Dit word nie verniet jou groot dag genoem nie.

Die besluit om te trou is een van die grootste besluite wat jy in jou lewe sal neem – en die troue self kan duur raak.

Volgens tradisie is daar van die bruid se familie verwag om die meeste van die troukoste te dek, maar ál meer paartjies kies om vir hul eie troue te betaal en het buigsaam geword oor wie vir wat betaal.

Volgens ’n verslag deur die International Academy of Wedding and Event Planning betaal 68% van paartjies nou vir die meeste van die trou-uitgawes.

Jy kan natuurlik die geleentheid so groot of klein hou as wat jy wil, maar wat jy ook al besluit, om uit te pluis hoe jy daarvoor gaan betaal is ’n belangrike deel daarvan om die dag so gelukkig en stresvry moontlik te maak.

BESLUIT OP DIE SOORT TROUE

Die eerste ding wat jy moet doen, is om met jou maat te gesels oor die soort troue wat julle wil hê.

Verskillende verwagtings kan probleme veroorsaak, en hoe gouer dit bespreek word, hoe beter.

Om vir ’n troue te spaar verg tyd en ’n finansiële strategie, en verloofde paartjies moet oor die besonderhede praat – die venue, dekor, blomme, musiek en fotografie, om mee te begin.

Die idee van ’n droomtroue is wonderlik, maar julle moet onthou om ’n onderskeid te tref tussen wat belangrik is en wat net lekker sal wees om te hê, en wees bereid om mekaar tegemoet te kom. Besluit dan of julle gesamentlik vir alles gaan spaar of die uitgawes gaan deel en apart gaan spaar.

Praat ook eers met jul families om uit te vind waarvoor hulle sal kan betaal – moenie net aannames maak hieroor nie.

HERSIEN JOU BESTEDING

’n Gedetailleerde begroting en bepaling van jul besteding is noodsaaklik, sê Dhashni Naidoo, programbestuurder vir verbruikersopvoeding by FNB.

Jy kan eers sien hoeveel jy elke maand tot jul doelwit kan bydra wanneer julle dié stap gedoen het.

“Kyk na enige spandabele en onnodige uitgawes,” sê sy.

“Wegneemetes, vermaak en klere is byvoorbeeld uitgawes waarvan julle die geld in die spaarplan kan ploeg.”

Wanneer jy vir iets spaar, veral iets groots, is dit noodsaaklik om ’n gedetailleerde begroting te hê en daarby te hou.

VIND DIE REGTE SPAARPLAN

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Keer dat jy in die skuld beland deur versigtig te beplan hoe om vir jou troue te spaar,” sê Dhashni.

Daar is talle faktore om in ag te neem – hoeveel julle gaan nodig kry, hoeveel jy elke maand kan spaar om hierdie doelwit te bereik en hoeveel tyd jy het.

Voor jy ’n beleggingsproduk of spaarplan kies, dink oor wanneer jy die geld gaan nodig kry en watter opbrengs jy verwag, sê Mthobisi Mthimkhulu, ’n spanleier in die direkte en privaat kliëntespan by die Allan Gray-beleggingsbestuursmaatskappy.

’n Kennisgewingsrekening is ’n goeie idee, sê Dhashni, want dit beteken jy het nie onmiddellik toegang tot die geld nie.

Die feit dat jy die bank 30 dae kennis moet gee voor jy die geld kan trek, dwing jou om goed te beplan en sal waarskynlik verhoed dat jy jou spaargeld vir ander dinge as jou troue gebruik. Daar is talle spaaropsies, insluitend om in effektetrusts of aandele belê, sê Mthobisi.

Maar om by ’n bank te spaar is volgens hom waarskynlik die eenvoudigste opsie, want al is die opbrengs van ’n effektetrust of aandele dalk hoër, is die risiko daarmee ook groter.

“Jy deponeer die geld, en die bank beloof jou ’n sekere opbrengs ná ’n bepaalde tyd,” sê hy.

SKEDULEER MAANDELIKSE BETALINGS

Dit kan nogal ’n uitdaging wees om elke maand geld weg te sit.

