1. Spaar ’n persentasie van jou salaris

’n Eenvoudige manier om jouself meer te laat spaar is om elke maand ’n persentasie van jou inkomste weg te sit pleks van ’n vasgestelde geldsom. As jy ’n persentasie spaar, sal die spaarbedrag groei namate jou salaris styg. Eindelik sal jy meer wegsit.

Mense is geneig om net hul groter inkomste te bestee en nie meer geld te spaar nie. Al spaar jy reeds vir aftrede, is daar nog heelwat ander redes hoekom elke mens geld moet spaar.

Die doelwitte kan verskil – vir sommiges is dit ’n noodfonds vir wanneer skielike uitgawes opduik; vir ander kan dit wees om ’n reis te beplan of eendag vir hul kinders se studie te betaal. Maar die einddoel is dieselfde: As jy vir dié uitgawes geld spaar, hoef jy nie skuld te maak om dit te bekostig nie.

Jy kan met ’n klein bedrag begin, byvoorbeeld 5% van jou inkomste. Laat dit met ’n debietorder saam met jou verpligte aftrekkings, byvoorbeeld jou huisverband en motorlening, aftrek. Dan is dit uit jou rekening nog voor jy jou hand daarop kan lê.

2. Gebruik die mag van saamgestelde rente

Welvaartskepping gebeur met verloop van tyd, en al is jy al in jou 30’s, kan jy nog lank ’n inkomste verdien en geld belê. Hoe langer jy spaar, hoe sterker is die mag van saamgestelde rente. Dis wanneer die rente wat jy op jou spaargeld verdien self begin rente verdien.

As jy begin, hou dus aan en laat saamgestelde rente vir jou werk.

Mthobisi Mthimkhulu van Allan Gray gee dié voorbeeld van beleggingsgroei op lang termyn: ’n 33-jarige het vanjaar begin om maandelikse bydraes van R2 750 tot ’n belastingvrye spaarplan (BVSP) te maak. As hy dié bydraes volhou, sal hy sy leeftydbeleggingslimiet van R500 000 vir ’n BVSP oor 16 jaar bereik.

As sy belegging met 5,82% (die gemiddelde inflasiekoers oor die afgelope 16 jaar) groei, sal die waarde teen 2034 sowat R789 727 wees.

Maar as hy nog ’n jaar belê tot hy 60 jaar oud is, kan sy belegging R1 470 623 werd wees – volkome belastingvry.

3. Bestee minder geld as wat jy verdien

As jy elke maand net-net jou uitgawes kan dek, sal jy nie sommer rykdom bou nie. Koop eerder ’n kleiner huis en motor as die maksimum lening wat die bank bereid is om toe te staan. Intussen kan jy die ekstra geld spaar, en as rentekoerse styg, sal jy ’n duurder paaiement kan bekostig.

Dit is maklik om in die slaggat te trap om jou volle inkomste uit te leef. Moenie daarin vasgevang word deur geld te bestee aan duur karre, klere en vakansies wat beteken jy kan niks spaar nie of moet skuld maak.

Jy beïndruk dalk ander mense, maar jy doen dit ten koste van jou finansiële welstand.

4. Moenie te konserwatief wees nie

Byna 80% van stedelike, werkende Suid-Afrikaners wat tussen 31 en 39 jaar oud is, sal dit oorweeg om geld uit ’n salarisverhoging in ’n spaarrekening, vaste deposito of geldmarkrekening te belê, toon die Old Mutual-spaar-en-beleggingsmonitor 2018.

’n Finansiële adviseur sal jou goeie raad kan gee oor watter beleggings die beste vir jou is. Maar oor die algemeen is beleggings in kontant (soos ’n spaarrekening, vaste deposito en geldmarkrekening) nie gepas op lang termyn nie omdat dit nie ’n opbrengs lewer wat inflasie klop nie.

Dit kan ’n goeie tydelike parkeerplek vir jou geld wees, maar jy kan in beleggings met ’n goeie aandeleportefeulje waarskynlik ’n beter opbrengs verdien as jy jou geld drie jaar en langer wil belê.

In jou 30’s het jy juis tyd om lank te belê om sodoende tydelike verswakkings in die aandelemark te oorbrug.

Wenk
Stel die onthoufunksie op jou foon vir wanneer dit tyd is om jou testament ’n slag na te gaan. As jy nog nie een het nie, stel dadelik een op.

5. Betaal skuld slim

Begin met jou kleinste en nie jou grootste skuldbedrag nie. Dit maak nie sin om meer op huislenings af te betaal terwyl jou kredietkaartbalans, wat waarskynlik ’n heelwat hoër rentekoers het, ál groter word nie.

Hou eerder die huisleningafbetaling vol en gebruik enige bykomende kontant om korttermynskuld te delg. Dit werk soos ’n sneeubal – wanneer jy die kleinste bedrag afbetaal het, kan jy daardie geld gebruik om die volgende rekening te takel, en so aan.

Dis volgens skuldkenners ook bemoedigender vir mense met verskillende skuldrekenings om hul skuld so af te betaal.

Instansies soos die Nasionale Kredietreguleerder het raad om skuld vas te vat. 

Kry hier nog raad
Die getalle

54% van stedelike, werkende Suid-Afrikaners in die 31-39- ouderdomsgroep spaar minder as verlede jaar.
44% van hulle spaar vir ’n noodfonds.

  • Bron: Old Mutual-spaar-en-beleggingsmonitor 2018.