Baie mense maak die fout om nie te kyk of hul bestaande dekking voldoende is vir alle moontlike scenario’s nie. Gelukkig kan jou versekering met een oproep dadelik aangepas word – ongeag waar jy jou bevind. Hier is nuttige doenlysies waarmee jy kan verseker jou huisinhoud soos meubels en elektroniese toestelle is behoorlik gedek. En natuurlik ook dat jou geboudekking – wat jou dak, volvloermatte en ingeboude kaste insluit – op datum is.

Wees ook bedag op sosialemediasekuriteit

Onthou, nie net jou vriende en volgelinge kyk na wat jy op Facebook, Instagram of Twitter deel nie. Dit gebeur ál meer dat diewe in die sosiale media rondloer vir geleenthede om toe te slaan.

  • Dis veral belangrik om vakansieplanne nie wyd en syd te verkondig nie, sê Christelle Colman, ’n woordvoerder van Old Mutual Insure. As skurke dit sien, kan hulle vasstel waar jou woonplek is en inbreek terwyl jy weg is.

Hulle kan byvoorbeeld Google Street View gebruik om te sien hoe die vooraansig van jou huis lyk. Wees ook versigtig om aanlyn te spog oor duur nuwe huisinhoud of juwele wat jy gekoop het.

  • Moenie mense wat jy nie ken nie in die sosiale media volg nie. Kyk na jou privaatheidsverstellings sodat mense wat jy nie ken nie nie jou persoonlike inligting kan sien nie. Maak ook seker dat jy dié wenk met jou tienerkinders deel – dis belangrik dat die hele gesin bedag is op die verhoogde risiko’s rondom die sosiale media.
  • Belangrik: As jy eise indien, kan versekeringsmaatskappye jou sosialemediaprofiele nagaan om seker te maak dat jy aan hulle die regte inligting verskaf het. As jy in ’n motorongeluk was en aan die versekeringsmaatskappy vertel jy het geen alkohol gedrink nie – maar op jou Facebook-profiel is daar foto’s waar jy wyn drink by ’n kuierplek net voor die ongeluk – sal jou eis afgekeur word.

As jy jou blyplek verhuur terwyl jy weg is

Huisinhoud- en geboudekking

Kyk na die voorwaardes op jou polis oor verhuring. Jy kan ook jou makelaar of versekeringsmaatskappy bel en vra. Sekere polisse het verhuring as ’n outomatiese uitbreiding – dan is jy gedek, sê Christelle.

Die meeste standaardpolisse dek egter nie verhuring nie. As jou huurder dus rooiwyn oor jou mat uitgooi of jou besittings steel, is jy nie gedek nie. As dít die geval is, bel jou versekeraar om jou polis aan te pas sodat jy gedek is as die huurder van jou besittings steel of beskadig, maar ook as daar ingebreek word of ’n brand uitbreek en die huurder se besittings gesteel of beskadig word.

Die premie sal effens meer wees vir die tydperk wat jy verhuur omdat dit ’n bykomende risiko is. Dit sal afhang van onder meer die waarde van jou huisinhoud en hoe veilig jou omgewing is. Dit verskil dus vir almal.

Vra die versekeraar vooraf hoe vinnig jou dekking weer aangepas kan word wanneer die huurder uit is.

Aanspreeklikheidsdekking

Vra jou versekeringsmaatskappy of jy dit het. Dit dek jou as ’n huurder byvoorbeeld oor ’n los teël struikel, seerkry en mediese koste – of selfs verlies van inkomste weens ’n besering – van jou eis.

Dit kan goed wees om hierdie dekking in plek te hou, selfs al is die huurder uit, want jy het dan dekking as jou eie gaste of kinders se maats hulle sou beseer.

Vra jou versekeraar hoe die dekking aangepas kan word om by jou situasie te pas of hoe gou jy dit kan kanselleer.

As jy net jou deur sluit en met vakansie gaan

Kyk na jou polisvoorwaardes

Vereis dit ’n alarmstelsel, 'n 24/7-sekuriteitsmaatskappy, veiligheidshekke vir elke deur en diefwering vir die vensters? Dan is dit ’n móét. As jy nie aan die polisvoorwaardes voldoen nie, sal jy glad nie vir verliese weens inbraak uitbetaal word nie.

  • Maak seker die alarmstelsel werk en dat dit geaktiveer is wanneer jy ry. Alarms wat nie werk nie of afgeskakel was, is een van die hoofredes hoekom eise verwerp word.
  • Bêre al jou kosbare items en waardevolste besittings in ’n kluis binne die huis as dit ’n spesifieke polisvereiste is.
  • As jy reeds weg is met vakansie, vra ’n vertroueling wat jou huissleutel het om jou alarm te toets en reël vir 24/7-sekuriteit as jy dit nie het nie.
  • Maak seker jou polisbetalings is op datum sodat jy wel dekking het. 
Kry hier nog raad

Die meeste versekeringsmaatskappye se webtuistes het nuttige en praktiese wenke om jou besittings te beskerm.

Kontak die ombudsman vir korttermynversekering by Osti of skakel 0860-726-890.

  • Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-pos sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.