DIE BASIESE

Huiswerkers wat meer as 24 uur per maand by jou werk, moet by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) geregistreer word. Selfs ’n tuinier of skoonmaker wat net een maal per week by jou werk, moet dus moontlik geregistreer word en tot die WVF bydra. Die uFiling-webtuiste maak dit maklik om te betaal en rekord daarvan te hou.

As werkers tydelik of permanent medies ongeskik raak om te werk of met kraamverlof moet gaan, kan hulle uitbetaling by die WVF eis vir die tydperk wat  hulle nie ’n inkomste het nie.

Registreer by die WVF

As jy jou maandelikse WVF-verklarings en -betalings aanlyn wil doen, moet jy eers by die WVF as werkgewer registreer. Jy is ook daarvoor verantwoordelik om jou huiswerker as jou werknemer te registreer.

Daarvoor kort jy:

  • Jou en jou werknemer se ID-nommers en adresse.
  • ’n UI-8D- en UI-19-vorm – dit kan afgelaai word van die department van arbeid se webtuiste.

Jy voltooi albei vorms namens jouself as werkgewer en namens jou huiswerker. Die vorm vir die registrasie van werkers vereis ’n werkgewersverwysingsnommer. Jy kan hierdie gedeelte leeg laat omdat jy nog nie ’n nommer het nie. Die WVF sal ’n verwysingsnommer skep en aan jou stuur.

Vir die registrasie kan jy die vorms e-pos na webmaster@uif.gov.za.

Inligting as jy dit wil pos, faks of na jou naaste kantoor van die departement van arbeid neem, is ook by labour.gov.za of bel 012-337-1680 om dié besonderhede te kry.

BEREKEN BYDRAES SO
  • 2% Soveel van ’n werker se salaris word tot die WVF by­gedra.
  • Werk­gewers moet maandeliks 1% van hul werkers se salaris aftrek en self 1% bydra.

KLIK-KLIK EN SIEDAAR!

As jy reeds as werkgewer geregistreer is, kan jy uFiling gebruik om maandeliks jou WVF-verklarings in te dien en jou bydraes te betaal. Dit is gratis; jy betaal dus geen fooie nie. (Onthou net dat jou bank dalk fooie hef as jy sekere betaalopsies gebruik, soos debietorders, en dit sal jy moet betaal. Dit is egter deel van jou bankrekeningfooie en het niks met die WVF te doen nie.)  

Om uFiling te aktiveer, gaan na die webtuiste en volg die aanwysings. Dit word baie duidelik uiteengesit. Daar is ook ’n gebruikersgids waar jy die aktivering stap vir stap kan nagaan as jy onseker is.

Om jou profiel te skep, kort jy jou WVF-verwysingsnommer, ID-nommer, ’n e-posadres (hierheen word byvoorbeeld maandeliks ’n herinnering gestuur om betyds te betaal) en bankbesonderhede. Jy sal ook jou werker se ID-nommer moet verstrek en hoeveel sy maandeliks en dan jaarliks verdien, want dit sal bepaal hoeveel die bydrae is.

Jy sal gevra word om ’n wagwoord te skep waarmee jy enige tyd toegang tot jou uFiling-profiel sal kan kry.

uFiling-betalings

Die maandelikse verklaring word namens jou elektronies gedoen; jy hoef nie papierwerk in te vul nie. Jy kan dan die betalings vanaf die uFiling-webtuiste uit jou rekening laat debiteer of ’n elektroniese betaling laat maak.

Jy kan enige tyd ’n betalingsrekord versoek.

Jy kan vooruitbetaal deur ’n jaar-bedrag te betaal of jy kan toekomstige betaaldatums aangee wanneer die betalings sal afgaan.

Onthou, trek jou huiswerker se persentasie bydrae maandeliks van haar salaris af en betaal dit dan saam met jou bydrae in.

Hoe veilig is dit?

Volgens die WVF word alle uFiling-inligting vertroulik gehou en veilig geberg. Om ongemagtigde toegang tot enige data te keer, word alle inligting geïnkripteer. Jou bank doen die inkripsie vir elektroniese betalings wat deur hulle verwerk word. Gebruikers moet net seker maak hulle is op die regte webadres en kyk vir die slotsimbool op hul blad.

’n Leser wat al ses jaar die web-tuiste gebruik, sê sy het nog nooit sekuriteitsprobleme ervaar nie.

WENK
Onthou om jaarliks die salarisbedrag op uFiling aan te pas wanneer jou huiswerker ’n aanpassing kry omdat die WVF-bydrae dan moet styg.

Oppas!

Soms doen gerugte oor vals WVF-uitbetalings die ronde in die sosiale media.

Die nuutste is dat mense wat van 1994 tot 2018 gewerk het kwansuis volgens ’n voordeel-program ’n paar duisend rand as toeval kan kry. Die WVF het nie so ’n program nie.

AANSTELLINGS EN BEDANKINGS

Wanneer die werker bedank, kan jy dit op jou profiel aandui. Geen nuwe betalings sal op jou profiel vir die werker geskep word nie. As jy iemand anders aanstel, doen jy dit op dieselfde uFiling-profiel, want jou werkgewersverwysingsnommer bly dieselfde. Betalings sal dan weer vir die nuwe persoon geskep word volgens sy of haar salaris.

Kontak ons
  • Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.
  • Gaan na huisgenoot.com vir nog raad en wenke.

Kry hier nog raad