Maak dit dus makliker en bly op datum deur outomatiese maandelikse betalings te reël van jou rekening na die spaarplan wat jy gebruik.

“Moet liewer nie self die geld oorplaas indien jy nie die selfdissipline het nie,” sê Dhashni.

“Dis te maklik om in die versoeking te kom om ’n maand oor te slaan. Gebruik dus aftrekorders of geskeduleerde betalings op jou bank-app.”

Hoeveel kos troues?

Daar is geen duidelike antwoord op die vraag nie, want dit hang af van verskeie faktore en kom neer op wat ’n paartjie wil hê.

Dit kan enigiets wees van ’n klein strandtroue met net ’n paar vriende en familie tot ’n skouspel van ’n onthaal met groot blommerangskikkings op elke tafel en 120 gaste.

Elke paartjie se begroting is anders, en alles draai om hoeveel jy moet bestee om te kry wat jy wil hê.

Hier is ’n algemene gids vir hoe troukoste volgens die troubeplanningswebtuiste theknot.com verdeel word:

  • 50% vir die venue, insluitend huurkoste, kos en alkohol
  • 30% vir die koek, fotografie, musiek, blomme en dekor
  • 10% vir trouklere en bykomstighede
  • 5% vir uitnodigings en tafelgeskenke
  • 5% vir allerlei of onvoorsiene uitgawe
Slim maniere om te spaar
  • Die trouvenue is gewoonlik een van die grootste uitgawes vir paartjies wat op trou staan. Jy kan die koste sny deur op ’n weekdag of in die winter te trou – trouvenues het dikwels buiteseisoense aanbiedings of afslag in hierdie tye.
  • Heroorweeg die datum en tyd. Hou ’n oggendtroue in plaas van die gebruiklike middagtroue. ’n Laat ontbyt sal waarskynlik minder kos as middag- of aandete, en jy sal ook baie op drank bespaar.
  • Moenie in die versoeking kom om die eerste trouverskaffer te kies net omdat jy hou van wat hulle bied nie. Dit help beslis om rond te kyk en pryse te vergelyk.
  • Volg trouverskaffers van wie jy hou in die sosiale media sodat jy ’n ogie kan oophou vir spesiale aanbiedings.
  • Gebruik tegnologie om geld te spaar deur die idee van peperduur ontwerpersuitnodigings te laat vaar. Jy kan ’n pragtige digitale uitnodiging stuur en die voordeel kry van gaste wat aanlyn kan laat weet of hulle gaan opdaag.
  • Betaal vir soveel moontlik van die uitgawes met ’n kredietkaart wat jou sekere voordele bied, soos belonings, kontantterug-aanbiedings of gratis vliegmyle. Maak seker jy betaal die rekening elke maand volledig af om ekstra tariewe te vermy.
Apps wat jou help spaar

Soek jy ’n manier om tred te hou met jou begroting en ’n spaarplan te skep? Wel, daar’s ’n app daarvoor.

Apps oor persoonlike geldsake is ’n nuttige, doeltreffende manier om jou begrotingsvaardighede te verbeter en jou beste- ding dop te hou.

Dit kan jou ook help om jou spaarplan op die regte spoor te hou, of jy ’n langtermyndoelwit het (soos aftredebeplanning) of korttermyn (soos ’n troue).

Hier is twee van dié soort apps wat die moeite werd is om te probeer.

22seven 

Hierdie gratis begrotings-en- beleggingsapp kan sinchroniseer met bankrekenings van ’n lang lys banke, insluitend Standard Bank, FNB, Nedbank, Absa en Capitec.

Dit kan ook met Suid-Afrikaanse winkelkaarte verbind word. Die app stel jou in staat om ’n begroting te skep en bestuur, tred te hou met besteding en geld teen ’n lae koste, belastingvry en aanlyn te belê.

Mint

Dit is ’n webgebaseerde geldbestuurapp wat jy op jou rekenaar of slimfoon kan gebruik. Dit stel jou in staat om te sien wat jy bestee en help jou tred hou met jou spaargeld en van jou rekenings.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.

Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-pos sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.