Jy hoef nie ’n klomp kontant te hê om in 2018 finansieel gesonder te wees nie.

Elke bietjie wat jy ekstra spaar of aan jou skuld afbetaal, maak ’n groot verskil.

Danelle van Heerde, hoof van adviesprosesse by Sanlam, sê hoe ’n mens dit kan doen.

Jou pensioenfonds

Jou aftrede kan baie geriefliker wees as jy net 5% meer tot jou pensioenfonds bydra.

As jy jou lewenstandaard wil behou, moet jy daarna streef om ná aftrede ’n maandelikse pensioeninkomste gelykstaande aan jou huidige salaris te hê.

Voorbeeld: Pieter-Jan verdien R20 000 per maand. Daarvan dra hy R3 000 per maand (15%) tot sy werk se pensioenfonds by. As hy 40 jaar lank dié bedrag spaar en dit groei met inflasie, sal sy pensioenfondsgeld met aftrede sowat 66% van sy inkomste voor aftrede wees.

Die verskil wat ’n klein bietjie maak: As Pieter-Jan net nog 5% (R150) van R3 000 ekstra per maand wegsit, kan hy 69% van sy vooraftrede-inkomste spaar.

Verhoog hy sy bydrae jaarliks met 1% meer as die inflasiekoers, kan sy aftree-inkomste tot 80% styg. (Gegrond op ’n inflasie-aanname van 6% en met ’n beleggingsopbrengs van 9% per jaar ná fooie.)

Jou huislening

Dit is sekerlik die meeste skuld wat mense in hul leeftyd maak.

Omdat die afbetaling oor ’n lang tydperk strek, kan die rente wat jy daarop betaal aansienlik wees. Maar as jy maandeliks net ’n bietjie meer as die minimum paaiement betaal, kan jy die afbetalingstydperk korter maak en heelwat minder rente betaal.

Voorbeeld: Gestel jy het ’n huislening van R1,5 miljoen teen ’n rentekoers van 11% oor 20 jaar. Jou paaiement sal R14 957 wees (sonder administrasiefooie).

Die verskil wat ’n klein bietjie maak: As jy maandeliks 5% (R748) meer betaal, sal jy die lening amper drie jaar gouer afbetaal. Dit sal jou ook ’n allemintige R344 042 aan rente bespaar.

Kredietkaartskuld

Korttermynskuld soos krediet- en winkelkaarte het hoë rentekoerse; daarom groei dié skuldlas vinnig.

Dis “duur” skuld. Probeer dit eerste afbetaal om die baie rente te vermy. As jy net effens meer as die maandelikse minimum betaal, kan jy dit gouer delg en minder rente daarop betaal.

Sodra dit afbetaal is, sal jy meer geld beskikbaar hê om ander skuld te takel of te spaar. Voorbeeld: As jy R10 000 kredietkaartskuld het teen ’n rentekoers van 22%, sal die minimum maandelikse afbetaling R509 per maand oor 24 maande wees sonder enige administrasiegeld.

Die verskil wat ’n klein bietjie maak: As jy R100 ekstra inbetaal, sal jy die skuld in 20 maande delg en R435 bespaar wat rente betref.

Maak dit moontlik

Ja, jy kan elke maand meer spaar of ’n groter afbetaling op jou skuld maak. Maar dan moet jy die gewoonte verbreek om van een salaristjek tot die volgende te leef, sê Danelle van Heerde van Sanlam.

Verbreek die bose kringloop so:

  • Betaal jouself eerste

As jy altyd net die geld spaar wat oorbly nadat jy alles geblaas het wat jy wou, sal jy nooit suksesvol spaar nie.

Sit eerder geld weg om te spaar of skuld te delg sodra jou salaris inbetaal word. Jy kan dit doen deur die debietorder na byvoorbeeld jou spaarfonds of huislening te verhoog.

As jy sukkel om dit nou te doen, moet jy probeer sodra jy ’n salarisverhoging kry.

  • Spaar vir iets wat saak maak

Motiveer jouself met ’n spaardoelwit, soos ’n droomvakansie of jou kind se studie.

  • Hersien jou skuld

Beperk jouself tot “goeie” skuld, soos ’n huislening of studiegeld, en gebruik dan besteebare kontant vir klere eerder as om laasgenoemde met jou winkelkredietkaart te koop.

Jy betaal, soos genoem, hoë rente op korttermynskuld; daarom moet dit ’n prioriteit wees om dit heel eerste te verminder. Sodra dit gedoen is, kan jy die geld spaar wat jy gewoonlik gebruik het om dit af te betaal.

  • Hou boek van jou nienoodsaaklike uitgawes

Die meeste van ons het ’n goeie idee van wat ons maandelikse noodsaaklike uitgawes is, maar kyk dikwels nie hoeveel ons aan nienoodsaaklike items bestee nie.

Besluit watter van jou nienoodsaaklike uitgawes vir jou belangrik is en wat jy alles bereid is om prys te gee. Dink aan goedkoper maniere om te doen wat jy geniet.

Jy kan byvoorbeeld daardie restaurantkuiers saam met jou vriende vervang met ’n gesellige aand by iemand se huis waar almal ietsie te ete bring.


15%

Soveel van hul huishoudelike inkomste spaar Suid-Afrikaners deur spaarplanne, stokvels, spaarklubs, beleggings en polisse.

72%

Dis hoeveel mense sê hulle spaar vir noodgevalle. 

Kry hier nog hulp
Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.