Clicks ClubCard, Pick n Pay Smart Shopper, Dis-Chem Benefits . . . Dis maar enkele van ’n magdom “winkelkaarte” wat dalk in jou beursie is.

Sowat 79%* van alle Suid-Afrikaners is lid van die een of ander lojaliteitsprogram. Dié wat die maklikste is om te gebruik is gewoonlik die gewildste.

Ons sê jou hoe jy die meeste waarde kan kry uit al daardie plastiek wat jou beursie so laat bult.

Dit werk as . . .

Dit maklik is om te verstaan.

Die werklike verdienstekoers is hoeveel jy bestee om ’n beloningseenheid te verdien.

Programme wat jou in ’n duidelike randwaarde beloon, is die maklikste om te verstaan. Dan weet jy presies hoeveel jy daarmee kan koop.

Byvoorbeeld: Vir elke R5 wat jy by Clicks bestee, kry jy een punt, en een punt is 10c werd. Bestee jy R50, kry jy R1 terug.

Wat jy terugkry meer is as wat jy in fooie betaal.

Kleinhandelaars se lojaliteitsprogramme (soos Edgars se Thank U, Clicks Clubcard en Pick n Pay Smart Shopper) is gewoonlik gratis.

Maar talle banke laat ’n mens betaal vir hul beloningsprogramme.

As die jaarlikse fooi R150 is, moet jy meer as R12,50 per maand terugkry om die koste te regverdig.

Of die voordele soos gimafslag, afslag op tydskrifintekenings, pretdrafdeelname of afslag op vlugte moet neerkom op meer as wat jy per jaar betaal.

Jy reeds by die plek(ke) koop wat aan die lojaliteitsprogram verbind is.

Lojaliteitsprogramme moet by jou leefstyl inpas en jou beloon vir die meeste van jou aankope.

Wanneer jy uit jou pad moet gaan, soos om spesiaal verder as jou naaste winkel te ry en petrol te vermors om lojaliteitspunte te verdien, is dit waarskynlik nie die beloning werd nie.

Jy baie bestedingsopsies het.

Met sommige lojaliteitsprogramme kan jy belonings by verskeie winkels verdien, maar net by een winkel bestee.

Die gerieflikste programme laat jou toe om punte aanlyn of by verskeie winkels te verdien en te bestee.

So kan jy die meeste punte verdien en bestee aan iets wat jy werklik nodig het, soos kruideniersware, lugtyd, brandstof en elektrisiteit.

Jy moet maklik jou saldo kan nagaan.

Smart Shopper se aanlyn app is byvoorbeeld baie maklik om te gebruik.

Jy kan daarmee jou Smart Shopper-punte in rand omskakel en sien watter spesiale afslag jy op produkte kan kry.

Die voordele

Jy kan aansienlik bespaar.

Monitor wat jy maandeliks kry uit lojaliteitsprogramme waarvoor jy betaal en besluit of jy daarmee moet volhou.

Sekere programme se punte kan jy opgaar vir iets spesifieks, soos Kersinkopies.

Jy kan jou rande rek.

Met sekere lojaliteitsprogramme kan jy beloningspunte saam met kontant vir aankope gebruik.

Jy kan digitale rande verdien.

Met aanlyn inkopies kan jy belonings kry om elders te bestee, soos Discovery Miles wat by Loot.co.za verdien en bestee kan word en eBucks by Takealot.com.

Die meeste programme het vennote sodat jy daar punte kan verdien of gebruik of afslag kan kry.

Jy kan byvoorbeeld lojaliteitspunte op jou Thank U-kaart verdien by alle Edcon-winkels (soos Jet, Boardmans, CNA en Red Square) of brandstof by Engen-vulstasies ingooi.

Of jy kan jou Smart Shopper-punte ruil vir ’n Ster-Kinekor-fliekkaartjie of met jou Clicks ClubCard afslag kry by Nu Metro-flieks.

Jy kan welsynorganisasies help deur jou bonuspunte aan hulle te skenk.

FYN druk

Wanneer verval belonings?

Jy moet alles wat jy opgaar voor die vervaldatum bestee.

Minimum vereistes.

Weet wat jy moet doen om belonings te bestee.

Aktiwiteit.

Pasop – dalk word jou kaart gedeaktiveer as dit ’n sekere tyd lank in onbruik is.

Uitsluitings.

Verdien jy punte vir alles in jou inkopiemandjie of net vir sekere produkte?

Wenk:

Die Verbruikerswet vereis dat lojaliteitsprogramme baie duidelik moet wees oor die presiese aard van belonings, op watter diens en produk die program betrekking het en wat van lede verwag word.

Kry hier nog hulp:

Die bepalings-en-voorwaardes-afdeling op die lojaliteitsprogram se webtuiste.

’n Goeie lojaliteitsprogram het ’n kliëntedienssentrum wat jy kan bel.

Kontak ons
Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.
*2017 Truth Loyalty Whitepaper.