy kan die kaart ook internasionaal gebruik. Jou betalings wys op die bankkrekening waaraan die kaart gekoppel is sodat jy kan rekord hou.

5. WAT VAN VEILIGHEID?

Volgens banke is sekuriteit die grootste voordeel.

  • Dit kan nie soos fisieke kaarte gesteel of gekloon word nie. Die kaartinligting word op die app gebêre en verskil van jou tasbare bankkaart s’n. Virtuele kaarte kan ook baie vinnig op jou bank-app blokkeer, gekanselleer en vervang word.
  • Jy sal ook ander sekuriteit moet toepas, byvoorbeeld ’n spesiale kode wat na jou foon of e-posadres gestuur word of jou vingerafdruk.
  • Jy kan ’n ander limiet vir jou virtuele kaart stel as die een op jou fisieke kaarte. Jy kan dié limiet maklik op die app aanpas.
  • Daar is geen werklike verband tussen die virtuele kaart en die fisieke kaart nie, behalwe om dieselfde transaksierekening te gebruik.
  • Jy moet jou app se wagwoord jaloers bewaar. As iemand toegang tot jou bank-app kry, het hulle toegang tot jou bankinligting.
  • Gebruik dit net op veilige webtuistes. Kyk vir die slotjie-ikoon op die onderste lyn van die webblad. Veilige webtuistes se webadres moet van “http” na “https” verander wanneer jy persoonlike inligting intik. Veilige betaalstelsels stuur gewoonlik ’n eenmalige kode (OTP) na die kaarthouer om die transaksie goed te keur.

6. WAT IS DIE NADELE?

  • Oor die algemeen kan hierdie kaarte nie gebruik word om geld mee te trek nie.
  • Virtuele bankkaarte word meestal nog net vir aanlyn transaksies gebruik. Jy kan party winkels betaal wat “scan to pay” of “tap to pay” het, maar by kleiner handelaars wat bloot ’n kaartmasjien het of kontant neem, sal jy dit nie kan gebruik nie.
Kry hier nog raad
  • Banke se webtuistes het baie inligting oor hoe hul virtuele kaarte werk en hoe om veilig aanlyn transaksies te doen.