Met jou eie geld kon jy nog altyd maak net wat jy wil. Maar noudat jy getroud is of jy en jou liefie saam nesskop, staan sake anders. Skielik is daar iemand wat saam met jou besluit hoe jou swaarverdiende salaris bestee word, en dié nuwe paadjie kan vol duwweltjies wees.

Vir baie paartjies is hierdie kopskuif bloot ’n irritasie, maar by sommige waai die hare behoorlik.

Volgens die finansiële beplanner Warren Ingram, uitvoerende direkteur van Galileo Capital en skrywer van Become Your Own Financial Advisor, maak geld so ’n belangrike deel van die lewe uit dat jy en jou maat moet probeer om dit te bestuur asof julle in ’n professionele vennootskap is.

Hier is ’n tienpuntplan met kenners se wenke oor hoe julle die finansiële sy van jul verhouding doel-treffend kan laat werk.

1. Vergelyk en versoen jul geldbenaderings

Eers moet julle kennis dra van hoe julle elkeen geld hanteer, meen Warren. Mense se ingesteldheid teenoor geld verskil en in die meeste gevalle is een maat versigtiger en die ander een sorgeloser met die besteding daarvan.

Dit kan ’n teelaarde vir konflik wees.

Sorè Cloete, senior regsbestuurder by Old Mutual, beaam ’n verhouding kan ’n knou kry as maats nie dieselfde bestedingsgewoontes het nie.

Dis ook belangrik om jul benaderings tot skuld, inkomsteverskille en finansiële verantwoordelikhede jeens ander lede van die familie te bespreek.

Mense het ook verskillende benaderings tot beleggingrisiko’s en dit kan ’n probleem raak as een byvoorbeeld riskant optree terwyl die ander een dalk oorversigtig is, maan Warren.

2. Neem saam besluite oor finansiële doelwitte

Gesels openlik oor hoe julle elke aspek van jul geldsake benader sodat julle begrip vir mekaar se gewoontes sal kweek en ’n kompromis kan aangaan.

Pare moet oor gesamentlike finansiële doelwitte onderhandel en dan daaroor saamstem, benadruk Warren.

“Dit sluit in groot doelwitte soos om ’n nuwe huis te koop of ’n reis oorsee te beplan. Julle moet ooreenkom hoe elkeen reg-verdig daartoe sal bydra.”

Droom saam oor jul toekoms.

Lewensmaats moet ’n gesamentlike finansiële plan hê, beaam adv. Sue Torr, besturende direkteur van Crue Invest.

“Dis moeilik om gemotiveerd te wees om te spaar en te belê as jy nie weet waarvoor jy spaar nie. Droom saam oor jul toekoms en beraam saam planne om vir daardie drome te spaar.”

Dit is wenslik om saam ’n langtermynbeleggingstrategie te ontwikkel en dit is belangrik julle albei voel gemaklik daarmee, meen Warren.

“Byvoorbeeld, as julle in jul laat 20’s is, probeer saamstem oor wanneer julle sal wil aftree, waar julle sal wil woon en watter soort leefstyl julle teen daardie tyd sal kan bekostig.

“Daarvolgens kan julle bereken hoeveel julle nou behoort te spaar, wat julle aan luukshede kan bestee en hoe julle jul spaargeld behoort te belê.”

Hersien gereeld jul planne (halfjaarliks of minstens jaarliks) en kyk hoe julle gevorder het. Albei moet deel van die proses wees sodat julle mekaar verantwoordelik kan hou, reken Warren.

3. Een rekening of twee?

“Maats moet uit die staanspoor saamstem oor die bestuur van salarisse en bankrekeninge, oor wie verantwoordelik is vir die betaling van watter rekeninge en of julle ’n gesamentlike kredietkaart moet hê,” sê Sue.

Volgens die beleggingsbestuurders Prudential plaas sommige pare al hul geld in gesamentlike rekeninge, terwyl ander individuele begrotings, rekeninge en beleggings verkies.

Skuld kan die kwessie bemoeilik, veral as een maat die huwelik met ’n groot skuldlas betree.

Die twee strategieë kan ook in ’n “joune/myne/ons s’n”-benadering gekombineer word.

Heelparty pare voel die derde benadering skep die regte balans tussen “individuele selfstandigheid” en die bou aan ’n toekoms saam.

“Skuld kan die kwessie bemoeilik, veral as een maat die huwelik met ’n groot skuldlas betree. As ’n mens trou, kan jou maat se skuldverpligtings prakties jou probleem word, selfs al is dit nie regtens joune nie. Dis waar voorhuwelikse kontrakte ’n belangrike rol speel en kommunikasie en spanwerk belangrik is.”

Warren meen tradisionele finansiële rolle vir mans en vroue, byvoorbeeld waar mans die geld beheer en vroue die huishouding, is lankal bokveld toe.

