Grietjie, Pieter van Zyl se geliefde haarlose sfin
Grietjie, Pieter van Zyl se geliefde haarlose sfinkskatjie, wat skielik einde verlede jaar oorlede is. Foto: Verskaf

“Grietjie was 10 jaar lank in my lewe, en die houertjie met haar as laat dit voel asof sy in die gees nog hier in haar gunstelingsonkol sit. Maar die verlange na haar warm lyfie is oorweldigend.

Skaars ’n week ná haar onverwagte dood op 28 Desember, en dus tydens die feestyd-inperking, soek ons aanlyn na ’n nuwe kaalkatjie.

Ons google sfinkskattelers in Suid-Afrika en kry ’n skakel na ’n webtuiste wat betroubaar lyk. Ons bel die kontaknommer vir ene “Emma” wie se naam op die webtuiste verskyn en deel ons hartseer verhaal met die vrou aan die ander kant van die foon.

’n Foto van “Ella”, wat Pieter se hart laat vermur
’n Foto van “Ella”, wat Pieter se hart laat vermurwe het en na hom sou kom, maar toe nooit opgedaag het nie. Foto: Verskaf

Sy stuur foto’s. Een kaalkatjie op ’n sebrakombersie steel dadelik ons hart. Ons doop haar summier Ella.

Om haar te “bespreek”, hoor ons, moet ons ’n deposito van R1 800 betaal. En net daar begin ons nagmerrie-ervaring met ’n vermeende troeteldierswendelaar . . .

Soms kan jou versugting ten spyte van al die waarskuwings teen aanlyn slenters jou oordeel benewel.

Op 10 Januarie stuur ek vir “Emma” die bewys dat ek die geld oorbetaal het, en sy bevestig ontvangs.

Ons is in die wolke, maar ek kan Ella nie self by die verskafte adres op ’n dorpie in die Wes-Kaap gaan haal nie. My skoolvriend Jacques van Rooyen kan help.

Elke keer is ongeleë en kry ék die skuld. Later dring sy daarop aan om die katjie eerder die volgende dag na ons te koerier.

Toe begin die frustrerende heen-en-weer met die katvrou op WhatsApp om te reël dat Jacques Ellatjie gaan haal.

Elke keer is ongeleë en kry ék die skuld. Later dring sy daarop aan om die katjie eerder die volgende dag na ons te koerier.

Maar ek moet eers die uitstaande bedrag en koerierkoste betaal, altesaam R5 750, “vanoggend nog”, en sy vra kort-kort weer die betaling.

My agterdogtige skoolvriend ry eers na die adres om te sien of dit wel bestaan. En gou stuur Emma weer ’n teksboodskap: “Ek praat met jou vriend wat die kat sou op laai??? You are confusing me!!! First it was supposed to be weekend and all of a sudden a friend is coming today? And now we agreed on sending her and now he’s coming again??? (sic)

Sy stuur selfs vir my ’n foto van haar “identiteitsdokument”. Dan laat weet Jacques hy was by die huis, maar niemand was tuis nie. Volgens die bure het vreemdelinge net ’n week tevore daar ingetrek.

“Dit het met my ook gebeur,” is verskeie se reaksie.

“Dink mooi voor jy betaal,” pleit Jacques. Maar Ellatjie se foto laat my smelt. Ek stuur die res van die geld. En dis die laaste boodskap van my wat Emma oopmaak.

Drie dae later stuur ek haar desperaat ’n boodskap: “Asseblief, stuur die koerier se nommer. Waar is ons Ella?” My pleidooie en dreigemente word deur stilte begroet.

Ons gee die saak by die polisie aan, maar hulle maan dis moeilik om kuberswendelaars te vervolg. Ek deel ook ons verhaal met Facebookvriende as waarskuwing. “Dit het met my ook gebeur,” is verskeie se reaksie.

Een van die laaste foto’s van Pieter en Grietjie s
Een van die laaste foto’s van Pieter en Grietjie saam. Hulle was onafskeidbaar. Foto: Verskaf

“Jis, dis mal!” skryf een. “Ek het in Oktober laas jaar daaraan gedink om ’n sphynx te kry, haar (Emma) ook gekontak en sy het vir my hierdie aangestuur . . .”

Dis dieselfde foto van onse Ellatjie. “Gelukkig het ek toe besluit om te wag tot die nuwe jaar. Maar nou weet ek obviously om dit nié te doen nie,” skryf my kennis.

Dae later stuur nog ’n kennis vir my ’n skakel na ’n ander webtuiste. Daar tref ons Tammy aan, feitlik Ellatjie se ewebeeld, te koop vir “net” R3 500.

