As jy ’n slimfoon of tuisrekenaar het, is dit onnodig om jouself en jou geliefdes aan COVID-19 bloot te stel deur na ’n banktak te gaan of ’n kitsbank te gebruik.

Jy kan jou rekeninge betaal, geld na verre familielede in nood oorplaas en talle ander transaksies doen.

Digitale banktransaksies gaan nou oor meer as net gerief. In hierdie tyd kan dit ook jou lewe beskerm.

Hoe begin ek?

Laai jou bank se app op jou foon af. Jy sal dit in die iPhone App Store kry of in Google Play as jou foon deur Android aangedryf word. Jy moet op die app registreer deur jou besonderhede te verskaf, asook ’n geheime wagwoord of PIN om toegang tot jou bankprofiel te beskerm. Jy kan dit ook op jou tuisrekenaar aflaai – maak net seker jy het goeie sekuriteitsagteware, en moet nooit die gratis Wi-Fi-netwerke in openbare plekke gebruik om jou banksake te doen nie.

Wat kan ek alles doen?

Banke kan verskil wat die dienste betref wat hulle aanlyn aanbied, maar oor die algemeen is die verskeidenheid groot. Met die meeste banke se apps kan jy: S rekeninge betaal en geld na ander rekeninge oorplaas; S lugtyd, data of elektrisiteit koop; S bankstate kry en debietorders bestuur; S begrafnisdekking en lewensversekering koop of selfs vir krediet en banklenings aansoek doen; S die Lotto speel of selfs voertuigregistrasie hernu; en S met die begrotingsfunksie tred hou van jou besteding.

Wat kos dit my?

Die aflaai en gebruik van die app as sodanig is gewoonlik gratis. Afhangend van jou bank en soort rekening kan daar moontlik administrasiefooie wees vir spesifieke transaksies soos kontantoorbetalings of die aanvra van bankstate ouer as drie maande. Oor die algemeen is aanlyn bankfooie aansienlik laer as dié van kitsbanktransaksies en dié by jou banktak.

Wat beteken ‘zero data’?

As jou bank “zero data” aandui, het jy nie lugtyd of data nodig om die app te gebruik nie. Jy sal egter wel data benodig om die app aanvanklik af te laai en te aktiveer. Gewoonlik werk dit vir nuwer slimfone en Cell-C-, MTN- en Vodacom-netwerke. Bel egter jou bank om seker te maak jou toestel en netwerk is toepaslik.

Wat van oorplasings na iemand wat nie ’n bankrekening het nie?

Die meeste banke het ’n kontantoordragopsie wat die ander persoon toelaat om met ’n kode die kontant by ’n kitsbank of winkels soos Pick n Pay of Checkers te kry. Jy stuur die kode vir die persoon en hy kan dit dan gaan trek, maak nie saak of hy in Koekenaap of Kaapstad is nie. Jou bank behoort op sy webtuiste of app te verduidelik hoe dit werk.

Pasop vir skelms. Geen bankwerknemer sal jou bel en jou wagwoord of PIN vra nie. Moenie eens jou rekeningbesonderhede bevestig nie. As jou slimfoon (met die bank-app daarop) gesteel word, bel jou bank se bedroglyn en rapporteer dit.

Hoe kan ek kontak tydens betalings in winkels vermy?

Een manier is om nie geldnote en -munte te gebruik nie. En as jy “tik-en-betaal” of skanderings gebruik, hoef jy nie fisiek kodes op kaartmasjiene in te tik nie.

  • Tik-en-betaal.

Die meeste debiet- en kredietkaarte is daarvoor geprogrammeer. Die kassier sal die betaalbedrag op die kasregister insit en die kontaklose betaling aktiveer. Jy hou net jou kaart teen die kaartmasjien se skerm, en dan word die betalings koordloos oorgedra. Vir elke kontaklose betaling word ’n unieke sekuriteitskode gegenereer, en die kode kan nie hergebruik word om nog ’n ander betaling met daardie kaart te doen nie.

  • Skandeer-en-betaal SnapScan, Zapper, Pay@ en Masterpass is betaalfunksies wat met jou slimfoon en ’n QR-kode werk.

’n QR-kode is ’n 2D- strepieskode wat uit swart vierkante en kolletjies bestaan en betaalinligting bevat. Dit kan onmiddellik gelees word deur die app op jou slimfoonkamera.

Jy kan apps soos Snapscan en Zapper aflaai en jou bankkaarte se inligting daarop laai. Dit is gewoonlik gratis. Sekere banke se app kan betalings met ’n QR-kode doen, dan hoef jy nie jou kaart afsonderlik daaraan te koppel nie.

By die betaalpunt maak jy die app oop en gee toestemming dat die app toegang tot jou foon se kamera kry. Die kamera skandeer die QR-kode.

Kies die kaart waarmee jy wil betaal en tik die bedrag in. Betaalmagtiging is deur ’n PIN, vingerafdruk of wagwoord. Die handelaar kry dadelik kennis van jou betaling en jou kwitansies word op die app gebêre. 

Kry hier nog raad
Gaan na jou bank se webtuiste vir aanwysings oor hoe digitale transaksies werk.