Slimfone maak dit vir ons baie makliker om ons geldsake deur middel van bank-apps te doen, en banke moedig dit ál meer aan. Maar dit bring ook nuwe risiko’s. Ons selfone bevat dikwels ’n magdom persoonlike en bankinligting.

Skurke ontwikkel gedurig nuwe metodes om dié inligting te bekom en hul vingers in jou bankrekening te kry. Ons kyk na twee nuwe digitale slenters wat ál meer voorkom – en hoe jy jouself daarteen kan beskerm.

WENK: Moenie openbare Wi-Fi-verbindings in byvoorbeeld restaurante gebruik vir internetbankdienste nie. Die sekuriteit is onvoldoende. Kubermisdadigers gebruik dit gereeld vir inligtingsdiefstal.  

SELFOONBANKBEDROG

Hoe werk dit?

Bedrogsindikaatlede probeer dag en nag om digitaal by jou foon “in te breek”. Indien hulle byvoorbeeld ’n noodkontak van jou se nommer in die hande kry, sal hulle daardie persoon bel, voorgee hulle is die netwerkverskaffer of foonmaatskappy en sê die foon is êrens gevind.

Hulle vra dan jou PIN-kode of ander persoonlike inligting om te bevestig dit is jou foon. Hulle kan baie oortuigend wees.

Nog ’n manier is om vir jou ’n skakel te stuur waarop jy moet klik om toegang tot jou foon te kry, wat jou na ’n vals webtuiste lei. Hul volgende stap is dan om jou bankrekening- en PIN te probeer bekom.

Hoe beskerm ek die persoonlike bankinligting op my foon?

  • Die groot prys wat die swendelaars uit jou foon wil myn, is jou bankrekening se PIN-kode. Hulle moet dit hê om toegang tot jou rekening te kry. Vermy eerstens voorspelbare kodes soos 12345 of jou verjaardagdatum. Dit moet ongewilder en meer lukraak wees – iets wat nie met jou of jou gesin se name, beroep, woonadres, ensovoorts verbind kan word nie.
  • Knap jou foon se sekuriteit op! Foto- en vingerafdrukstelsels is nie altyd waterdig nie. Kies ’n onvoorspelbare PIN-kode wat verskil van jou bankrekening se PIN- kode.
  • Moenie bankinligting soos jou PIN, kaartnommer of wagwoorde op jou foon bêre nie – tensy jy ’n baie doeltreffende app het wat juis gebruik word om sulke inligting te beskerm. Moenie die inligting met ander deel nie.
  • Meld af wanneer jy die bank-app op jou selfoon klaar gebruik het.
  • Moenie klik op skakels of aanhangsels in e-pos as jy nie seker is dit het ’n betroubare oorsprong nie. Skelms gebruik “spioenasie-sagteware” wat jou foon infiltreer sodra jy op die skakel klik – en sodoende kan hulle jou e-pos of ander inligting op jou foon te sien kry.
  • Moenie reageer as jou bank of selfoondiensverskaffer bel en jou persoonlike inligting vra nie. Dit kan ’n skelm wees. Lui af en kontak dan jou bank direk met die inligting wat jy self op hul amptelike en openbare webtuiste gaan verkry. Moenie kontakbesonderhede gebruik wat die vermeende skurk aan jou verskaf het om dit te doen nie.
  • Registreer vir tekskennisgewings by jou bank sodat jy dadelik weet wanneer geld uit jou rekening gaan.
  • Wees versigtig in die sosiale media. Maak seker jou sosialenetwerkprofiele is op privaat gestel, en wees versigtig met die inligting wat jy aanlyn plaas. Sodra dit op die internet is, is dit vir altyd daar!

Wat doen ek as my foon gesteel word?

  • Kontak jou bank dadelik sodat hulle bewus is van die moontlikheid dat die diewe toegang tot jou aanlyn bankdienste kan probeer kry om aankope te doen of geld uit jou rekening te trek. Die bank kan toegang tot jou rekening tydelik sluit en nog raad gee om jou bankinligting te beskerm.
  • Lig jou selfoonnetwerkverskaffer in. Die netwerk kan jou simkaart blok sodat dit nie misbruik word nie, byvoorbeeld vir onregmatige oproepe of bedrieglike transaksies.
  • Lys al die aanlyn rekeninge en dienste wat jy op jou foon gebruik het, en verander dan die wagwoorde.
  • Meld die diefstal by die polisie aan. Hulle sal jou ’n saaknommer gee, wat jy byvoorbeeld vir versekeringseise sal benodig.
  • As jy dekking het, laat weet jou versekeraar.

DIGITALE FAKTUURBEDROG

Hoe werk dit?

Die bedrieër kry byvoorbeeld toegang tot jou e-pos en onderskep ’n faktuur wat ’n diensverskaffer aan jou stuur. Hulle gebruik dan die regte faktuur om ’n vals een te skep met hul eie bankbesonderhede vir betaling.

Sodra jy daardie elektroniese oorbetaling doen en die geld beland in die skurk se rekening, verskuif hy dit na verskeie ander rekenings.

Die slagoffers van hierdie skelmstreek is dikwels privaat verbruikers of klein ondernemings en nie net groot maatskappye nie.

Wat kan ek doen om dit te verhoed?

  • As ’n diensverskaffer jou telefonies of per e-pos kontak om hul betalingsbesonderhede te verander, moenie reageer nie. Kontak liewer die diensverskaffer afsonderlik en regstreeks met behulp van hul openbare besonderhede, en bevestig met hulle die egtheid van die versoek.
  • Spelfoute, te groot bedrae en swak ontwerp op die faktuur is gevaartekens!
  • Moenie eens e-pos oopmaak waarvan die adres verdag lyk nie. Groot maatskappye gebruik byvoorbeeld nie generiese Gmail- of Yahoo-adresse nie.
  • Spesifiseer alle begunstigdes wat jy gereeld moet betaal op jou bank-app sodat jy nie gedurig betalingsinligting hoef te laai nie.

Ek is bedrieg; wat nou?

  • Vra dadelik jou bank om die bedrieër se bank te vra om die betrokke rekening te vries. Daar is ’n klein kans dat jy jou geld sal terugkry as dit betyds gebeur.
  • Lig die diensverskaffer in.
  • Meld dit by die polisie aan. 
Kry hier nog raad