Weer bel ek en deel my hartseer verhaal. Die vrou is simpatiek, maar vra R4 000 vooruit vir die bedrag en koerierkoste. Sy woon in ’n ander stad. Dadelik is ek opgewonde, maar ’n vriendin in dié stad gaan kyk eers.

Sy laat weet: “Nee, nee, nee, dis ’n scam. Ek het die mense daar trompop geloop, en hulle erken hulle verkoop nie regtig troeteldiere nie. Groot skelms.”

Toe ek die privaat speurder Mike Bolhuis van my ervaring vertel, help sy trooswoorde beswaarlik: “Toemaar, jy is nie alleen nie. Suid-Afrikaners is oningelig en vang sulke stommighede aan.”

Maar daar is tog hoop op ’n gelukkige einde. Ons wonderlike vriende het R7 000 ingesamel om ’n kaalkatjie te bestel van ’n Kaapstadse vrou wat ’n werpsel verwag, en gereeld gaan kyk om te verseker alles is klopdisselboom.

Ons nuwe pienk baba is intussen gebore en sal na verwagting einde Mei by ons intrek. Haar naam is Poppie."

SWENDELAARS TEEL AAN TYDENS INPERKING

Grietjie was Pieter se hart se punt. Foto: Verskaf
Grietjie was Pieter se hart se punt. Foto: Verskaf

Mike Bolhuis vertel sy onderneming, Specialised Security Services, het sedert die begin van die inperking “honderde” klagtes oor diereslenters gekry. Swendelaars maak veral nou misbruik van die feit dat baie mense in dié tyd ’n behoefte ontwikkel het na ’n troeteldier.

Die skurke maak seker hulle verskaf ’n adres ver van jou en dring dikwels later daarop aan om hul eie koerier te gebruik.

“Die webtuistes vang jou eers met oulike video’s en foto’s. Jy is reeds emosioneel as jy soekend is na ’n nuwe diertjie. En as die prys reg is, hap jy die hoek nog dieper,” vertel Mike.

Sodra jy die deposito vir die dier betaal, volg nog koste wat jy kwansuis eers moet dek voor jy hulle kan kry, byvoorbeeld vir vervoer.

Die skurke maak seker hulle verskaf ’n adres ver van jou en dring dikwels later daarop aan om hul eie koerier te gebruik. Maar jou dier daag nie op nie – en dit is dan dat jy nooit weer van hulle hoor nie.

WAT AS EK INGELOOP IS?

  • Meld aanlyn misdaad aan by ISPA sodat data oor vermeende swendelaars versamel kan word.
  • As jy ’n slagoffer van ’n diereswendelaar is, gaan na die naaste polisiekantoor met al jou bewyse op WhatsApp, e-pos, foto’s, video’s en bankstate, sê kol. Brenda Muridili van die polisie se hoofkantoor in Pretoria. “Slagoffers moet na vore kom sodat ons ondersoek kan instel,” sê sy. Jy sal ’n saaknommer kry. Die polisie sal dan ondersoek doen na soortgelyke gevalle van bedrog, diefstal en afpersing en soortgelyke gevalle saamvoeg.
  • Kontak Crime Stop by 086-00-10111 of stuur ’n wenk op die MySAPS-app. Alle inligting sal vertroulik hanteer en ondersoek word.

WAT IS DIE GEVAARTEKENS?

Lyk dit na ’n winskopie? Pasop, dis dalk ’n slenter. Kyk uit vir dié gevaarligte:

  • Verkopers wat vir jou foto’s of video’s stuur, maar weier dat jy of iemand anders hulle eers besoek om die dier self te sien.
  • Verkopers wat weier dat jy die dier by hul woonplek besigtig.
  • Verkopers wat ’n deposito vra nog voor jy self die dier gesien het.
  • Verkopers wat daarna laat weet hulle benodig nog betalings om die dier aan jou  te besorg, hetsy vir inentings of vervoer.
  • Mense wat net per e-pos of WhatsApp kommunikeer.
  • As die verkoper uit die staanspoor daarop aandring om die dier aan jou te koerier.
  • Wees veral bedag op ongewone betaalmetodes soos met Bitcoin of iTunes koopbewyse.

GAAN LIEWER NA ’N DIEREHAWE

Keshvi Nair van die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings pleit dat mense eerder na hul naaste DBV gaan en ’n dier in nood aanneem.

“Daar moet berading en raad wees, en die nuwe eienaar moet ingelig wees oor die agtergrond, temperament en gedrag van die dier.”

EKSTRA BRON: NSPCA
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe