Maar baie mense weet eintlik glad nie of hul salaris mark­verwant is nie. Lees hier wat jy kan doen om seker te maak dit wat jy aangebied word, is nie minder as wat jou dienste werd is nie. 

1. Hoe vind ek uit wat ander in dieselfde werk verdien?

Eerstens moet jy uitvind wat die minimum en maksimum salaris in die bedryf vir iemand op jou vlak is. So kan jy verseker dat jy nie onderbetaal word nie en ook jou voornemende werkgewer wys jy kan ingeligte besluite neem. Doen dus vroegtydig jou eie navorsing.

  • Kyk na salarispeilings wat jaarliks gedoen word deur maatskappye soos CareerJunction, Michael Page en PayScale.
  • Gesels met werwingskonsultante.
  • Kyk na aanlyn posadvertensies (soos op LinkedIn) of op die voornemende werkgewer se eie webtuiste na salarisaanbiedings vir soortgelyke poste.
  • Vriende en kollegas elders in die bedryf kan jou ook ’n goeie aanduiding gee van wat werknemers in soort­gelyke poste elders betaal word. 

2. Wat kan ’n rol speel om my salaris te bepaal?

Daar is verskeie faktore om in gedagte te hou wanneer jy oor ’n nuwe werkaanbod onderhandel.

Waar: Salarisse vir dieselfde pos op die platteland en in die stad, en selfs in verskillende provinsies, kan verskil. Lewenskoste in die spesifieke gebied kan ’n rol hierin speel.

  • Jou ervaring: As die beskikbare pos vir iemand met 10 jaar ondervinding is en jy het beduidend minder ervaring as dit, sal jy waarskynlik minder aangebied word as wat geadverteer is.
  • Jou posvlak: As die posvlak betreklik laag is, sal jy nie die salaris van ’n afdelingshoof kry nie.
  • Bekostigbaarheid: Hoe sterk die maatskappy finansieel is, sal bepaal wat hulle kan betaal.
  • Aanvraag: Dikwels is verdienstepotensiaal gekoppel aan die vraag na ’n spesifieke stel vaardighede. As geskikte kandidate beperk is, bied baie werkgewers soms hoër salarisse aan om werknemers te lok.
Wenk

As jou nuwe werkgewer jou vir 'n proeftyperk wil aanstel, vra of julle daarna weer na die voorgestelde pakket kan onderhandel.

3. Verstaan ek hoe die salarispakket saamgestel is?

Wanneer jy salarisse vergelyk en oorweeg, moet jy na die volle pakket kyk. Werwingskonsultante sê baie werknemers maak die fout om die kontantbedrag wat maandeliks in hul rekening inbetaal word as hul salaris te beskou.

Hulle sê byvoorbeeld hulle verdien R20 000 per maand, maar eintlik is die volle waarde van hul pakket R35 000 per maand. Die omvattende pakket word gewoonlik die “koste van indiensneming” of die “gewaarborgde salarispakket” genoem.

Hierdie bedrag is die bedrag wat die werkgewer sê hy in totaal aan jou as werknemer kan bestee, met alle voordele en ekstras ingesluit en voor enige aftrekkings. Dit is dan ook dikwels die vergoedings­bedrag wat geadverteer word. 

4. Na watter voordele moet ek alles kyk?

Hier is die faktore wat jy benewens die salaris in ag sal moet neem:

  • Opleidingsgeleenthede: Dit is die vinnigste manier om jou vaardighede te ontwikkel en kan jou help om toekomstige salarisverhogings te beding.
  • Fleksietyd: Dis belangrik as jy byvoorbeeld ’n ma is of ’n buitemuurse studiekursus wil voltooi.
  • Bykomende betaalde verlof: Ingevolge die wet moet iemand wat voltyds in diens geneem word ’n spesifieke getal betaalde verlofdae kry. Maar jy kan ook onderhandel en ekstra betaalde verlofdae probeer vra.
  • Bevorderingsgeleenthede. 

5. Is ek seker my kontrak is in orde?

Voor jy die kontrak onderteken, moet jy bevestig dat die vergoeding en voordele daarin uitgestippel word soos wat julle ooreengekom het. As daar bonusse ter sprake is, moet die kontrak uitstippel wanneer dit betaal word en hoe die waarde bepaal word. Jou werktitel, posbeskrywing en verantwoordelikhede moet duidelik wees. 

Kry hier nog raad: labourguide.co.za, michaelpageafrica.com, payscale.com, careerjunction.co.za, 21century.co.za

Kontak ons
  • Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com.
  • E-pos sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.