Die bankbedryf is deesdae uiters mededingend, en daar is talle rekeningopsies wat ontwerp is om feitlik almal se sak te pas.

Tog betaal baie mense jaar ná jaar bankkoste wat te hoog is omdat hul rekening nie by hul persoonlike behoeftes pas nie.

Hoekom skuif hulle dan nie na ’n ander bank wat vir hulle beter opsies bied nie? Die antwoord is dat dié besluit talle mense intimideer – en dat hulle ’n admini­s­tratiewe nagmerrie vrees.

Dié kontrolelys kan jou help met die besluit en hoe om dit uit te voer.

Wat is jou behoeftes?

Bepaal jou bankgedrag. Watter soort tran­sakies doen jy die meeste? Sommige mense het baie debietorders; ander trek kon­tant of gebruik aanlyn bankdienste.

Kyk watter koste jou bank vir jou transaksies hef en wat jou administrasiefooie is, en ondersoek watter banke die laagste fooie hef vir die transaksies wat jy hoofsaaklik doen.

Wat gaan ek benodig van my ou bank as ek wil skuif?

As jy beslis jou bestaande bankrekening wil toemaak, moet jy die volgende van die bank vra: die laaste drie maande se bankstate; ’n lys van debietorders op jou rekening; ’n lys van al die begunstigdes op jou rekening en inligting oor kaarte of rekenings gekoppel aan jou ou rekening.

Maak afdrukke van alles en bewaar dit.

Wat van jou bestaande ­beguns­tigdes en debietorders?

Gewoonlik sal die nuwe bank die begunstigdes en debietorders op jou ou bankrekening na jou nuwe een oordra.

Maar vra die nuwe bank hoe lank dit hulle sal neem. Dis moontlik dat dit vinniger sal wees as jy dit self van voor af op die nuwe rekening laat skep.

Vra dat hulle jou per SMS laat weet sodra jou debiet­orders oorgedra is.

Wat van jou bestaande lojaliteitsvoordele?

Dit is vir sommige kliënte baie belangrik, want hulle gebruik hul lojaliteitsvoordele byvoorbeeld vir inkopies.

Moenie toelaat dat dit jou keer as laer ­rekeningkoste by ’n ander bank jou geld sal spaar nie.

Vra jouself af of jy jou bestaande lojaliteitsvoordele werklik benut.

Watter dokumente sal jy vir jou aansoek by die ander bank benodig?

Gewoonlik vereis die nuwe bank:

  • ’n bewys van woonadres
  • jou ID
  • drie maande se rekeningstate van jou huidige bank en ’n bewys van inkomste.

Die nuwe TymeBank sê byvoorbeeld hulle benodig net jou vingerafdruk omdat hul inligtingverifikasie­stelsel direk met dié van die departement van binnelandse sake verbind is.

Hoe lank moet ek my ou rekening oophou?

Ongelukkig verg dit tyd om van bank te verander. Hou dus jou ou rekening minstens nog ses weke oop nadat die nuwe een ge­open is.

So kan jy verseker alles verloop vlot en jou debiet­orders word soos normaal af­getrek.

Is dit die moeite werd om duurder moontlikhede te ­oorweeg?

Dikwels kyk banke net na jou salarisstaat en bied dan ’n produk ingevolge jou inkomstegroep.

Is dit byvoorbeeld die onkoste werd om ’n privaat kliënt te wees? Privaat kliënte betaal gewoonlik meer aan fooie.

Sal hulle jou nuwe kaarte en dokumente na jou huis of werkplek koerier?

Sekere banke doen dit gratis. Jy sal ’n bewys van jou verblyf en ID moet wys om die kaart in ontvangs te neem.

Versoek bewyse van nuwe ­inligting

Vra bewyse van die nuwe rekeningbesonderhede.

Jou ou bank het magtiging nodig om die besonderhede van jou debiet­orders aan die nuwe bank te gee.

Jou werkgewer sal ook ’n bewys van jou nuwe bankbesonder­hede vra om jou salaris daarin te betaal.

Sal die nuwe bank jou korttermyn-­kredietlening oorneem?

Banke is soms bereid om dit te doen. Maar vind uit teen watter rentekoers en oor watter tydperk dit afbetaal sal word. Dalk werk dit op die duur billiker uit om jou lening te hou waar dit is.

Gaan dit my kredietprofiel beïnvloed?

Nee. Nie as jy ’n gewone rekening vir alledaagse banktransaksies oopmaak nie. As jy dit open om nuwe kredietkaartskuld te maak of ’n lening te kry, sal die skuld op jou kredietrekord wys.

Kry hier nog raad
Kom neem deel aan die gesprek