4. Werk saam 'n begroting uit

Jul begroting behoort in verskillende kategorieë ingedeel te wees, byvoorbeeld huishoudelike en sakeuitgawes (as julle ’n onderneming het), en spaar en ontspanning, sê Ester Ochse van FNB Financial Advisory.

Sit een dag per maand opsy om persoonlike finansies uit te pluis.

“Maak seker julle hou jul maandelikse rekeninge, fakture en kwitansies in ’n boks vir persoonlike finansies.” Julle kan ook jul uitgawes en betalings deur middel van aanlyn bankstate naspeur.

Elke paartjie moet een maal per maand ’n dag opsysit om hul persoonlike finansies uit te pluis, is Ester se raad.

“Dit sal julle jul geldsake beter laat bestuur en julle help om jul begrotingsoogmerke, uitgawes en spaardoelwitte vir die maand vorentoe te bepaal.”

5. Onthou om 'n noodfonds te skep

Elke finansiële plan moet ’n noodfonds insluit wat groot genoeg is om drie tot ses maande se sleutel-uitgawes te dek, benadruk Sue.

Onverwagte uitgawes soos vliegkaartjies om skielik ’n siek ouer te besoek of die vervanging van duur motoronderdele kan ’n begroting knak as julle nie ’n paar duisend rand in so ’n fonds het nie.

Of dalk het een van julle eensklaps nie ’n werk-inkomste nie – dis iets waarvoor julle voorsiening moet maak.

6. Bepaal 'n bestedingsperk

“Stem op ’n bestedingsdrempel ooreen om te verseker een van julle raak nie ontsteld oor ’n aankoop nie,” sê Sue.

“Julle kan byvoorbeeld ooreenkom enige aankoop bo R1 000 moet eers bespreek word; standaard-begrotingitems soos elektrisiteit, kruideniersware en huur uitgesluit.

7. Speel oop kaarte met mekaar

“Dit sal finansiële verrassings, kontantvloei-probleme en verwyte help vermy.”

Sue meen daar is g’n vinniger manier om jul vertrouensverhouding te skend as om aankope vir jou maat weg te steek nie.

Wees eerlik oor geldnood.

Dis ’n soort geheimhouding wat jul verhouding groter skade berokken as wat enige aankoop ooit werd kan wees, sê sy.

Dis ook belangrik om eerlik te wees oor geldnood.

“Julle moet deurgaans met mekaar oor geld kommunikeer. Moenie jou finansiële probleme vir jou maat wegsteek nie,” maan Warren.

8. Tref betyds voorsorg

Party mense besef eers halfpad deur hul loopbaan hulle gaan nie genoeg geld vir hul aftreejare hê nie, sê Lynette Kloppers, uitvoerende hoof van FNB Premier.

Gevolglik moet hulle finansiële opofferings begin maak om vir tekorte te vergoed. Pare kan dus nooit te vroeg begin spaar vir later nie.

Volgens Warren is dit belangrik dat julle beplan en dokumenteer wat moet gebeur as een van julle sterf. Hy het al situasies teëgekom waar ’n paar saam ’n huis koop en die een voortydig sterf.

Die oorlewende maat moet dan noodgedwonge die huis verkoop omdat daar skielik net een inkomstebron is, wat onvoldoende is om die verband te betaal.

Daarom is ’n bygewerkte testament noodsaaklik en kan pare dit oorweeg om versekering op mekaar se lewe uit te neem.

9. Moenie dat ander julle van stryk bring nie

“Ekse, stiefkinders, bejaarde ouers en/of afhanklike sibbes het dikwels finansiële behoeftes wat spanning in ’n verhouding kan veroorsaak,” vertel Sue ons.

“Julle moet dus ’n strategie rondom sulke kwessies uitwerk.”

Besluit byvoorbeeld saam oor “hoe julle ’n eks se onredelike finansiële eise gaan hanteer, hoe julle gaan verseker kinders uit huidige en vorige verhoudings word regverdig behandel, hoe julle gaan toesien ’n broer of suster se geldnood bedreig nie jul aftreeplanne nie en hoe julle gaan reageer as jul ouers finansiële bystand nodig het.”

Sulke kwessies kan konflik veroorsaak as julle dit nie vroegtydig bespreek en tot ’n vergelyk kom nie, maan Sorè.

10. Beloon jouself

“Terwyl langtermyn-doelwitte noodsaaklik is, moet julle ook die kort- en mediumtermyndoelwitte vier wanneer dit bereik word,” sê Sue.

“Is jou motor klaar afbetaal? Vier dit dan by ’n lekker eetplek. Het jy ’n goeie bonus by die werk gekry? Belê die meeste daarvan, maar bederf julle ook met ’n wegbreek-naweek.”

Warren sê: “Maak ook seker elke maat het geld om aan hom- of haarself te bestee, byvoorbeeld vir persoonlike luukshede en stokperdjies. Maar probeer altyd verseker sulke besteding geskied regverdig.

Ekstra bronne: www.crue.co.za, prudential.co.za