Jy het ’n vaste kontrak van byvoorbeeld twee jaar met jou selfoondiensverskaffer aangegaan, maar besef tot jou skok dis nie die billikste opsie vir jou nie. ’n Mens kan dit natuurlik nie net summier stop en ophou betaal nie.

Jy kan die kontrak wel voor die vervaldatum kanselleer, maar die diensverskaffer sal jou heel moontlik ’n kansellasiefooi vra. Tog is daar hoop: As jy kort ná die aanvang van die kontrak jou fout agterkom, kan jy dit dalk stopsit sonder om ’n boete te betaal. Kom ons kyk hoe.

Terugbetalings

As jy besef jou splinternuwe kontrak is te duur, moet jy dadelik die selfoonmaatskappy nader. Hulle behoort jou ’n spesifieke tydperk te gee waarin jy ’n volle terugbetaling kan kry. Dit kan wissel na gelang van die maatskappy en jou soort kontrak.

Voorwaardes kan geld, soos dat die selfoon binne twee weke – en onbeskadig – aan die verskaffer terugbesorg word.

En gewoonlik in die oorspronklike verpakking, met alle toebehore, soos die laaier. Jou selfoonmaatskappy sal die voorwaardes aan jou verduidelik.

Vroeë kansellasie

Ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming moet jy die diensverskaffer 20 werkdae kennis gee as jy jou kontrak voor die vervaldatum wil staak. Dit moet skriftelik wees, byvoorbeeld per e-pos, en jy moet ’n afskrif daarvan as bewys hou.

Sekere diensverskaffers het selfs ’n voorwaarde in die kontrak dat dit nie per SMS gedoen mag word nie.

Kansellasiekoste

Regtens moet enige kansellasiefooi ’n redelike bedrag wees. Hoeveel dit moet wees, word nie wetlik vasgestel nie, maar die verskaffer mag nie die wins wat hulle uit die volle kontraktydperk sou gemaak het van jou as kansellasiefooi eis nie.

Die firma moet jou ’n skriftelike uiteensetting van die kansellasiefooi gee. Dit word bereken deur byvoorbeeld dít in ag te neem:

  • Die waarde van die goedere wat ná die kansellasie in jou besit bly, soos die selfoon of tablet. Jy behoort die uitstaande bedrag te betaal wat jy nog op die toerusting skuld.
  • Die afslag wat toegestaan is; dus die verlaagde koers of prys waarby jy baat gevind het. As die verskaffer ’n verlies ly omdat jy die kontrak vroeg kanselleer, kan hulle dit verhaal. 
  • Die duur van die kontrak, soos eers ooreengekom, en wanneer jy kanselleer. Hoe nader aan die einde van die kontraktydperk, hoe minder betaal jy.
  • Jy sal enige uitstaande bedrae vir data, lugtyd of teksbood-skappe moet betaal.

As jou klagte nie opgelos word nie

As jy meen die koste is nie regverdig nie en die diensverskaffer se kliëntediens los nie die probleem op nie, kan jy die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -dienste nader (www.cgso.org.za of 0860-000-272). Daar is ’n klagtevorm op die webtuiste; so nie kan die kontaksentrum jou sê of jou klagte geldig is.

Klaar kniediep in die skuld

Netwerkverskaffers beskou jou kontrak as ’n diens- en nie ’n kredietooreenkoms nie.

Hulle hoef dus nie jou maandelikse betalings aan te pas om dit makliker vir jou te maak nie, byvoorbeeld teen ’n laer koers oor ’n langer tydperk. Sekere netwerke sal wel die kontrak as deel van jou skuldafbetalingsplan beskou en jou help om dit makliker af te betaal.

Jou skuldberader kan jou hiermee help, as jy een het. Kry hulp voor jou betalings agterstallig raak, maan Matthys Potgieter, woordvoerder van DebtSafe.

’n Skuldraadgewer kan skuldontledings doen en aanbevelings doen sonder dat jy formeel onder skuldhersiening kom. So nie, nader die diensverskaffer en vra hoe hulle sulke situasies hanteer. As jy eers agterstallig is, sal dit jou kredietrekord beïnvloed en enige toekomstige diensooreenkomste belemmer.

Weet dÍt

Al verstryk jou kontrak, moet jy dit steeds amptelik staak, anders loop dit voort op ’n maand-tot-maand-grondslag. Maar sonder jou toestemming mag die kontrak nie weer vir ’n vaste tydperk, soos 12 of 24 maande, hernu word nie. Vind uit wat jou diensverskaffer se kansellasiebeleid is.

Normaalweg moet jy ’n maand kennis gee.

Op hul beurt moet die diensverskaffer jou tussen 40 en 80 dae kennis gee voor jou kontrak verstryk. Die kennisgewing moet uitstippel wanneer jou kontrak verval en jou opsies gee, soos hernuwing of kansellasie, en verduidelik as jy nie reageer nie, sal die kontrak op ’n maand-tot-maand-grondslag voortgaan.

As jy dan maand tot maand wil voortgaan, behoort dit goedkoper te wees as wat jou kontraktarief was, want die toerusting is reeds afbetaal.

Vodacom en MTN HET STEEDS DIE meeste intekeNAARS

  • 75% van Suid-Afrika se selfoongebruikers is intekenaars van Vodacom of MTN:
37,1 miljoen Vodacom
29,5 miljoen MTN
16,3 miljoen Cell C
4,4 miljoen Telkom


Kontak ons
Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.

Kry hier nog hulp:

Besoek die Nasionale Verbruikerskommissie se webtuiste vir nog inligting.